Menu terloops
In Sepies [21 Jul 2026]

‘Suidooster’: 10 storielyne wat kykers sover vanjaar geruk het


Daar was lewensgevaarlike gesondheidskrisisse, onverwagse ouerskap, hartseer afskeidnemings, geheime verhoudings en skouspelagtige openbare vernederings – hier is die grootste ‘Suidooster’-wendings sover vanjaar.

Deur Redaksie
‘Suidooster’: 10 storielyne wat kykers sover vanjaar geruk het

Met 2026 al verby sy halfpadmerk het die inwoners van Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel, reeds meer as ’n ordentlike dosis hartseer, bedrog en omwenteling beleef om die hele jaar te vul.

Sommige karakters het ’n tweede kans gekry, terwyl ander ontdek het dat die verlede eintlik nooit heeltemal begrawe bly nie. 

1

Wade kies vir Zoë – toe onthul Angie dat sy swanger is

Suidooster, Junie-hoogtepunte, storielyne, kyknet
Min storielyne het kykers vanjaar so intens verdeel soos die toenemend ingewikkelde liefdesdriehoek tussen Wade (Dean Smith), Angie (Char Carrie) en Zoë (Lauren Joseph). Foto’s: Skermgrepe

Min storielyne het kykers vanjaar so intens verdeel soos die toenemend ingewikkelde liefdesdriehoek tussen Wade (Dean Smith), Angie (Char Carrie) en Zoë (Lauren Joseph).

Die jaar het begin met Angie wat haar lewe ná haar traumatiese ervaring met Tristan (Arno Greeff) probeer herbou. Deurentyd het haar vermoedens bly toeneem dat die boek oor Wade en Zoë se geskiedenis nog lank nie toegeslaan het nie. Sy was reg. Zoë se gevoelens het weer na die oppervlak gekom, eers deur ’n emosioneel belaaide skildery en later deur ’n onverwagte soen wat sy met Wade gedeel het.

Wade het Angie nietemin op ’n romantiese reis na Mosambiek geneem, wat haar laat glo het dat daar dalk ’n huweliksaanbod op hande is. Maar aan die einde van die dag het hy egter vir Zoë gekies. Net toe Wade en Zoë gedink het hulle twee kan weer van vooraf begin, het Angie ontdek dat sy Wade se kind verwag. Dié onthulling het ’n reeds onstuimige liefdesdriehoek in iets veel ingewikkelder verander.

Wade en Zoë het wel hul verhouding bekend gemaak en ook later verloof geraak, maar Angie se swangerskap het beteken dat hulle twee se toekoms nooit van Wade se verantwoordelikhede as pa losgemaak kon word nie. ’n Sosialemedia-veldtog met Wade en Angie het die spanning nog verder opgejaag. Dinge het ’n breekpunt bereik toe Angie in die hospitaal opgeneem moes word en Zoë vir Wade (weer) die trekpas gegee het.

2

Linda se baba verander Susan en Elana se lewens – en lei tot hul afskeid

Suidooster, Elana en susan
Dié drietal het Ruiterbosch verlaat om as gesin ’n nuwe hoofstuk in die Bosveld te begin.

Linda (Melissa Willering) se swangerskap het een van die jaar se mees emosioneel-belaaide storielyne geword. Nadat sy aanvanklik besluit het om haar baba te hou, met Bennie (Richard September) wat selfs voorgestel en aangebied het om die kind saam met haar groot te maak, het alles verander toe Linda weer haar aanvaller teëgekom het en al die onaangename herinneringe wat daarmee gepaard gegaan het, teruggekeer het. 

Omdat sy nie daarin kon slaag om die baba van haar eie trauma skei nie, het sy haar verhouding met Bennie beëindig en besluit dat sy nie die kind kon grootmaak nie.

Voordat sy na Johannesburg teruggekeer het, het Linda nog een laaste lewensveranderende besluit geneem: sy het vir Susan (Natasha van der Merwe) en Elana (Esther von Waltsleben) gevra om haar dogtertjie aan te neem. Hulle het ingestem en haar Bella genoem.

Ouerskap het Susan en Elana se toekoms spoedig ingrypend verander. Elana het Anker aan Wade verkoop, terwyl daar vir Susan ’n geleentheid opgeduik het om met die vestiging van ’n wildreservaat te help. Saam het die drietal Ruiterbosch verlaat om as gesin ’n nuwe hoofstuk in die Bosveld te begin.

3

Rhafiek se “oorinfeksie” word ’n stryd om sy lewe

Suidooster
Wat aanvanklik na ’n gewone oorinfeksie gelyk het, het in een van Rhafiek (Irshaad Ally) se mees angswekkende beproewings ontaard.

Wat aanvanklik na ’n gewone oorinfeksie gelyk het, het in een van Rhafiek (Irshaad Ally) se mees angswekkende beproewings ontaard. Toetse het gewys dat tuberkulose sy ore aantas en dat hy sy gehoor permanent kon verloor. Rhafiek het vir almal probeer wegsteek hoe ernstig sy toestand geword het, maar dit het sy werk by JPD begin beïnvloed.

Glyjakkals Nazeem (Irvine van der Merwe) het op sy beurt inligting wat hy deur Rhafiek bekom het, uitgebuit. Dit het daartoe bygedra dat JPD ’n belangrike saketransaksie verloor het. Rhafiek is uiteindelik afgedank omdat hy sy toestand geheim gehou het.

Die krisis het toe ’n selfs donkerder wending geneem. Rhafiek het ineengestort en is in ’n geïnduseerde koma geplaas nadat hy meningitis (breinvliesontsteking) ontwikkel het. Boonop het sy hart gaan staan en gelukkig vir almal, het die dokters daarin geslaag om hom weer by te bring.  

Terwyl sy gehoor nog verder verswak het, moes Rhafiek besluit of hy ’n eksperimentele operasie wou ondergaan wat sy gehoor kon herstel of hom permanent doof kon laat. Ten spyte van Kaashifa (Jawaahier Petersen) se vrese het hy met die prosedure voortgegaan – en sy gehoor teruggekry.

4

Amanda herontdek haarself – saam met Riaan

Amanda en Riaan, Suidooster
Die romanse tussen Amanda (Lindie Strydom) en Riaan (Daniel Coetzee) het byna onmiddellik komplikasies veroorsaak.

Amanda van Wyk (Lindie Strydom) het na Ruiterbosch teruggekeer, vasbeslote om nie weer terug te val in die veilige en voorspelbare lewe wat sy tydens haar huwelik met Mike (Anrich Herbst) gelei het nie.

Die gerespekteerde sielkundige en verhoudingskenner het ’n meer spontane kant van haarself begin omarm. Dié herontdekking het ook ’n onverwagse aangetrokkenheid tot Riaan (Daniel Coetzee) ingesluit, en hulle het in die geheim ’n verhouding aangeknoop.

Die romanse het byna onmiddellik komplikasies veroorsaak. Kate (Annelisa Weiland) het hulle sien soen, terwyl Amanda huiwerig was om die verhouding bekend te maak. Mike het ook na Ruiterbosch teruggekeer nadat sy eie verhouding tot ’n einde gekom het en hy het dit duidelik gemaak dat hy steeds gevoelens vir sy voormalige vrou koester.

Die grootste wending was egter dat Riaan uiteindelik sy verhouding met Amanda beëindig het nadat hy besef het dat sy gevoelens vir haar dogter, Frankie (Mienke Ehlers), nog nie verdwyn het nie. Amanda se gewaagde nuwe begin het diep verstrengel geraak in die onopgeloste romantiese geskiedenis van haar dogter én haar eksman.

5

Nazeem se liefdadigheidsprojek word as nog ’n magspel ontmasker

Dit het aanvanklik gelyk asof Nazeem (Irvine van der Merwe) ’n nuwe blaadjie omgeslaan het toe hy met Siya (Gantane Kusch) saamgespan het om ’n skuiling vir hawelose mense te stig.

Bridgette (Denise Newman) het onmiddellik vermoed dat sy liefdadigheidswerk eintlik ’n verskuilde sakeplan was. Haar vermoede is bevestig toe Nazeem grond bekom het wat JPD vir ’n ontwikkeling wou gebruik en hy het die skuiling ingespan om sy openbare beeld en politieke invloed te versterk.

Die geskil het Siya in ’n onmoontlike posisie geplaas tussen die behoeftes van die gemeenskap en Bridgette se waarskuwings. In ’n stadium het Bridgette selfs die kerk se toekoms op die bestaande perseel bedreig indien Siya sou voortgaan om met Nazeem saam te werk.

Siya het uiteindelik besef dat Nazeem hom gemanipuleer het. Hy en Bridgette het kragte saamgesnoer en vir Nazeem met ’n lokval rondom ’n ander eiendom uitgevang. Sy optrede is tydens ’n openbare mediakonferensie ontbloot.

Nazeem se munisipale projekte is gevries, terwyl Bridgette die kerkgrond aan Siya se gemeente geskenk het. Vir een keer het Nazeem se politieke skaakspel geëindig met iemand anders wat hom skaakmat gesit het.

6

Ruiterbosch word die toneel van ’n diamantkaperjol

Nie elke wending het om romanse of tragedie gedraai nie. Gary (Craig Adriaanse) het bevriend geraak met oom Willie (Pierre van Pletzen), ’n bejaarde inwoner met ’n kleurryke verlede. Hy het ontdek dat Willie en ’n voormalige kollega jare gelede diamante van ’n maatskappy gesteel het wat hulle geglo het hulle twee onregverdig behandel het.

Terwyl hulle van die polisie gevlug het, het hulle die diamante binne-in ’n standbeeld op ’n welgestelde persoon se eiendom versteek. Jare later wou Willie die edelstene terugkry sodat sy oorlede vriend se weduwee finansieel daardeur ondersteun kon word.

Gary, Angie en Wade is by die plan betrek en hulle moes in ’n baie grys gebied beweeg terwyl hulle die diamante probeer terugvind het.

Dit was ’n eiesoortige storielyn wat sosiale geregtigheid, vriendskap en ’n outydse rooftog vermeng het – en weer bewys het dat Gary selde ’n missie kan weerstaan, maak nie saak hoe bedenklik dit is nie.

7

Die Hollywood-held Hugo word in die openbaar ontmasker

Hugo (David Chevers) het met al die glans van ’n internasionale aksiefilmster in Ruiterbosch opgedaag. Gary en Justin (Eden Clasens) was veral beïndruk, en Justin het vinnig ’n verhouding met hom opgebou, een wat hy as opregte vriendskap beskou het.

Die glans het egter gou begin vervaag. Stories oor Hugo se gedrag op filmstelle, afsprake wat hy nie nagekom het nie en die manier waarop hy mense met minder mag behandel het, het aan die lig gekom. ’n Onthullende podsending en nog meer ernstige aantygings het ’n heel ander beeld geskets van die beroemdheid wat almal aanvanklik bewonder het.

Justin het Hugo langer as die meeste mense verdedig, maar die getuienis was uiteindelik te oorweldigend om te ignoreer. Saam met Frankie en Gary het hy gehelp om die ster in die openbaar te ontmasker.

Die oorwinning het egter ’n prys gehad. Justin se lojaliteit teenoor Hugo het reeds sy oordeel vertroebel en hom in sy eie skandaal laat beland. Die man wat hy as ’n held bewonder het, het byna Justin se hele lewe omvergewerp.

8

Mike en Lee-Ann gaan van vyande na geliefdes – en weer terug

Anrich Herbst, suidooster, mike
Mike (Anrich Herbst) het onmiddellik spanning veroorsaak nadat hy by JPD aangesluit het, veral met Lee-Ann (Portia Joel).

Mike het onmiddellik spanning veroorsaak nadat hy by JPD aangesluit het, veral met Lee-Ann (Portia Joel). Die twee se uiteenlopende werkstyle het tot voortdurende botsings gelei totdat Bridgette hulle beveel het om ’n manier te vind om saam te werk.

In ware sepie-styl het irritasie geleidelik in aangetrokkenheid verander. Hulle het mekaar se geselskap begin geniet, professionele grense oorgesteek en uiteindelik begin uitgaan.

Die verhouding het verbrokkel toe Lee-Ann besef het dat Mike se gevoelens vir Amanda nog nie heeltemal verdwyn het nie. Mike het ’n betekenisvolle plaat vir Amanda gekoop en toe Lee-Ann hom daaroor uitgevra het, het hy die waarheid onder ’n reeks leuens verdoesel.

Ná hul verhouding tot ’n einde gekom het, het die persoonlike konflik ook na die werkplek oorgespoel. Mike het Lee-Ann se handtekening op ’n belangrike dokument vervals en as gevolg daarvan kniediep in groot moeilikheid beland. Hy het uiteindelik besluit om by JPD te bedank.

9

Ava se dubbellewe bring rampspoed na Aalwyn Apteek

Ava Philips (Simone Neethling) en Nazeem (Irvine van der Merwe) se streke het uiteindelik tot die einde van Aalwyn Apteek gelei.

Ava Philips (Simone Neethling) het Ruiterbosch as die selfversekerde nuwe apteker by Aalwyn Apteek binnegestap. Kykers het egter reeds ’n ander kant van haar by Nazeem se pokeraand leer ken, waar sy as “Viper” bekendgestaan het.

Ava was intelligent, onafhanklik en feitlik die grootste gedeelte van die tyd verskeie skuiwe voor almal anders. Haar verhouding met Nazeem het soos ’n pokerspel ontwikkel, met opregte aangetrokkenheid wat voortdurend met misleiding, gevaar en bedenklike besluite gebots het.

Ná ’n motorongeluk waarin Nazeem beseer is, het sy soeke na sterker pynmedikasie toegeneem. Ava het vir hom medikasie verskaf wat sy nie moes nie. Nazeem het ’n geleenheid raakgesien om Ava te manipuleer en haar in te katrol by sy onderduimse bedryfwighede. Beide se gierigheid het hulle gedryf om met vuur te speel en hulle het dwelms vanuit die Oos Wes-apteek begin verkoop en selfs so ver gegaan as om dwelms te vervaardig. 

Mymoena het wel ’n rot geruik en begin ondersoek instel, maar die situasie het handuit geruk voordat die volle waarheid aan die lig kon kom. ’n Ontploffing by die apteek weens Ava se dwelmproduksie het letterlik en figuurlik skokgolwe deur Ruiterbosch gestuur.

Ava het ook besef dat Nazeem haar met van sy streke ’n rat voor die oë gedraai het. Nadat sy hom uitoorlê het, is sy vort met ’n klomp van sy geld. Hulle streke het egter die einde van ’n era in Ruiterbosch beteken, want die apteek was tot niet.

10

Kate ontdek dat haar familiegeskiedenis dalk op ’n leuen gebou is

Die jongste groot wending is nou besig om te ontvou.

Kate het haar familiegeskiedenis begin navors met wat aanvanklik na onskuldige nuuskierigheid gelyk het. In plaas daarvan het sy inligting ontdek wat eenvoudig nie sin gemaak het nie.

Ou foto’s van haar kinders het haar vermoedens versterk. Wat as bloot ’n belangstelling in haar herkoms begin het, het in ’n diep persoonlike soeke na antwoorde ontaard . . .

Die volle waarheid is nog nie bekend nie, maar die storielyn kan Kate se hele begrip van haar familie bevraagteken – en heel moontlik almal ná aan haar raak.


Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET en om 18:30 op kykNET & Kie uitgesaai. Dit is ook op DStv Stream beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies