Menu terloops
In Onderhoude [1 Aug 2025]

Wenner Hirome vertel: ‘Die brug’ is ’n ‘weerspieëling van my lewe’


“Jy moet net vertrou op God se tydsberekening. Jy gaan eindig waar jy moet wees. En jy hoef nie die sterkste of die grootste of die slimste te wees om waardig te wees nie. Wees net jouself. Volhard, wees aanpasbaar en veerkragtig.” Dís van die grootste lesse wat die wenner van ‘Die brug’ S2, Hirome Shigeaki, tydens dié reeks geleer het.

Deur Annelene Oberholzer
Wenner Hirome vertel: ‘Die brug’ is ’n ‘weerspieëling van my lewe’

Wow, Here, is my storie dan net een van verwerping?” was die gedagte wat deur ’n geskokte Hirome Shigeaki (27) se kop gemaal het toe hy sommer op die eerste dag van die tweede seisoen van Die Brug die Noordhuis moes verlaat. Dit, ten spyte daarvan dat hy net so hard soos die res van sy spanlede huis skoongemaak het en selfs die pos-kan gaan haal het.

Vandag is Hirome vir geen oomblik spyt dat dit met hom gebeur het nie. Ja, erken hy, daardie besluit van die Noordhuis-spelers het kleintyd se trauma in hom losgeruk van hoe hy as kind tussen huise en ook die Tulbagh-kinderhuis rondgepos is. 

Die brug S2
Hirome het gedink sy tyd op Die brug is verby… toe nie! Foto: Verskaf

Tot waar hy as 16-jarige deur Caylin en Denver Boks aangeneem is . . .“Jy twyfel aan jouself wanneer so-iets met jou gebeur,” vertel hy. “En wanneer jy anders as ander mense lyk, kan jy maklik ’n teiken word van diegene wat dalk nie die andersheid kan aanvaar nie.”

Toe besluit hy: “Here, laat U wil geskied.”

Waardige wenner en cheerful giver

Tot en met die finale episode van Die Brug op 31 Julie het Hirome tjoepstil gebly oor die afloop van die reeks. “My ouers het gisteraand tydens ons watch party eers uitgevind dat ek gewen het. Hulle was so trots op my. My ma het gehuil, my pa het my ’n druk gegee. Toe’t ons al drie sommer mekaar gedruk en opgespring en hande geklap.

“Dis die grootste geskenk wat ek vir hulle kon gee, hierdie produk van hul liefde. En my ma se woorde aan my was ’n ware riem onder die hart. Sy het vir my gesê dankie dat ek die regte ding gedoen het. ‘Die Here hou van cheerful givers’.”

Hirome het ook ’n lieflike boodskap van waardering vir die twee. “Dankie dat julle die kans op my gevat het. Julle het nie geweet wie of wat julle aanneem nie. As gevolg van julle tyd en liefde het julle iets in my raakgesien wat ek self nie  kon raaksien nie. Dankie vir my kans in die lewe – dat ek ook waardig is om ’n stukkie son in die lewe te kry.”

Die brug, Hirome
Hirome se ouers het eers saam met die res van ons uitgevind dat hy die een was wat oor die brug gestap het… Foto’s: Skermgrepe

Maar, erken Hirome met ’n laggie, hy was aanvanklik nie seker oor Caylin en Denver se aannemingsplanne vir hom nie. Sy was immers sy onderwyseres – en sy was streng! Hy het vir ’n rukkie by hulle gebly terwyl die Tulbagh-kinderhuis gesluit was. En toe word die rukkie vir hom sy altyd! “Alles het net so natuurlik gevoel. Soos met Suidhuis. Ek het my eie kamer, eie bed, roll-on, eie handdoek gekry,” en hier sukkel Hirome met sy emosies. 

En wie, vra hy, neem ’n kind aan op 16? Die antwoord ken hy self goed: “Here, laat U wil geskied”.

Sy biologiese pa

Hirome se pa het hom ongeveer drie keer gesien nadat sy ma oorlede is. En toe nooit weer nie. Sy tweede vrou het geweier om iemand anders se kind groot te maak . . . “Maar, dit was ook my persoonlike keuse om nie weer kontak met hom te behou nie. Familie is nie noodwendig bloedfamilie nie. Familie is die mense wat dáár is vir jou.”

Boodskap aan boelies

Hirome is op skool meestal verbaal geboelie, veral oor hoe hy lyk. Hy is van Afrikaans-Japannese afkoms en hy praat uitstekende Afrikaans.  “Ek het soos ’n seer vinger uitgestaan.”

Vandag staan hy ferm is sy oortuiging dat, alhoewel boelies se woorde diep sny, dit nie gaan bepaal wie hy is nie. “Om ander af te breek, gaan nooit vir jou waarde gee nie,” is sy boodskap aan boelies. Goedheid is my krag, geloof is my anker.”

Vriendskap

Hirome vertel dat hy waarskynlik langer as ’n uur op die boot was wat hom by Noordhuis kom haal het, toe hy die opdrag kry om sy blinddoek af te haal. Hy het ’n onderhoud verwag oor die einde van sy tyd op Die Brug, maar die boodskap was die allerlaaste wat hy verwag het: “Welkom by jou nuwe huis!”

Ek moes my eie paradys, my eie kasteel, bou met die klippe wat deur die jare na my gegooi is.

Hirome Shigeaki

Hirome was duidelik aangenaam verras met die warmte waarmee hy by Suidhuis verwelkom is. “Hier moes ek iets leer van my verlede. My reis. Ek is eerste uitgestem, en toe staan ek laaste,” vertel hy. 

Hirome is verstom oor hoe goed hy se medespelers leer ken het binne twee weke. “Niemand het hier ingestap as ’n titel of ’n beroep nie. Daar was een gemene doel en dit was om die brug te bou, ook ons eie innerlike brug. Om net mens te kan wees, is die beste geskenk wat jy aan ander kan bied,” sê hy.

Na afloop van Die Brug is hy en Hannes Roodt, ’n entrepreneur van Benoni, nie net vriende nie, hulle is soos broers! Net soos Hirome, het Hannes ook al verraad in eie geledere ervaar. Daar is ook ander raakpunte tussen hulle twee wat hierdie band nog sterker maak. “Die Brug is ’n baie goeie sosiale eksperiment. Ek het hier ryk kom word aan vriendskap en dis meer werd as die geld. Hulle is die mense wat daar gaan wees as die storms kom.”

Die brug, Hannes
Sy en Hannes Roodt se vriendskap het so gegroei hulle is nou soos broers, vertel Hirome.

Die “sterk een”

Wie dink hy was die sterkste persoon op Die brug? Sonder huiwering: Hanri Ehlers, advokaat en boer van Delmas, antwoord hy. “Sy’s baie sterk – en op die mooiste manier het sy my ’n bietjie geïntimideer. Sy is fisiek en emosioneel baie sterk. Ja, binne en buite. Dis dalk omdat sy ’n advokaat is,” erken Hirome.

En hy sê so tussen haar oënskynlike rustigheid deur hou sy mense fyn dop.

Die brug S2
Hirome meen Hanri was die sterkste speler.

Hoe verskil die Noordhuis en Suidhuis van mekaar?

Noordhuis se spelers was beslis baie gedrewe en doelgerig om geld te  maak. Daarenteen het hy Suidhuis se spelers as liefdevolle mense vol passie ervaar. “Hulle was meer soos ’n gemeenskap, die mense wat die klein goedjies raaksien, en omgee.”

Maar Hirome sê dat die verskil in ingesteldheid tussen die twee houthuise presies is wat in die lewe nodig is. Balans.

Die grootste kinkels

Daar was vir Hirome veral twee kinkels wat vir hom die sterkste uitgestaan het. Die eerste kinkel was natuurlik toe hy Noordhuis moes verlaat – maar teen sy verwagtinge in by Suidhuis beland het.

Die tweede grootste kinkel was die besef dat daar ’n groen toring is, die toring waar die skatkis gevind sou word. Kykers sal onthou hoe opgewonde die Suidhuis-span in die 12de episode was toe hulle eerste was om hul 100 vlotte te bou en die rooi toring bereik het. 

Toe die skok: Dis nie waar die skatkis is nie. 

Geldsake

“Ek het vir twee redes ingeskryf vir Die Brug. Eerstens was daar die finansiële beweegrede en tweedens, die geleentheid om my persoonlike brug oor te steek.”

Hy erken hy het nie geweet hoe hy die geld gaan deel nie. “Ek moes ook dink aan my eie realiteit wanneer ek terugkeer huis toe. Hierdie is ook nog ’n gesprek tussen my en God. Ek wil net die régte ding doen met die geld.”

In hierdie stadium oorweeg hy om die geld wat nou tot sy beskikking is, met sy spaargeld te kombineer en ’n deposito op ’n woonstel, dalk selfs ’n huis, neer te sit. “Dis iets wat ek sélf kan hê, iets wat ek nooit as kind gehad het nie.”

Hirome se laaste staan was langs die skatkis met al die kontant wat oor was van die aanvanklike R 1-miljoen pryspot nadat drie spelers elk R10 000 gekies het bó proviand vir hul span: Roscoe, Tiaan en Wilhrisca met Elsje wat R50 000 gekies het om slegs vyf vlotte van Noordhuis te laat verdwyn terwyl Lelani R100 000 gekies het om vyf vlotte van elk van die houthuise te laat verdwyn. 

’n Verdere R100 000 het van hand verwissel tydens onderhandelinge waar Suidhuis Noordhuis se vlotte moes koop om die groen toring betyds te bereik.

Van die R720 000 wat oorgebly het, het Hirome ruim seker gemaak dat elkeen van sy Suidhuis-spanmaats ook in die kontantvreugde kon deel – en nou het hy net so onder ’n halfmiljoen rand om planne mee te maak. 

Die brug, Hirome en Melissa
Melissa was verheug oor die geld wat Hirome met die span gedeel het.

’n Terugblik en die pad vorentoe

“Ek is baie tevrede met die spel wat ek gespeel het. Ek het nooit gejok of iemand om die bos gelei nie. Ek het ook geen beloftes gemaak nie. 

Maar, erken hy, as daar weer so ’n geleentheid opduik, sal hy beslis meer van sy persoonlikheid wil wys. Hy is ’n ekstrovert by uitstek, maar ook goed sinies wanneer hy mense eenkant sien gesels. Hirome sê hy moes maar op sy hoede bly tydens Die brug. “Ek sal my skouers ’n bietjie wil laat sak en minder stres – ek sal met die spel wil jol,” sê hy.

Jou verlede bepaal nie wie jy is nie. Jou keuse is wat jy daaromtrent gaan doen. Jy kan steeds opstaan, doen dit met integriteit en geloof. En wanneer jy val, val regop en lig jou ken, en ken jou lig.

Hirome Shigeaki

Drome is daar by die hope. Een van hulle is Survivor. Gee hom net ’n halwe kans en hy’s daar!

Hirome sê mense is nooit eintlik onbevoeg nie, maar net magtiger as wat gemeet kan word. Hy glo ook sterk aan nederigheid. “Dit gaan jou in plekke sit waaroor jy nooit kon droom nie. Ja, nederigheid gaan vir jou deure oopmaak en berge laat verskuif. Ek gaan my potensiaal gebruik om my spasie in die lewe in te neem. Ek wil ook ’n boek oor my lewe skryf en die titel sal wees: Bou ’n brug en kom daaroor.

“Ek moes my eie paradys, my eie kasteel, bou met die klippe wat deur die jare na my gegooi is. Daarom dink ek dalk aan ’n program waar mense hul eie brugbou-reis deel.”

Dis juis een van die redes hoekom hy arbeidsterapie as ’n loopbaan gekies het – om mense te help. “ ’n Stukkende kleurkryt kleur nog steeds in. Dit verloor nie sy kleur nie. Mense moet weer glo in hulself. Dit gaan oor daardie innerlike kind-ding. Jy moet jou ou wonde genees om aan te kan beweeg. Doen dit vir jou toekomstige self.

“Jou verlede bepaal nie wie jy is nie. Jou keuse is wat jy daaromtrent gaan doen. Jy kan steeds opstaan, doen dit met integriteit en geloof. En wanneer jy val, val regop en lig jou ken, en ken jou lig . . .”


Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

30

30 Afrikaanse flieks wat jy vir oulaas op Showmax kan kyk

Met Showmax se dae getel, gaan ons binnekort ’n groot gros Afrikaanse speelfilms, kortprente, reekse en dokkies op dié plaaslike stroomdiens moet groet. Maak dus ’n plan om vir oulaas een van die gewildste Afrikaanse flieks op Showmax te kyk.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Maart 2026

Daar is ’n meer-as-vriendskap-vonk tussen Uys en Nicolette en as Hannah verdwyn, is almal op hol. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Maart 2026

Rhafiek kry skokkende nuus wat die Samsodiens verpletter en Zoë en Angie begrawe – skynbaar – die strydbyl... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Maart kan uitsien.

Meer
As jy hou van tranetrekkers
13

Wat om te kyk: Die beste tranetrekkers om jou hart te ontdooi

Romanse? Check. Voorspelbaarheid (en tog ook nie). Check. Tranetrekkers? Check.

Meer
Sien alle opsies