Van die land se beste akteurs is te sien in Niggies, kykNET se eerste waremisdaadreeks. Daar is Tinarie van Wyk-Loots en Erika Wessels as twee ma’s wat hul dogters verloor. Beer Adriaanse as André, wat sy lewe daaraan wy om sy sussie en niggie se moordenaars te laat boet. Carel Nel as ’n polisie-kaptein wat dit sy lewenswerk maak om dieselfde te doen.
Die egtheid waarmee die gebeure uitgebeeld word en die impak van die moorde op die karakters het, word egter nie net deur die akteurs se spel of die regisseur bepaal nie. In die agtergrond werk belangrike elemente soos die stel-inkleding en kostuumontwerp subtiel saam om die inhoud so sterk as moontlik te help oordra en om dit nie net vir die akteurs nie, maar ook vir die kykers lewendig en werklik te maak. Elke uitrusting, of skildery teen die muur, dra by om die storie te vertel.
Visuele wêreldskeppers
In die geval van Niggies, wat in die sestigs en tagtigs afspeel, was Rocco Pool en Mariechen Vosloo onderskeidelik vir die produksie-ontwerp en kostuumontwerp verantwoordelik.
Die twee, wat getroud is en destyds saam drama studeer het, praat ’n soortgelyke kreatiewe taal. “Ek ken Rocco se styl en hy ken myne,” sê Mariechen. “Ons het dieselfde visuele smaak en ek dink ons benader projekte nogal dieselfde. Die kunsregisseur, produksie-ontwerper en kostuumontwerper moet só nou saamwerk. Jy moet alles in ag neem… Jy create eintlik saam. Want dit help nie ek trek ’n karakter op een manier aan, maar hy ontwerp ’n slaapkamer wat heeltemal van die kostuums verskil nie. Om ’n emosionele verbintenis met die karakters te maak, is vir ons albei belangrik en ons is bevoorreg om dit te kan doen.”
Hul werk, verduidelik sy, is om die visuele wêreld van ’n fliek, reeks of toneelstuk te skep.

“Die manier waarop ek altyd produksie-ontwerp beskryf, is om te sê dis alles wat jy sien wat nie ’n mens is nie,” sê Rocco Pool. “Ek besluit oor die estetika van die produksie. Dis ’n groot scope: van die kleurpalet tot die tandeborsels wat die karakters gebruik en die meubels, kunswerke, hoe die mure van vertrekke lyk… you name it, I do it.” Foto’s: Verskaf








‘Als wat nie ’n mens is nie’
“Die manier waarop ek altyd produksie-ontwerp beskryf, is om te sê dis alles wat jy sien (in ’n televisiereeks of in teater) wat nie ’n mens is nie,” sê Rocco. “Ek besluit oor die estetika van die produksie. Dis ’n groot scope: van die kleurpalet tot die tandeborsels wat die karakters gebruik en die meubels, kunswerke, hoe die mure van vertrekke lyk… you name it, I do it.”
Waar begin ’n mens om die produksie-ontwerp van ’n reeks soos Niggies te doen? “Dit moet seker by die teks begin, maar dis, in ’n sekere mate, ’n leuen. Vir my begin die produksie-ontwerp by die regisseur en sy visie,” sê Rocco.
In dié geval was dit Jaco Bouwer, met wie Rocco al ’n lang pad stap.
“Ek voel altyd veilig in Jaco se bekwame hande,” sê Rocco. “Hy is geniaal en volg graag sy leiding, maar soos ons aangaan, word dit ’n collaborative proses. Ek is mal daaroor om saam met hom te werk. Jaco noem homself in die eerste plek ’n regisseur, maar ek dink hy is ons land se voorste teaterontwerper. Hy is hiper-intelligent en weet presies wat hy wil hê, so teen die tyd dat almal aan boord kom, het hy reeds sy huiswerk gedoen en hy weet watter simboliek is worth pursuing. Hy is visioenêr.
“Buiten vir die performance, is Jaco baie visueel ingestel en teen die tyd wat die res van ons se werk begin, voel mens baie veilig, want jy weet presies wat jy moet doen. En tog is hy steeds baie oop vir idees en voorstelle.”
Details, details
Rocco laat die teks hom natuurlik ook lei.
“Ek breek dit letterlik toneel vir toneel af en maak seker ek het elke liewe prop wat die teks vereis. So ek begin met die broodnodige, en dan kan ek begin kreatief raak,” sê Rocco oor sy werksprosesse.
Die cast is ongelooflik, maar as ek iets opf*** gaan dit nie saak maak hoe hard hulle probeer nie… die wêreld wat ek skep, moet so eg soos hul performance wees. As niemand jou props oplet nie, beteken dit jy het jou job gedoen.
Rocco Pool
“Ná ek die teks vir Niggies gelees het, het ek sterk daaroor gevoel dat ons dit justice moet doen. So ons het almal nogal baklei daarvoor, of dit nou vir ’n bietjie meer geld, of moeite en tyd was. Ek dink almal wat betrokke was, het net gevoel ons kan nie kortpaaie vat met hierdie een nie. Dít kom alles van Jaco af, want hy vat nie kortpaaie nie. Sy werk het altyd ’n Europese gevoel, veral in terme van die gevoel wat die kinematograwe moet skep. Hy push almal om altyd net so ’n bietjie beter te wees en al het jy dan die beperkings van geld of tyd, dwing dit jou om slimmer te dink. Binne sekere beperkings, word daar kreatiwiteit gekweek. As dinge te maklik is, het jy eintlik al die stryd verloor.”
Getrou aan die tyd
Omdat Niggies gegrond is op ware gebeure, was dit vir Rocco krities om so getrou as moontlik aan die storie te bly. Die betrokkenheid van Willem van der Merwe, een van die vervaardigers, het hiermee gehelp. “Willem is familie van Petro en Issie en hy het dokumente en foto’s gehad wat ons gebruik het, maar ook Issie se briewe en dagboeke, wat fascinating was,” sê hy.
“Die internet help natuurlik ook baie en hoe meer ’n mens grawe, hoe meer visuele verwysings kry jy. Dit help ook dat ek so bietjie geskiedenis op skool en kunsgeskiedenis op universiteit gehad het. En ek is bevoorreg dat my ma, Birrie le Roux, ook ’n produksie-ontwerper is, so ek kon haar as fact checker gebruik.”
Die sestigs het hom op sy tone gehad, maar ervaring met flieks wat in die tagtigs afspeel, het gehelp om daardie tydperk effens makliker vas te vang. “Ek het gelukkig ook bietjie met die tagtigs te doen gehad toe ek gewerk het op Johnny is nie dood nie en Kanarie, wat my meer gemaklik laat voel het met hierdie tydperk.”
Dit verg kophou om seker te maak die stel-inkleiding is nét reg vir die tydperk waarbinne die gebeure afspeel. “Dit hou ’n mens op jou tone,” sê Rocco. “In sommige van die huise waarin ons geskiet het, moes ons elke liewe ligskakelaar gaan wegsteek of vervang. Want dis die tipe goed waarop jy uitgevang word en sodra die kyker iets uit plek sien, haal ek hulle heeltemal uit die (storie)wêreld uit en dan is dit baie moeilik om hulle terug te kry.
“Die cast is ongelooflik, maar as ek iets opf*** gaan dit nie saak maak hoe hard hulle probeer nie… die wêreld wat ek skep, moet so eg soos hul performance wees. As niemand jou props oplet nie, beteken dit jy het jou job gedoen. Dis ’n fyn balans, want jy wil jou sê sê met die wêreld wat jy skep, maar terselfdertyd wil jy nie aandag aftrek van wat eintlik belangrik is nie. En dit is áltyd die storie. My werk is om dit te ondersteun.”
‘Storie is alles’
Nes Rocco, begin Mariechen se proses om die kostuums te ontwerp by die teks. “ ’n Goeie draaiboek, met karakters wat goed ontwikkel is, is álles,” sê sy. “Dis waar Niggies vir my absoluut ongelooflik was. Ek dink ook die feit dat ek drama studeer het, sets me apart as kostuumontwerper, want ek het begrip van karakter en karakterontwikkeling. Wat mense elke dag dra, is ’n verteenwoordiging van hoe hulle elke dag voel en hulself aan die wêreld weergee.
“Dis vir my wonderlik om die karakters wat op papier geskep is, visueel te probeer skep en al is dit nie iets wat ek ooit gedink het ek sal doen nie, het ek dadelik lief geraak daarvoor.”

“Dis vir my wonderlik om die karakters wat op papier geskep is, visueel te probeer skep,” vertel Mariechen Vosloo. Foto’s Verskaf
Foto’s en vrae
Mariechen het ure se navorsing gedoen vir Niggies. “ ’n Mens lees altyd die draaiboek tot jy ’n totale gevoel kry van die wêreld: is dit ’n klein dorpie? Is die mense Engels of Afrikaans? Dit bepaal die visuele wêreld wat jy skep. Daar was eintlik min tyd vir die navorsing, net ’n week of wat, maar ek het in daardie tyd na baie familiefoto’s gekyk van my eie familie en vriende s’n.
“My ouers kom uit daai era, die sestigs. Ek is die jongste van vier kinders en my ouer broer, wat tien jaar ouer is as ek, is in die 70’s gebore. So my ma-hulle was vir my goeie verwysing van daai tyd.
Die uitdaging was veral om die jonger meisies, Petro, Issie en Henda, aan te trek in die sestigs. Issie en Petro was ook in so weird tussen-fase. Hulle was nie meer kinders nie, maar ook nog nie vroue nie. So om hulle nie te seksualiseer nie, maar ook nie soos dogtertjies aan te trek nie, was nogal ’n uitdaging.
Mariechen Vosloo
“Ek het ook bepaal wat die modes van daai tyd was deur boeke en die internet te gebruik. So jy kry eers ’n oorsig van die tipe snitte en style wat in die mode was daai tyd en dan probeer jy uitwerk wat Afrikaanse mense binne daai raamwerk sou dra.”
Sy analiseer elke karakter tot in die fynste detail. “Ek vra wie die karakter is, wat hulle agtergrond en status is. Ek love dit om deur kostuum presies te probeer uitbeeld wie die karakters is. Met Niggies, was die karakters natuurlik baie interessant. Teen die tyd wat ons fittings doen, gebeur interessante goed. Soms werk die klere wat ek gekies het glad nie op die akteurs nie, ander kere werk dit. Soms drop die pennie oor wie die karakter is eers tydens die fitting en ek en die akteur skep die karakter se visuele identiteit net daar.
“Sommige akteurs is baie spesifiek. Ander sê weer ‘I’m your canvas’. Ek het veral met Carel Nel die fyn detail geniet van sy karakter se voorkoms. Hy is baie professioneel, maar ook oop vir enigiets.
“Die uitdaging was veral om die jonger meisies, Petro, Issie en Henda, aan te trek in die sestigs. Ook vir André. Jy dink aan die sestigs met die ouer vroue en hulle beehives, maar daar was ook tieners en kinders met ander uitrustings. Issie en Petro was ook in so weird tussen-fase. Hulle was nie meer kinders nie, maar ook nog nie vroue nie. So om hulle nie te seksualiseer nie, maar ook nie soos dogtertjies aan te trek nie, was nogal ’n uitdaging.”
Trauma en verval
Een van die uitdagings van die Niggies-projek, was dat Mariechen moes uitbeeld hoe die karakters verander deur die loop van die gebeure. “Daar moes progression wees in hoe hul hulself uitbeeld aan die begin tot by die einde van die storie. Met van die karakters het ek baie kleur gebruik aan die begin en later meer muted kleure en meer florals aan die einde van die tagtigs.

“As jy Ousus (Erica Wessels) die eerste keer sien, is sy hierdie together vrou en dan deteriorate sy tot sy net leef in pajamas,” vertel Mariechen Vosloo oor dié karakter se metamorfose wat sy moes uitbeeld. Foto’s: Verskaf
Die twee ma’s, Marie (Van Wyk-Loots) en Ousus (Wessels), se metamorfose van voor tot na die moorde, was veral belangrik. “Hulle was altwee baie interessant vir my. As jy Ousus die eerste keer sien is sy hierdie together vrou en dan deteriorate sy tot sy net leef in pajamas. Marie se reaksie was anders. Sy het kwaad geword en toe eintlik afgesny van wat gebeur het. Sy het nie daarmee gedeal nie. Ek het veral die hartseer met haar kostuums probeer uitbeeld en ’n vaalgeit met haar kostuums uitgebeeld. ’n Mens sien hulle eintlik net in een uitrusting voor die moorde en dit was belangrik om hulle karakters baie sterk te establish in daardie tonele. Want hulle sou nooit weer dieselfde wees na die moorde nie.”
Respek en verwondering
“Daar was video’s van die moordtoneel en ongelooflik baie familiefoto’s tot ons beskikking,” vertel sy verder.
“Die projek het dus baie persoonlik geraak en dit was nogal heavy. Dit was my eerste job ná ek ’n babatjie gehad het. Hy was vier maande oud toe ons aan die reeks gewerk het, en dit was nogal intens. Maar die storie het my só gefassineer en ons wou dit respekteer, omdat soveel van die familielede nog leef. Mense se lewens is verwoes deur hierdie gebeure.”
Nou staan sy in verwondering oor die eindproduk wat die Niggies-span geskep het.
“Elke projek is anders en soveel faktore speel ’n rol. Daar is nooit genoeg geld nie en ook nie genoeg tyd nie.
“Met Niggies kan ek eintlik nie glo wat ons reggekry het nie. Dis iets ongelooflik.”
Niggies saai Dinsdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.
Gaan ook saam met ons agter die skerms op die stel van Niggies.