In Mevrou Fourie & Kie is Anita Fourie (Henriëtta Gryffenberg) besluit ná jare van roetine sy wil van haar man, die tandarts Barend (Deon Coetzee), skei. Haar tydsberekening is egter aaklig. Sien, hul dogter, Melissa (Luandri Reynders), los haar man, Quintin (Arno Greeff), nadat sy van sy ontrouheid uitvind. Op soek na stabiliteit trek sy terug huis toe… Presies toe Anita self probeer om haar lewe weer op koers te kry.
Dan daag Anita se ma, Tina (Elzabé Zietsman), ook onverwags op. Dié is uit die ouetehuis geskop. Skielik is daar drie sterk vroue, ’n bedorwe seun in sy laat twintigs, Barry (Luan Jacobs), en ’n oorblufte Barend onder een dak in Randburg – en dit gee chaos, botsings en skreeusnaakse oomblikke af. ’n Paar geheime kom ook aan die lig.

In die rolverdeling is ook Ilse van Niekerk as Phyllis Steyn, ’n sakevrou en Anita se vriendin, Neels Clasen as die nutsman Hardus de Ridder, en Liza du Plessis as Barry se meisie, Sherrie.
Henriëtta Gryffenberg keer terug na die kassie in die titelrol van die reeks. As aktrise is sy bekend vir Sonkring, Dominee Tienie, Swartwater en Binnelanders. Sy is ook ’n bekroonde draaiboekskrywer met, onder meer, die TV-reeks Dinge van ’n kind en die speelfilm Die dekonstruksie van Retta Blom op haar kerfstok.
Philip Nolte is die regisseur van Mevrou Fourie & Kie en het die draaiboek saam met Hélène Truter en Augusta Zietsman geskryf.
Die programkonsep is oorspronklik in 2023 by die heel eerste Silwermark tydens die Silwerskermfees voorgelê.
Mevrou Fourie & Kie begin op Sondag 19 April om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.







