Die 2026 Suid-Afrikaanse Film- en Televisietoekennings is oor twee aande, op 13 en 14 Maart, uitgedeel. Dit was weer eens ’n glansryke viering van die kreatiewe uitnemendheid en talent, voor en agter die kameras, wat die maatstaf vir uitsonderlike storievertelkuns stel. Van die grootste wenners by vanjaar se Saftas was MultiChoice, wat 48 toekennings ingepalm het in ’n wye verskeidenheid kategorieë, wat strek van realiteits-TV en draaiboekgedrewe inhoud tot dokumentêre en leefstylprogramme.
kykNET het 14 toekennings huis toe geneem – 15 as Erik Holm se spesiale eerbewys bygetel word. Holm is as uitnemende persoon met ’n gestremdheid vir sy spel in Binnelanders vereer. Dis die grootste aantal Saftas wat enige liniêre TV-kanaal vanjaar gewen het.

Magda Louw, wat deur Homebrew Films vervaardig word, het vier toekennings in die TV-komedie-kategorie ontvang, die meeste Saftas vir ’n kykNET-program. Vir hul spel in Magda Louw het Desiré Gardner die toekenning vir beste aktrise in ’n TV-komedie gewen, en Hannes van Wyk is as beste akteur in ’n TV-komedie aangewys. Dié reeks het ook vir beste regie en beste draaiboek in ’n TV-komedie gewen.

Anders akteurs in kykNET-programme het ook uitgeblink. Frank Opperman het vir sy rol in Nêrens, Noord-Kaap Deel 2 die Safta vir beste akteur in ’n TV-drama ontvang, en Tobie Cronjé het vir Pronk Primêr die toekenning vir beste akteur in ‘n TV-komedie opgeraap.
Die geliefde sepie Suidooster, wat verlede jaar ’n dekade op die kassie gevier het en deur Suidooster Films vervaardig word, het met twee toekennings weggestap – beste kunsregie en beste draaiboek.
Die gevierde regisseur Brett Michael Innes het nog ’n beeldjie ontvang – dié keer vir die Showmax-reeks Catch Me A Killer vir sy regie-werk. Die reeks is ook vir kunsregie in ’n TV-drama vereer terwyl Jabulani Mthembu ook vir sy toneelspel as byspeler erken is.

M-Net se White Lies het drie beeldjies opgeraap, waaronder een vir beste klank en een vir beste oorspronklike lied in ’n TV-drama deur Edward George King en Charl-Johan Lingenfelder.
Nog ’n M-Net-reeks, Reyka S2, is vir beste kinematografie en beste hare en grimering in ’n TV-drama vereer, en het ook een van die aand se grootste toekennings – beste TV-drama – opgeraap.
Plaasjapie se tweede seisoen is as beste kompetisie-realiteitsprogram aangewys en Elders: Ligtoringroete as beste leefstylprogram.
Niggies, wat verlede jaar op kykNET uitgesaai is, se Mariechen Vosloo is vir beste garderobe in ’n TV-drama vereer terwyl Pierre-Henri Wicomb met die toekenning vir beste oorspronklike klankbaan vereer is.
- Die volledige lys wenners is hier beskikbaar.