“You have to wonder why we choose to live in a place that we need to escape.” Michelle Pheiffer se Stacy Clyburn sê hierdie woorde aan haar boesemvriendin vroeg in Taylor Sheridan se nuutste reeks, The Madison. En oor die verloop van ses episodes – waarvan twee na aan 65 minute sonder advertensies strek – word dié sentiment telkens herhaal. Dikwels in die teks so subtiel verroom dat die eggo daarvan eers in latere tonele (of selfs ’n latere episode) land. Maar andersyds is dit ’n gesigsuitdrukking, of wye skote wat ’n anderwêreldse panorama openbaar. Dié toneel is egter waar Sheridan die reeks se deurdringendste konflik-kontras inlei met New York en die Madison River-vallei in Montana wat instaan as tasbare – en verwisselbare – manifestasies van onvergenoedheid én verlossing.
’n Ander sy van Sheridan
The Madison sou aanvanklik deel van Sheridan se alombekende Yellowstone-wêreld uitmaak (wat ook die trefferreekse 1883 en 1923, asook die nuwe reekse Marshals en Dutton Ranch insluit), maar sedertdien is daar moeite gedoen om dit as ’n losstaande storie te bemark. Dalk doelbewus om afstand te skep van die noodwendige verwagtinge wat sedert Yellowstone se 2018-debuut ontstaan het. Want dié is nie ’n tipiese Sheridan-vertelling nie.
Sheridan is hier soos ’n lui kat wat sy hele lyf in ’n sonkol uitstrek. Dis ’n veel meer intieme vertelling, ’n verhaal wat stilweg amok maak, eerder as met geweld en allesoorheersende magstryde. Dis nie te sê die karakters is nie bloedbedrup as die eindtitels ná die slotepisode speel nie. Maar dié wonde, teer en seer en diep en ongenaakbaar, is eerder innerlik van aard. Eers weggesteek, later nie.
Dié is ’n karaktergedrewe vertelling, fynbesnaard, geduldig en gedryf deur kontras. Soos ’n amperse argeologiese opgrawing van ’n gebroke familie se beendere wat van jare en jare se grond en stof en wortels en en en bevry moet word. Juis daarom is dié lydsaamheid ’n nodige vertrek vanuit Sheridan se bestaande oeuvre om die aard van die storie, een wat wentel om ’n gesin se noodsaaklike transformasie, as beide ’n eenheid en elk afsonderlik, gestand te doen. Ná elke episode is nog ’n bietjie meer van die Clyburns-vonds losgewikkel soos een laag na die ander weggevee word. En daar is bitter, bitter baie lae hier. The Madison is immers ’n oorvloedige emosionele storie, soveel so dat die ses episodes te min voel vir alles wat gevoel moet word.
Elke huis het sy kruis
Tematies berus Sheridan hom op ’n raamwerk wat hy goed ken: Elke huis het sy kruis; verlies is onafwendbaar en vernietigend; rou is ewigdurend en ewe vlietend as allesoorheersend; verandering is noodsaaklik; en perspektief is ’n rondomtaliedans wat noodwendig jou wese en bestaan dryf. Die ontkleding van disfunksionele familiedinamikas en alles wat daarmee saamgaan, is bekende kos vir Sheridan, maar dis juis omdat die vertelling so karaktergefokus is dat dit op ’n veel meer menslike en praktiese vlak, in die alledaags, eerder as teoreties of bloot metafories, vir kykers sal raakvat.

Hier kom ontworteling veral sterk deur. Wanneer die Clyburns in Montana aankom, is hulle heeltemal uit hul diepte uit. Hulle is, as’t ware, vasgevang tussen twee wêrelde soos hulle probeer om hul lewens in New York te versoen met hul ontdekkings in Montana. Maar dis nie net die omgewing wat wildvreemd is nie – dis ook die weergawes van hulself wat hulle hier ontmoet. Niks, werklik niks, is mos ooit soos dit lyk op die oppervlak nie.
Visuele akkoord
Christina Alexandra Voros, ’n gereelde Sheridan-kollega, is hier nie net die kinematograaf wat visueel toor nie – sy is ook die reeksregisseur. Saam-saam skep hulle ’n hele nuwe taal vir storievertel. Soos Voros tussen die Clyburns se luukse bestaan in Manhattan en die landskap van die Madison River-vallei beweeg, belig sy nie net bloot die kontras tussen die glastorings en beknoptheid van die stad en die oop prag van die Montana-hemele nie. Haar skote – en regie – is nougeset en beslis. Dis deurdrenk met rede. Vanaf die eerste toneel, met die lig wat oor die water se rimpels bons, sê sy vir die kyker: “Álles hier maak saak, wakker wees, gee aandag.”

En aan niemand moet jy meer aandag gee as aan Michelle Pheiffer se Stacy nie. Haar emosies is geheel en al op skou soos sy met haar hele lyf en wese speel. Daardie emosionele welwillenheid, die deursigtigheid waarmee sy vorentoe ploeg, maak hierdie van haar beste werk van haar hele loopbaan. Meer as dit speel sy met ’n ongelooflike beheer – daar is ’n noukeurigheid wat verhoed dat haar tonele ooit as melodramaties ontvou. Sy verlustig haar in die kleiner oomblikke wat vir haar karakter geskep is, terwyl sy oorgee aan iets buite haarself vir die groter draaipunte. Juis daarom kan sy geloofbaar skuif van vlymskerp na bitsig na ’n stille gebrokenheid na ’n luidkeelse hartseer. Sheridan se skryfwerk maak ook ruimte daarvoor – hy het iets geskep waaraan sy haarself kon toewy en sy omarm dit met ’n begrip gevoer deur lewe.
Meesleurende medesterre
Pheiffer is meesleurend op die skerm. So ook Kurt Russell, as die charismatiese patriarg wat haar so, so, so liefhet, Preston Clyburn. Hul liefde is ’n gemaklike een, een met tasbare chemie en met geweldige toegeneentheid wat net kan kom van ’n lang verhouding vol inside jokes en ’n geskiedenis wat net soos nodig met die kyker gedeel word.
Saam het hulle twee dogters, Abigail (Beau Garrett) en Paige (Elle Chapman), wat wêreld van mekaar verskil. Patrick J. Adams as Paige se man, Russell, onthul ’n anderste speelwyse vir hom. Onder die ander karakters is daar ook Lost se Matthew Fox as Preston se broer, Paul, en Kevin Zegers as buurman Cade (dalk die menslike gestalte van die goedheid self).

Resensente is ’n lang lys gegee van alles waaroor ons nie mag skryf nie. Meer oor die karakters of oor die storielyn self kan ek nie vertel sonder om vir jou te ontneem van ’n waarlike besonderse ontvouing nie.
Ek laat julle dus met dié: Die reeks is, kaal uitgetrek, oor hoe een enkele gebeurtenis jou hele lewe kan omverwerp. Soos geheel en al. Binne en buite en al die pad in en om. Dan is die geraamtes alles uit die kas en op die vloer en in stukke en intussen het jy ook bloedneus gekry. En jy alleen moet dít alles bekeer – al het jy geen idee hoe nie.
Vanaf Maandag 16 Maart 2026 om 21:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101). Die tweede seisoen van die reeks is ook reeds verfilm.