In 1966 is twee twaalfjarige niggies, Issie Fourie en Petro Nel, in die rustige dorpie Odendaalsrus in die Vrystaat ontvoer en vermoor. Issie se broer, André, het gesweer om alles in die stryd te werp om die skuldige aan die pen te laat ry – ’n veldtog wat nageoeg 20 jaar sou neem. En nou is dié meevoerende, tragiese ware verhaal deur ’n gedugte span – voor en agter die kameras – in ’n TV-reeks, Niggies, omskep.
Die storie én spelers
Hoewel Niggies se storie in 1966 begin, strek die vertelling oor die 1960’s en 1980’s, met ’n rolverdeling wat ’n versameling bekroonde, veteraan- én nuweling-akteurs insluit. Daaronder tel Beer Adriaanse, bekend vir reekse soos Hotel, in die rol van die ouer André. Die talentvolle nuweling Janru Steenkamp speel die jong André.
Carel Nel (Koek, Spinners) is kaptein At van Wyk wat die ondersoek lei. Tinarie van Wyk Loots (Dwaalster, Fynskrif) en Jacques Bessenger (Koek, Een keer om die son) speel Issie (Lane Vertue) se ouers, Marie en Dries Fourie. Neels Clasen (Getroud met rugby, Legacy) en Erica Wessels (Dwaalster, Donkerbos) is Petro (Izebella Louw) se ouers, Henning en Ousus. Petro se ouer suster, Henda, word as 17-jarige deur Anja Taljaard (Juffrou X, Een keer om die son) vertolk. As 35-jarige word sy deur Cintaine Schutte (Dinge van ’n kind, Wyfie) gespeel. Albert Pretorius (Donkerbos, Nêrens, Noord-Kaap,) en Roeline Daneel (Fynskrif, Spooksoekers) is Gustaff en Maks Fouché – familie van die slagoffers.
Die reeks se regie is deur die veelbekroonde Jaco Bouwer, bekend vir flieks soos Gaia en die internasionale trefferreeks Spinners. Niggies is vervaardig deur Wolflight Films, met Roelof Storm (Kanarie, Poppie Nongena) as uitvoerende vervaardiger. Die bekroonde Saartjie Botha en Philip Rademeyer het die draaiboek geskryf.
Hier is wat agter die skerms op die stel van dié dramareeks gebeur het (alle foto’s deur Wolflight Films verskaf):
Niggies begin Dinsdag, 25 Maart om 20:00 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144). Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees.