Die transformasie van Binnelanders se ongevalle-eenheid bring ’n moderne, cutting edge voorkoms na die gewilde hospitaaldrama, wat ooreenstem met die gevorderde tegnologie wat ’n mens in ’n regte, moderne hospitaal sou verwag.
Met tegnologie wat voortdurend ontwikkel en die wêreld om ons deurdring, het die Binnelanders-span besluit dis tyd om hierdie veranderinge ook op die skerm te weerspieël.
Ons het met Human Stark, een van die mede-vervaardigers van die reeks, gesels oor die kreatiewe besluite, die ingewikkelde proses agter die opgradering, en wat dit verg om ’n geliefde TV-stel te herontwerp. Stark deel ook waarom nou die perfekte tyd was vir dié skuif, en gee insig in die spanwerk, tyd en innovasie wat ingespan is om hul visie te laat realiseer.
Voor…


Kykers het onlangs gesien dat Binneland ’n nuwe ongevalle-eenheid het. Hoekom het julle besluit om dit juis nou te doen?
“Ongevalle-eenhede in privaathospitale is die afgelope paar jaar geweldig gemoderniseer, onder meer danksy nuwe tegnologie en toerusting. Om ‘by te bly’, het ons besluit om die stel van Binnelanders se ongevalle-eenheid diensooreenkomstig aan te pas – ons wil nie oudmodies en uit pas met die werklikheid lyk nie!”
Waar begin die idee om ’n stel te verander of om ’n nuwe een te bou? En wie is almal betrokke?
“ ’n Groot span kundigheid is nodig uit alle dissiplines van die produksie. Die draaiboekafdeling, kunsregisseur, garderobe, beligtingtegnici en regisseurs moes almal kers opsteek by hoe ’n moderne ongevalle-eenheid in die werklike lewe daar uitsien en werk. Die Johannesburg Surgical Hospital het uit hul pad gegaan om ons te help.
“So, ’n groot stel-verandering neem van ses maande tot ’n jaar om tot uitvoer te bring. En natuurlik moet die oorgang van die ou stel na die nuwe stel storie-gewys vir ons kykers sin maak, so dit verg deeglike beplanning.”
Hoe naby is die stel se ontwerp aan dié van ’n werklike ongevalle-eenheid?
“Die nuwe stel se ontwerp en look is so na aan die werklikheid as wat ons kan weergee – vir alle kykers, of hulle nou medici is of nie.”
Hoekom is dit vir julle so belangrik om outentiek te wees en om so naby as moontlik aan die real deal te kom? En hoeveel kan ’n gemiddelde stel se transformasie kos?
“Om Binnelanders se geloofwaardigheid te behou, maak ons seker ons stelle is so outentiek as moontlik. Soos met enige bouprojek kos die eindproduk altyd meer as wat jy gedink het dit gaan kos…”
Hoe lank het dit jul kunsafdeling gevat om al die mediese props in die hande te kry? En doen julle elke nou en dan subtiel veranderinge in plaas van ’n groot transformasie?
“Dit het ons kunsafdeling maande geneem om al die mediese toerusting en props te bekom. Sekere toerusting het ons aangekoop by die verskaffers van mediese toerusting aan hospitale. Ander goed het ons self gebou om koste te bespaar.
“Ons doen soms subtiele stel- en props-aanpassings as dit nodig raak, maar die oorbou van ’n stel doen ons slegs wanneer die stel uit pas begin raak met die werklikheid. Kykers kom so ’n groot verandering uit die aard van die saak dadelik agter en hou nie terug om kommentaar te lewer op Binnelanders se sosiale media nie.”
Na…






Soos tegnologie oor die jare verander en nuwe produkte binne die film- en televisiewêreld beskikbaar word, hoe het dit jul proses verander wanneer dit by stelle kom? Of is dit maar dieselfde proses wat julle al vir jare gebruik?
“Soos in die geval van enige suksesvolle onderneming, pas ons aan soos die tegnologie ontwikkel en beskikbaar raak. Met die nuwe ongevalle-stel kan ons byvoorbeeld nou op ’n daaglikse basis die illusie skep dat ons deur die vensters sien wat in die buitewêreld aangaan.”
Wat word van die ou ongevalle-stel, noudat daar ’n nuwe een is?
“Ons gooi niks weg nie! Die agterkant van die ou ongevalle-stel se muurpanele word vir ander stelle gebruik. Die res herwin ons as boumateriaal en skep iets heeltemal nuut daarmee.”
Wat sal kykers die meester verbaas van die nuwe ongevalle-stel?
’n Ateljeeproduksie soos Binnelanders word binne die vier mure van ’n ateljee opgeneem. Met die nuwe ongevalle-stel bring ons nou die buitewêreld binnetoe deur buiteskote deur ’n green screen in te span.

Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.