Carmen Niehaus se gas in vandeesweek se episode van Lekker en goed is die Namibiese akteur Gideon Lombard nie. Kykers sal hom natuurlik herken vir sy verskynings in The Tree, Black Sails, Nêrens, Noord-Kaap en Suidooster.
Een ding staan uit soos ’n paal bo water en dit is dat daar later heerlik met hierdie vis gewerskaf gaan word in Carmen se kombuis.
Namibië se sand en Carmen se spritzer
Carmen is gek oor ons pragtige buurland en sê sy het ’n baie besonderse verhouding met dié land. Dis boonop ’n plek wat sy al male sonder tal besoek het. Maar hoe is dit om werklik daar te bly? Natuurlik gaan sy Gideon goed daaroor pols. Maar eers . . . ’n ietsie verwelkomend in die hand. Dit is Carmién Tea se Passion Peach-rooibostee met appelsap, dan ’n paar grenadellas daarmee saam.

Gideon raak al hoe meer opgewonde want hy is gek oor tee én grenadellas, alhoewel laasgenoemde nie juis volop in Namibië is nie. “Sand is ons hoofproduk in Namibië,” laat hoor hy.
Lemmetjiestroop (cordial) en vonkelwater voltooi Carmen se grenadella- en perskespritzer, ’n verfrissende nie-alkoholiese drankie perfek vir warmer dae.
Die ‘scenic route’
Dis hoe Gideon sy reis van Namibië wat sedertien ver paaie gevolg het, beskryf. Hy het daar grootgeword, maar sy matriek in Amerika behaal. Sy ouers was akademici, en elke keer as hulle iewers gaan klasgee of navorsing doen het, het die familie saamgepiekel. “Ek is ’n bietjie soos ’n army brat, maar altyd by ’n biblioteek eerder as ’n army basis,” vertel hy.
Tog keer hy elke keer terug na ons buurland, en beplan juis weer ’n besoek daar om weer die wortels te verfris.
Brood en slim pak
Carmen het weliswaar ’n groot liefde vir Namibië, ongeag watter streek. Van hul kamp-avonture daar het haar genoodsaak om slim te pak om met die minste goed oor die weg te kom. En dis waar die geliefde brood tot die redding kom. “Dis dan wanneer ek half so altyd daai tipiese bierbroodjie-ding gemaak het, heerlik so oor die vuur,” sê sy. Dis ook vandag op die spyskaart, maar dit gaan ’n bietjie anders wees as haar kamptyd-broodjie.
Sy stel Gideon gerus dat die bierbroodjie steeds die nostalgie gaan oordra, maar net ’n bietjie anders opgekikker wees.
Semel-potbrood vir ’n safari
Carmen sê dis ’n maklike broodjie om te maak, een wat jy maklik kan inpak vir ’n safari in ons buurland.
Stingeluie en kaas vorm die basis en dis karringmelk wat haar geheime wapen is vir heerlike struktuur. Dié broodjie kan met dieselfde gemak op die kole as in die oond gebak word.
Wat gaan met die vis gebeur?
Gideon kan nie sy nuuskierigheid in toom hou nie. Hy was immers by toe die kopie op die kaai plaasgevind het, maar Carmen het tot nou toe nog nie verklap wat sy daarmee gaan aanvang nie. “Hy moet net weet dit gaan lekker wees. En dit gaan goed wees,” lag sy.
Maar sy besluit om hom tog meer te vertel. Volgens Carmen is hierdie vis die basis van wat sy as ’n Namibiese potjie beskryf. Die inspirasie daarvoor is afkomstig van die Portugese wat van Angola na Namibië gekom het en daar verskeie restaurante tot stand gebring het.
Op die spyskaart
Carmen gaan Gideon se hart huiswaarts laat verlang met haar Swakop-seekospot. Haar basis vir enige pot of vleisgereg is natuurlik uie en knoffel. Maar wat sy nie raad voor het nie, is Gideon se vraag oor hoe uie gesny kan word sonder dat sy oë traan . . .
Terwyl die geur van die uie en speserye die lug vul, wil Carmen weet wat Gideon se gunsteling-onthou is van Namibië. “Een ding wat ek baie mis van Namibië is die sin van gemeenskap. Ek weet nie nou hoeveel mense daar is nie [3 miljoen aldus Carmen], maar toe ek daar weg is, was daar 1,5 of 1,6 miljoen,” vertel Gideon.
Hy sit gou handjie by om die bottel Piekenierskloof Grenache Noir (2023) oop te maak terwyl Carmen nog hier en daar bestanddele by haar seekospot voeg. Kort voor lank word die deksel opgesit en die pot prut hoorbaar. Sy handig intussen die mes aan Gideon oor om die visgrate te verwyder en mote te sny. Hy het goeie kennis van hoe om met vis te werk want hy het destyds tydens sy skooljare in Princeton, New Jersey, by die plaaslike vismark gewerk.
Die vis wat Carmen gekies het, is ’n geelstert want dit is ’n stewiger vleis. Daarenteen is stokvis ’n sagter tipe vleis en is dit dus nie geskik vir die bredie wat sy beoog nie.
Waarom kos vir Carmen?

Gideon wil weet waar Carmen se nuuskierigheid rondom kos vandaan kom. Sy vertel dat sy en haar tweelingsussie, Mientjie, (hulle is die oudste kinders) op die plaas grootgeword het. Haar pa was ’n boer en haar ma het ’n B.Com-graad gehad. “Sy was nou hierdie vreeslike syfermens en toe ons universiteit toe moes gaan, toe gaan swot ons toe nou altwee B.Com, jy weet,” vertel sy. Maar een van die klasse het haar spoed gebreek en sy’t net besluit dis die einde van haar somme maak.
Sy het by haar neef gaan aanklop vir raad – en sy advies was dat sy óf landbou moet gaan studeer óf iets moet gaan leer oor dit wat groei op die plaas en dit waarmee daar geboer word. “Op die ou einde toe kies ek nou huishoudkunde, maar ek sê nie vir my ma-hulle niks of enigiets van die aard nie. My sussie bel toe lateraan huis toe en oor die foon sê sy sy weet nou nie, maar ek het net verdwyn van die kampus af en sy’s nou baie bekommerd want ek is nowhere to be seen.”
Wat kom nog in die pot?
Mossels, steurgarnale en die heerlik-gebraaide geelstert word nou een na die ander by die pruttende pot ingegooi. As Carmen die woord “seekos” gebruik, dan kan jy maar weet daar gaan baie seekos ingespan word.
Wanneer alles in die pot is, word die deksel weer teruggesit en dan stoom die hele kaboedel tot sag en gaar en natuurlik ook sodat die geure in die pot heerlik kan ontwikkel.
Maar daar’s nog . . .
Gideon glo in hierdie stadium waarskynlik dis die einde van die kos-avontuur in Carmen se kombuis. Nee, vergeet dit, sy het nog baie p(l)anne. Wat is dan nou meer eie as koffie en beskuit? Dit is vir haar die belangrikste om in te pak as daar ’n rit na Namibië beplan word. Gideon stem saam, maar noem dat sy ouers ook gek oor tee is en dat daar altyd ’n ritueel rondom tee-tyd in die huis was.
Soms was dit tee en koekies, koffie en beskuit . . . maar daar was altyd ’n gebakte pasmaat vir die twee warm drankies. Carmen maak vir Gideon ’n deluxe-neutbeskuit. Sy verkies steengemaalde meel vir haar beskuit. Sade word bygevoeg vir proteïene en omega 3’s, maar aansienlik minder suiker as in die verlede. Bosbessies (cranberries) vervang die behoefte aan suiker.
Klapperolie vervang margarien of botter. Dit help dat die beskuit bros is maar nie so maklik breek nie.
Die blou tafel
Pragtige Delft-tafeldoeke, blou kerse, wit tulpe en Carmen se disse in ewe mooi blou borde opgeskep. Mooier as mooi, en alles wat voorgesit word, gaan sommer ekstra lekker proe.

“Dit voel vir my soos vakansie in Namibië hierdie,” kom dit van Gideon terwyl hy een happie na die ander van Carmen se seekospot geniet. “Die geure hierin, dis so ongelooflik vars, dis lig,” loof hy haar dis. Vir hom voel dit ook dat die tipiese ryk en swaar aanbieding van ’n seekospot met room beslis nie hier gemis word nie.
Wat nog?
Vind uit hoe Gideon dit reggekry het om die groot vraag in Turkye te vra . . .
Lekker & Goed se resepte word op Vrydae op terloops gepubliseer.
Lekker & Goed saai Donderdae op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) om 17:30 uit. Episodes is ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar.