Met die eerste oogopslag gaan dit goed met Maria (Maria Doyle Kennedy) as die eerste episode van Recipes for Love and Murder se tweede seisoen begin ontvou. Haar lewe het ’n gemaklike en voorspelbare ritme ingeneem; die romanse begin (uiteindelik) blom tussen haar en die polisiehoof Khaya (Tony Kgoroge) en die briewe bly inrol vir haar hartsake- en resepterubriek in die plaaslike koerant.
Boonop het die polisie-sirenes sedert die gebeure in die eerste seisoen nog nie weer geblêr nie en in Eden is die grootste geskinder op die dorp oor wie die nuwe eienaar van die supermark is en wie gaan handopsteek om burgermeester te word.
Maar, soos dit ’n goeie “cozy murder mystery” soos dié betaam, val alles eensklaps uitmekaar wanneer ’n vuur ’n groot deel van dié Karoo-dorp verswelg en ’n prominente lid van die gemeenskap vermoor word. Boonop daag Maria se skoonfamilie uit Skotland op en ruk die mat onder haar rustige bestaan uit. Die gemoedelikheid van die bekende, geurige bestanddele waaraan kykers in die eerste seisoen gesmul het, is steeds daar. Maar hierdie keer het die geurprofiel ’n paar donker, onverwagse bestanddele bygekry. Nét “cozy” is dit beslis nie.

Driegangmaal
Die reeks is nes ’n driegangmaal, met verskillende teksture en smake wat jou op jou tone hou. Aan die een kant word ’n mens met sommige skote weggevoer na die surrealistiese, pastelkleurige platteland danksy die kostuumontwerp (Sulet Meintjies), kunsregie (Andrico Goosen) en stelontwerp (Isak van Zyl). Dis mooi en snaaks en die karakters is terselfdertyd bekend én ’n tikkie eksentriek, soos in ’n sagtebandboek wat jy in Desember op die strand sou lees, en nes in Sally Andrew se boeke, waarop die reeks gegrond is.
Maar dan val ’n sluier oor die lens en in skadu’s en donkerte gebeur dinge wat ongemaklik na aan die realiteite van die regte lewe in Suid-Afrika kom: moord en misdaad, en, soos in die eerste seisoen, geslagsgeweld wat nie net fisiek nie, maar ook emosioneel kan wees.
Dramatiese lugskote van die Swartberge (danksy Peter Belcher en Stefan van Zyl) bring die boodskap tuis dat Eden dalk ’n klein Karoo-dorpie is, maar dat dinge dikwels nie is soos wat dit met die eerste oogopslag lyk nie.
Toe ek die eerste episode gekyk het, was ek nie seker of hierdie nuwe resep van lig en donker sou werk nie. ’n Mens hou mos van bobotie nes dit altyd is. Maar namate die reeks ontvou, het die regisseurs, Karen Jeynes (wat ook die draaiboek geskryf het) en Jozua Malherbe, se spel met hierdie verskillende nuanses van die lewe al hoe gemakliker geraak op die skerm.
Jeynes, die skrywer, het ook die regie vir die eerste seisoen gedoen saam met Christiaan Olwagen. Sy en Malherbe kry dit reg om die kontras tussen die lig en donkerte in Recipes met groot subtiliteit te hanteer. En Malherbe se stempel is baie duidelik – hy is bekend vir onder meer die fliek Griekwastad en die reeks Devil’s Peak. Swaar, komplekse werk. Met Plan B vir kykNET het hy gewys hy kan ook ligvoets wees.
Minder soet, meer eg
Dis veral opvallend dat die eksentrisiteite van heelparty van die karakters met ’n paar lepels minder suiker as in die eerste seisoen besprinkel is – met groot sukes. Veral iemand soos Tannie Elna, wat briljant gespeel word deur Martelize Kolver, is nie heeltemal so over the top soos in die eerste seisoen nie.
Kolver moet ’n pluimpie kry vir hoe sy haar karakter, ’n nuuskierige skinderbek met ’n keffende klein steekhaarhondjie Fiefie, subtiel, maar met maar fyn humor weghou van die krans wat oorhel na ’n karikatuur. Vir Suid-Afrikaanse kyker is ’n karakter soos dié dalk baie bekend en eg-plattelands, maar ’n mens moet in ag neem dat die reeks op ’n internasionale gehoor gemik is en dus tot ’n breër mark moet spreek. En ’n sitkom is Recipes for Love and Murder beslis nie.
Die Ierse aktrise Maria Doyle Kennedy speel Tannie Maria hierdie rondte ook vanuit ’n ander hoek. Die karakter met haar mooi geblomde rokke (en dalk net effens té perfek-gekartelde hare?) het verander sedert ons haar die eerste keer ontmoet het en in ’n onderhoud met Terloops het Doyle Kennedy gesê dat Tannie Maria nou ’n groter houvas het oor wie sy is.
’n Mens kan steeds nie anders as om lief te raak vir Tannie Maria nie en om te wens jy kan in haar mooi huis gaan aandete eet nie. Tog is daar oomblikke wat die temperatuur van Doyle Kennedy se meer gedempte spel dalk net ’n tikkie opgeskuif sou kon word. Dis in die oomblikke wat haar karakter se woede in haar oë smeul, of wanneer sy die dinge sê wat ander miskyk, wat sy op haar kragtigste is.
En natuurlik wanneer sy kosmaak. Want buiten die storielyn wat van die eerste tot die laaste episode deurgetrek word, wentel elke individuele episode steeds om ’n brief wat ’n leser aan Maria stuur en waarin hulle vra vir hulp met hartsake of verlies. Haar macarons met skop en Koedoe-wellington lyk hemels danksy die lieflike kosstilering deur Heilie Pienaar en haar span. Jy glo danksy hierdie disse dat kos alles régtig beter kan maak. En dis lekker om na elke episode ’n mate van afsluiting oor ’n storie-element te kry, terwyl daar nog soveel ander tergende vrae is wat beantwoord moet word.
In hierdie opsig is daar so ’n paar haakplekke in die draaiboek: die kyker moet met verskeie storiedrade tred hou en dis maklik om vir ’n oomblik te vergeet wie nou eintlik die moordslagoffer was. En waar het Doep (Terence Bridgett) sy man van tien jaar vir die hele eerste seisoen weggesteek?
Proe soos ‘nog, asseblief’
Dis egter hare kloof, want aanhangers van hierdie tipe reeks sal steeds lustig saam speurwerk doen en toe ek eers my vooropgestelde idees opsy geskuif het, het ek na nog ’n happie gesmag. Hiervoor sorg die verskeidenheid fantastiese karakters.

Buiten vir die polisie, is dit veral Jessie September wat agter die kap van die byl wil kom van wat in Eden aan die gebeur is. Die Gazette se onverskrokke ondersoekende joernalis word weer gespeel deur Kylie Fisher. Haar karakter is onvergenoeg met die kleindorpse joernalistiek wat sy moet doen en, nes in die eerste seisoen, hunker sy na meer. Fisher lewer uitstaan-spel as die jong vrou wat by ’n kruispad staan en moet besluit watter kant toe.
Wat ’n mens hier mis, is die hegte vriendskapsband tussen Maria en Jessie wat veral in die boeke uitgebeeld word. En die feit dat Maria self nie noodwendig so baie van die speurwerk doen nie. Maria se aandag is in hierdie seisoen meer op haar frustrerende skoonsuster Aileen McClintock (Robyn Scott) en haar man, die oud-speurder Gordon (Richard Wright-Firth).

Gordon is obsessief oor die dood van Maria se man en wil sy kloue in haar eiendom slaan. Hierdie storielyn is dalk weereens veronderstel om tot die internasionale mark te spreek (daar word selfs by Scotland Yard gedraai), maar iets daaraan voel soos eierwitte wat net nie stywe puntjies wil maak nie, al word dit ook hoe goed geklits. Tog speel Scott vir Aileen, wat terselfdertyd empaties en bitter is, met groot deernis. Haar karakter se ontwaking deur die loop van die reeks, is baie geloofwaardig. Scott, ’n Suid-Afrikaanse aktrise, staan glo as “the accent girl” bekend en dis ooglopend waarom.

Dis ook baie lekker om weer vir Hlubi Mboya op die kassie te sien. In Recipes speel sy Jackie Baloyi, die beeldskone (en listige) eienaar van die dorp se lykshuis en ’n vrou met meer as een geraamte in haar yskas.
Jennifer Steyn is weereens ’n plesier as Hattie Wilson, die dinamiese redakteur van die dorpskoerant en Gérard Rudolf bring net die regte hoeveelheid sexy en slim tot The Satanic Mechanic, oftwel Ricus, die dorp se nuwe motorwerktuigkundige wat ook siele dokter. Hattie en Ricus se chemie is een van die reeks se hoogtepunte.
Ander bekende karakters wat ’n terugkeer maak, is die polisieman Regardt Snyman (Arno Greeff), Jessie se kêrel. Sy karakter het hierdie rondte nog meer ruimte vir groei en Greeff se spel is puik. Grant Swanby leef hom in as die slymbol Marius en die polisiehoof Khaya is steeds ’n gemartelde siel, wat eintlik maar net liefde soek. Sal hy op die ou einde die regte keuse maak?
En natuurlik is daar die Karoo, en spesifiek die Swartberge en Prins Albert, wat sorg dat Recipes for Love and Murder teen die allermooiste agtergrond afspeel: ’n plek waar die Karoo-bossies en klowe veel meer wegsteek as wat ’n mens ooit sal kan raai.
Lekker eet!
Die tweede seisoen van Recipes for Love & Murder saai weekliks vanaf Donderdag, 23 Januarie 2025, om 20:00 op M-Net en DStv Stream (DStv-kanaal 101) uit. Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.