Menu terloops
In Onderhoude [26 Feb 2025]

‘Reënboogrant’ se Sunette ’n droomrol vir Mila de Villiers


Om die rol van Sunette in Showmax se verwerking van die ‘Reënboogrant’-boeke te vertolk, is ’n droom bewaarheid, vertel aktrise Mila de Villiers.

Deur Rozanne Els

Stroom 'Reënboogrant'

‘Reënboogrant’ se Sunette ’n droomrol vir Mila de Villiers
Kyk lokprent

Sy kan nog onthou hoe sy op skool in pousetyd haar na die biblioteek gehaas het om meer van die tienerdrama in Louise van Niekerk se Reënboogrant-trefferboeke op te slurp, vertel die aktrise Mila de Villiers. En nou, jare later, vertolk sy die rol van Sunette in Showmax se TV-verwerking van Van Niekerk se boeke wat oorspronklik in die 1990’s gepubliseer is. As ’n telenovela speel die storie nou in Tswane af en draai hoofsaaklik om die Brink-gesin. Mila speel teenoor Minke Marais (Mooiweer en Warm) as die graad 10-susters Sunette en Shani Brink, met Paul Strydom (Spooksoeker) as hul ouer broer, Dolf.

Die Safta- en Silwerskermfees-wenner Desiré Gardner (Magda Louw) is die hoofskrywer, met André Velts aan die hoof van die regiespan met Sonvelt Media as vervaardigers. Sonvelt Media het in 2024 die Safta-toekenning vir beste TV-fliek vir ’n Tyd van Waterpere gewen.

Ons het met Mila oor dié droomrol, die raakpunte tussen haar en Sunette, asook haar band met mede-akteur Minke Marais gesels.

Reënboogrant
“Toneelspel was nog net altyd deel van hoe ek funksioneer; dit maak my Mila,” vertel die aktrise Mila de Villiers.

Wanneer het die toneelspeel-gogga gebyt?

“Ek was van kleins af iemand wat daarvan gehou het om stories te vertel. Ek was een van die min kinders wat van mondelinge op skool gehou het. Ek het in laerskool elke jaar aan die eisteddfod deelgeneem en dit het my van kleintyd af geleer hoe om massas teks te leer en karakters te skep. Ek het dit baie geniet. My familie is ook almal storievertellers – dis maar in my bloed. Toneelspel was nog net altyd deel van hoe ek funksioneer; dit maak my Mila.” 

Toe ek die e-pos oor die oudisie vir Reënboogrant sien, het ek kliphard gegil en dadelik my ma gebel. Vir die eerste rondte se video-oudisies het ek gekies om vir Sunette te oudisie – ek het nie eens twee keer daaroor gedink nie. Sy was die karakter vir wie ek die liefste was toe ek haar jare terug gelees het. Ek het net geweet het dat ek niemand anders as sy wou speel nie. Sy is baie spesiaal vir my.

Mila de Villiers

⁠Was jy bekend met die Reënboogrant-boeke voordat jy by die projek betrokke geraak het? 

“Die boeke is so kosbaar vir my en dit vorm ’n baie spesiale deel van my kinderjare. Ek het my eerste Reënboogrant-boek in graad 6 gelees in my laerskool se bibilioteek en my ma moes toe dadelik nog koop. Ek was nie te gaande oor lees op daardie ouderdom nie, maar Reënboogrant was die reeks wat my liefde vir lees aangewakker het. Ek het tweede pouses in die biblioteek gaan sit en die Reënboogrant-boeke gelees wat ek en my ma nie by Bargain Books in die hande kon kry nie. (lag) 

Jy was seker in ekstase toe jy van die oudisies hoor, of hoe?

“Ek kon dit nie glo toe ek die geleentheid gekry het om vir die reeks te oudisie nie. Dit het onwerklik gevoel.

“Toe ek die e-pos oor die oudisie vir Reënboogrant sien, het ek kliphard gegil en dadelik my ma gebel. Vir die eerste rondte se video-oudisies het ek gekies om vir Sunette te oudisie – ek het nie eens twee keer daaroor gedink nie. Sy was die karakter vir wie ek die liefste was toe ek haar jare terug gelees het. Ek het net geweet het dat ek niemand anders as sy wou speel nie. Sy is baie spesiaal vir my.

“Sunette is ’n droomrol vir my. Ek het nooit gedink dat ek my gunsteling-karakter van my gunsteling-jeugboekreeks sal speel nie! 

Hoekom is sy so spesiaal vir jou? 

“Ek dink die rede hoekom ek van Sunette gehou het toe ek die boeke begin lees het, is omdat sy so baie soos ek is. Ek was ook ’n pliggie op skool; skoolgoed was ook vir my belangrik, soos akademie en buitemuurse kultuur-aktiwiteite. Ek neem wel nie alles so ernstig soos Sunette op nie. (lag) Ek is definitief nie ’n boksiemens nie; ek hou nie van roetine nie. Waar sy meer in haar eie wêreldtjie leef, floreer ek weer rondom mense. En ek is definitief nie ’n atleet is nie!”

Vertel vir my meer oor Sunette. Wie is sy, hoe pas sy in daai hele wêreld in en wat was jou eerste indrukke van haar?

“Sunette is ’n slim, toegewyde staatmaker wat vir almal ’n plek in die son gun. Sy hou van veilig speel, sy floreer op roetine, sy’s logies, maar sy is meer as net ’n tipiese, voorbeeldige, gedetermineerde en saggeaarde, hardwerkende goodie two shoes wat haarself met skoolwerk toegooi. Sy is ook op soek na opwinding en liefde, en sy wil haarself herontdek sodat mense haar werklik raaksien. My eerste indruk van haar was dat sy iemand is wat baie innerlike konflik ervaar en haarself nog moet vind en aanvaar. Dit is vir my baie interessant om haar pad uit te kerf omdat sy so baie kontrastrerende eienskappe het.” 

Hoekom dink jy vind kykers by Sunette aanklank? 

“Sy gee ’n eerlike blik op hoe dit is om ’n tiener te wees en om foute te maak. Ek voel sy verteenwoordig die groep mense wat hulself druk om heeltyd die beste te wees. Sy is baie fyn ingestel om altyd die regte voet voor te sit en binne die beperkinge van haar eie reëls te hou. Sy sukkel om haarself toe te laat om net te wees, foute te maak en haarself ’n bietjie pret te gun. Haar grootste vrees is om te misluk en ek dink baie mense gaan hierby aanklank vind.” 

Sunette is ’n droomrol vir my. Ek het nooit gedink dat ek my gunsteling-karakter van my gunsteling-jeugboekreeks sal speel nie!

Mila de Villiers

⁠⁠Hoe sou jy die sustersband tussen Sunette en Shani beskryf? 

“Shani en Sunette is teenoorgesteldes. Hulle heg verskillende waardes aan baie verskillende dinge. Waar Shani meer van ’n ekstrovert en gewild is en daarvan droom om Hollywood toe te gaan, is Sunette tevrede met min aandag op haar. Sy fokus meer op haar skoolpunte en droom daaroor om Olimpiese Spele toe te gaan. Maar dit was vir my so ’n lekker uitdaging om die raakpunte tussen Sunette en Shani te vind, want hulle is tog sussies.

“Ek en Minke het toevallig eendag dieselfde mannerisme op kamera gedoen en dit was so klein, maar dit het my net dadelik gehelp om die ooreenkomste tussen die sussies te vind. En soos ons aanhou skiet het, het daardie dinamiek en ooreenkomste aanhou groei. Dit is snaaks want ek en Minke is ook teenoorgesteldes in die regte lewe (lag). So dit voel regtig soos ’n geval van die lewe wat kuns naboots.”  

Hoe het jy en Minke saamgewerk om die verhouding tussen die twee sussies uit te beeld?

“Ek en Minke is so bevoorreg. Ons het reeds ’n vriendskap gehad voor die verfilming van die reeks en dit was net so maklik om haar as Sunette se sussie te sien. Sy was in die jaar voor my op Stellenbosch en ons het al saam opgetree in ’n produksie en ons het gemeenskaplike vriende. Voordat ons opgetrek het Pretoria toe, het ek en sy baie koffies gaan kry en gepraat oor ons karakters. Ons het net tyd saam spandeer. Ek en Minke bly ook nou saam, so ek voel ons lewe eintlik nou as susters, en dít help op stel.” 

Het jy spesiale bande met van die ander akteurs of spanlede gesmee? 

Reënboogrant is werklik so ’n geseënde produksie. Ek het nog nooit so vinnig en so maklik met so ’n groot groep mense gekliek nie. In die eerste week van verfilming, het ons almal geweet dat hier iets baie spesiaal aan die gang is. Dit was net mal hoe vinnig ons gekliek het. Ek geniet elke oomblik en elke dag op stel. En van die skerms af is ons almal net besig om soveel pret te hê. Die rolverdeling kuier gedurig saam; ek het lewenslange vriende tydens hierdie proses gemaak.” 

⁠⁠Hoe was dit om met gesoute veterane soos André Velts en Desiré Gardner te werk?

“Dit is net so ’n voorreg om Desirè se teks lewe te gee onder André se leiding. Ek is net oor die algemeen in verwondering om met so baie bekendes te werk, soos Simoné Pretorius, Johan Scholtz en Juanita Velts…  Ek leer so baie van hulle. Dit is ’n voorreg om in dieselfde vertrek as hulle te wees en te sien hoe hulle te werk gaan. André laat ’n mens so kalm en veilig voel. Hy spreek soveel lewe oor sy stel uit en hy gee om vir elke persoon met wie hy werk. Jissie, sy passie is aansteeklik! Hy is ook so vrygewig met sy kennis. As hy praat, is dit asof die wêreld stilstaan omdat almal stop om te luister.”

⁠Hoewel die reeks om die lewens van hoërskoolleerders draai, is die vertelling daarvan ook toeganklik vir ’n ouer en selfs effens jonger gehoor. Wat dink jy maak Reënboogrant so kykbaar? 

“Ek kan nie eintlik onthou of daar ’n Afrikaanse reeks was wat ek en my ouers saam kom kyk toe ek jonger was nie. My ouers vertel my altyd hoe hulle Koöperasiestories en ander Afrikaanse reekse as gesin saamgekyk het toe hulle kinders was. Ek glo Reënboogrant bring daardie gesinskultuur weer terug, maar die storie word op só ’n manier vertel dat die jongste én die oudste in die huis dit kan geniet. Ek dink dít is ongelooflik spesiaal.” 

⁠Wat was tot dusver vir jou ’n hoogtepunt van die projek? 

“Die eerste dag wat ons by die skool geskiet het, het ek en Minke in ons skoolklere deur die skool gestap en net gekyk na al die Reënboogrant-skoolplakkate en -borde. Dís toe alles vir ons ingesink het. Ons het net woordeloos deur die gange gestap. Die gevoel was so tasbaar en ons het opeens besef hoe groot hierdie geleentheid vir ons is. Ons het gepraat oor watter voorreg dit is om Shani en Sunette te kan speel en te kan werk met so baie talentvolle en hardwerkende mense. Dit was ook die eerste dag wat die volle jong rolverdeling op die stel was. Ons het foto’s voor die skoolborde geneem en ek onthou net hoe dankbaar ek gevoel het om deel te kan wees van hierdie spesiale storie en groep mense.” 

Jy het ook in Wyfie gespeel. Dís natuurlik ’n hele ander tipe storie, maar ek is nuuskierig om te hoor wat jy op die Wyfie-stel geleer het wat jy hier en in jou toneelspel vorentoe kan toepas?

Wyfie se stel was vir my die ideale leerskool. Ek kon sien hoe die mense waarna ek regtig opkyk in die bedryf werk en toor. Ek was soos ’n sponsie wat net elke oomblik en leergeleentheid geabsorbeer het. My tyd op Wyfie het my veral geleer hoe om gemaklik voor die kamera te wees en hoe om deursettingsvermoë te hê om ’n toneel vier of vyf keer te skiet en dit elke keer met dieselfde oorgawe en passie te doen.” 


Dubbelepisodes van Reënboogrant word elke Woensdag tot en met 11 Junie 2025 op Showmax beskikbaar gestel. Rëenboogrant word ook op Vrydae op kykNET (DStv-kanaal 101) en DStv Stream uitgesaai, maar met slegs een nuwe episode per week. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies