Menu terloops
In TV [19 Des 2025]

Die beste reekse van 2025


Van die onrusbarende ‘Adolescence’  tot Mark Ruffalo op sy enigmatiese beste in ‘Task’  – vanjaar het dié reekse uitgestaan.

Deur Rozanne Els
Die beste reekse van 2025

Dié lys is ’n verkorte blik op van my gunsteling TV-reekse vanjaar (in geen spesifieke volgorde…)

1

Adolescence 

Kyk dit op Netflix.  

Die Britse reeks Adolescence is ’n tragiese vertelling oor ’n dertienjarige seun, Jamie (Owen Cooper) wat sy veertienjarige klasmaat, Katie, op ’n parkeerterrein langs ’n speelgrond met ’n mes doodsteek. Dis die voor en ná van die moord wat dié verpligte kykstof vir ouers én kinders behoort te maak. Soos Riëtte van der Wat in haar resensie vir Terloops daaroor skryf: “Dit is ’n wekroep vir ’n samelewing wat besig is om kinders in die steek te laat.”

Die reeks het ontstaan uit die fenomenale akteur Stephen Graham se behoefte om sin te maak van twee voorvalle in die Verenigde Koninkryk waarin tienerseuns jong meisies doodgesteek het. Hoekom, wou hy weet, gebeur hierdie soort voorvalle nie net meer gereeld nie, maar enigsens? Saam met die draaiboekskrywer Jack Thorne soek ons met storie – en vertel oor vier episodes uit vier verskillende hoeke – die antwoorde. Antwoorde kry ons dalk, maar afsluiting nie. Berusting kom nie, juis omdat ons as ’n samelewing in die vetterige middel van ’n versmorende krisis met seuns en jong mans vasgevang is.

Lof uit alle oorde is welverdiend vir die reeks. Hier aan die jaar se stertkant is dit op al wat ’n lys is vir die beste reekse van die jaar, die wenner van agt Emmy-toekennings, en benoem vir vyf Golden Globe- en ses Critics Choice-toekennings (beide dié word in Januarie uitgedeel). Baie hiervan kan aan die skryfwerk toegeskryf word, maar ook die uitsonderlike spel – haarfyn, empaties, sonder oordeel en met noodsaaklike nuanse, ritmies, net presies genoeg.

Dan is daar ook met regisseur Phillip Barantini se insig om die reeks in een, ononderbroke skoot (bekend as ’n ‘oner’) te verfilm en die storiebesluit om die fokus te verplaas van die slagoffer en dié se gesin, na die nagevolge vir die oortreder se naastes. Dis ’n onkonvensionele raamwerk waarbinne die kyker gestoot word. Selfs ongemaklik. Maar deur die fokus te verskuif, word ons gedwing om te reken met ’n haglike waarheid: Só iets kan in enige gesin gebeur – ook joune. 

Riëtte skryf verder: “As Adolescence enigiets so duidelik soos daglig maak, is dit dat kinders deesdae te vinnig moet grootword en blootgestel word aan idees en denkwyses waarvoor hulle (en ons) nog nie naastenby emosioneel reg is nie… Omdat ek ’n ma is van seuns, was dit fisiek en emosioneel uitputtend om die Netflix-reeks, Adolescence, te kyk, en bly die boodskappe en waarskuwings daarin al weke lank in my onderbewussyn weergalm. Deels oor die manlike woede en gebroke verhoudings tussen ouers, veral pa’s, en seuns wat dit uitbeeld. Ook oor die onmiskenbare rol van sosiale media en influencers, op tieners vandag én omdat dié reeks die realiteit oopvlek dat ‘vandag se kinders’ dalk grootword in ’n wêreld wat geskep is deur volwassenes, maar dat ouers nog minder as hul kinders van hierdie ‘nuwe’ wêreld weet en verstaan.”

2

Task

Kyk dit op Showmax.

Brad Ingelsby, die skepper van die bekroonde en briljante Mare of Easttown, het met Task iets ewe – indien nie meer – aangrypend geskep. 

In Task vertolk die Oscar-benoemde akteur Mark Ruffalo ’n FBI-agent aan die hoof van ’n taakspan wat ’n reeks gewelddadige rooftogte probeer ontsyfer. Die sterbelaaide rolverdeling sluit sowel die Suid-Afrikaanse aktrise Thuso Mbedu (The Woman King, The Underground Railroad) as Ozark se Tom Pelphrey en Emilia Jones (CODA) in. 

Daar is ooreenkomste tussen Mare en Task – albei speel in die droewige grysheid van Pennsylvania af, albei se storielyne is donker, albei het komplekse karakters. En natuurlik die rou. Die rou wat, soos met Kate Winslet se Mare, boer in die are (en oë) van beide die hoofkarakters. Maar Task bied ’n ware two-hander met die vertelling wat eweneens draai om Ruffalo se FBI-agent Tom Brandis as Phelphrey se Robbie, ’n sukkelende vullisverwyderaar. Die magie wat die spanningsdraad al stywer span, is egter die kat-en-muis-speletjie wat afspeel. ’n Botsing tussen die twee raak onafwendbaar soos Robbie, wat agter ’n rits gewelddadige rooftogte sit, deur Tom gejag word. 

Die storie beweeg stadig, maar met goeie rede: die wêreld wat Ingelsby skep, is ryk en veelvlakkig, met selfs die randkarakters wat ook goed belyn én ingekleur is. “Beleef hierdie wêreld, al is dit net vir ’n oomblik. Beleef hierdie gevoel, al is dit hoe swaar,” is die stom boodskap wat deur die tonele, spesifiek vir die kyker, verweef word. Die stadiger pas skep ook ruimte vir begrip. Want Tom en Robbie is erg verskillend. Waar Tom bedees en gelowig is, is Robbie iemand wat in die oomblik leef. Die wisselwerking tussen dié verskille en hul ooreenkomste – oorweldigende rou klou aan beide soos deurnat klere soos hulle komplekse gesinsdinamika probeer navigeer – bou ’n ritme op wat die kyker nooit te lank by die een of ander laat dobber nie. En as sulks lê jou guns, jou gevoel, jou empatie, by albei in gelyke mate.  

Hoewel Ruffalo hier ’n loopbaanbeste-vertolking lewer, is Pelphrey se spel ook só skuddend dat dit amper ’n tasbare ding word. Jy voel dit op jou vel soos jy sit en kyk. En kyk. En kyk.  

3

Mo S2 

Op Netflix beskikbaar. 

Dié losweg-outobiografiese komedie deur die komediant Mo Amer is waarlik ’n bewysstuk van hoe kragtig dié genre as ’n vertellingsmedium is. Hoe medisinaal. Hoe bevrydend. Hoe waar

Die komedie is boonop uit die staanspoor beplan om uit net twee seisoene te bestaan, en die finaliteit daarvan skep nogal ’n bittersoet lens om die storie te aanskou.

Dié seisoen is, in ’n woord, uitsonderlik. Amer neem die kyker op ’n emosionele reis – dalk eintlik eerder ’n wipwarit – soos Mohammed “Mo” Najjar en sy familie wag vir sy asielaansoek om goedgekeur te word ná 22 jaar in die immigrasiestelsel. Dis ’n burokratiese nagmerrie wat, in die lig van wat die afgelope twee jaar in Palestina afspeel, en só ook in Amerika waar selfs wettige burgers met geweld aangekeer en verdwyn word, dié vertelling selfs meer tydig maak.

Dat Amer dit regkry om dít snaaks te maak – en nie net snaaks nie, maar lag-huil-snaaks – is ’n teken van bomenslike talent en onvoorwaardelike menslikheid. Hoe hy ’n storie – grotendeels gegrond op sy eie, rêrige ervaring – vertel sonder haat, sonder oordeel, en met ’n oop gemoed wat wil begryp maar ook begrip nodig het, is haas ondenkbaar. Maar tog, hier het jy dit. Selfs in die oopgevlekte oomblikke soos hy dié nagmerrie stukkie vir stukkie vir die kyker met ’n vlymskerp teks en sekure spel uitlê.

’n TV-juweel? Beslis. Maar vir my was hierdie reeks meer soos ’n geskenk; onverwags, ontroerend, lag-uit-jou-maag-uit-lekker. (En dis ’n skande dat dit nie vir ’n Golden Globe benoem is nie…)

4

The Studio 

Op Apple TV+ beskikbaar.

Seth Rogen mag maar. Hy mag maar altyd en enige tyd. 

Dié komediereeks, waarvan die briljante Rogen die medeskepper, regisseur én in die hoofrol is, draai om Rogen se Matt Remick, wat pas as die baas van die fiktiewe Continental Studios aangestel is. Oor die verloop van tien episodes sien ons nie net hoe hy sukkel om tred te hou met dié alewige veranderende wêreld nie, maar ook hoe sy idealistiese drome met die realiteite van onder meer korporatiewe vereistes en erg moeilike akteurs bots. ’n Balans blyk haas onmoontlik te wees – selfs vir iemand soos Matt wie se hele lewe om sy liefde vir flieks draai. 

In elke episode is daar ’n ander krisis om te bestuur en in ag genome die insider-perspektief wat Rogen en sy kreatiewe vennoot, Evan Goldberg, van die vermaakbedryf as geheel het, kry ’n mens die gevoel dat meer as een van dié scenarios dalk op ware gebeure gegrond is… En jinne, as dít nie net die reeks nog lekkerder maak nie! 

Die skitterende rolverdeling, wat ook Catherine O’Hara, Kathryn Hahn, Ike Barinholtz en Chase Sui Wonders insluit, voer die slim, vinnige, rondomtalie teks met ’n gemak en je ne sais quois uit wat my by tye laat wonder het of “perfektheid” tog bestaan. Rogen verdien hier veral ’n pluimpie. Sy frenetiese energie as Matt dien as basis vir alles anders en skep ’n malle atmosfeer waarin enigiets wat gebeur, voel asof dit die ergste ding is wat nog ooit gebeur het. ’n Mens is skoon uitasem. 

Die eerste seisoen het 23 benoemings vir die 2025 Emmy-toekennings ontvang – die meeste ooit vir ’n komedie se eerste seisoen – waarvan dit toe 13 pryse gewen het, waaronder vir Rogen as beste akteur, beste regisseur en as deel van die skryfspan.

5

Severance S2 

Kyk dit op Apple TV+.

Ons moes bykans drie jaar wag vir die tweede seisoen van die briljante wetenskapfiksiereeks, Severance. Die wag was, gelukkig, absoluut die moeite werd. 

In Severance se eerste seisoen het ons ’n groep werknemers aan ’n korporasie, Lumon, ontmoet wat tot ’n eksperimentele “severance”-prosedure ingestem het. Mark Scout (Adam Scott) is een van dié werkers wie se “werk-geheue” chirurgies van sy herinneringe van sy persoonlike lewe geskei is. Die tweede seisoen het vir kykers met slim storiespel op ’n meer emosionele vlak by die storie ingetrek soos ons meer geleer het oor die wêreld (en lewe) wat Mark en kie agterlaat wanneer hulle by Lumon se deure instap. 

Die vertelling was by tye hartverskeurend – en, o, jinne, ek het gesukkel om die redes vir van die karakters se keuses te kan insien… Die verdieping van die reeks se emosionele omvang is ook te wyte aan hoe die seisoen gedryf is deur Mark se begeerte om die twee dele van sy bewussyn te herintegreer en sy vrou, Gemma (Dichen Lachman), te red. 

Soos ek reeds voorheen oor die reeks vir Terloops geskryf het: “Severance se ryk tematiese (en visuele) aanbieding gryp jou aan die strot soos dit veel meer vrae opper as wat dit antwoorde bied. As kyker word jy dikwels vasgevang in die grysareas van moraliteit en konsepte soos vrye wil wat die storie uitbeeld. As ’n geheel is die reeks ’n besonderse thought experiment, met fantastiese toneelspel deur onder andere Scott, John Turturro, en Patricia Arquette, en regie deur Ben Stiller en Aoife McArdle.”

Eervolle vermelding 

Dept. Q (Netflix): Die sleeper hit van die jaar. En reeds vir ’n tweede seisoen hernu. Die reeks is gegrond op die Department Q-boekreeks deur die Deense skrywer Jussi Adler-Olsen en is vol van kinkels wat jou tot reg aan die einde laat raai. Dit gee Slow Horses-vaaibs op die beste manier. Dié storie vertel oor Carl, vertolk deur die alsydige akteur Matthew Goode (wat werklik enige tipe rol kan speel), ’n speurder wat moet terugkeer werk toe ná ’n aanval wat sy mede-speurder en vriend verlam gelaat het. Sy baas is nie heeltemal seker wat om met hom te maak nie, so sy stapel ’n hoop onopgeloste sake voor hom en sê, “Kry vir jou.” Die eerste saak wat hy en sy vreeslik klein en unieke spannetjie takel, is ’n doozy met raaisels op raaisels op raaisels. Die spanning is allemintig, die emosionele lading hoog en die vertelling veelvlakkig. 

The Pitt S1 (HBO Max/Plaaslik op Showmax en DStv Stream): In The Pitt volg ons dr. Robby (ER se Noah Wyle) oor die verloop van ’n 15 uur lange skof in die noodeenheid van ’n hospitaal in Pittsburg. Elkeen van die reeks se 15 episodes vertel oor ’n enkele uur tydens dié skof. Hoewel John Wells, die destydse showrunner van ER, steeds een van die beste mediese TV-dramas nog, ook hier die storie lei, is die premis en aanslag van The Pitt dramaties anders. Met die storie se nougesette fokus, word die klem op die hedendaagse uitdagings van gesondheidswerkers geplaas, asook die onmiddellikheid van besluite en omstandighede wat die verskil tussen lewe en dood kan beteken. Die reeks se tweede seisoen begin reeds in Januarie in die VSA uitsaai. 

The Last of Us S2 (HBO/plaaslik op Showmax): The Last of Us se tweede seisoen het bewys dat dié reeks veel meer as net ’n post-apokaliptiese aksierillerreeks of die TV-verwerking van ’n gewilde videospeletjie is. Dit word egter wel wyd as die beste verwerking van ’n videospeletjie – TV én film – nog beskou, en dié seisoen bied selfs meer van daardie toorkrag, veral wat die uitnemende visuele effekte en kinematografie betref. Daar is ook dele van dié seisoen wat die videospeletjie skoot vir skoot volg. Só verhef storieskeppers Craig Mazin en Neil Druckmann (ook die skrywer-regisseur van die videospeletjies) dié seisoen tot ’n volgende vlak met die intensiteit van die visuele vertelling in absolute akkoord met die verhaal se emosionele polsslag.

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies