Die nuanse van aktrise Kate Winslet se spel is gevestig in die viering van die ongewone gewoon.
Niemand lei immers werklik ’n “gewone” lewe nie – dis net dat fiksie, of silwerskerm-weergawes van “ware verhale” ons eie ervarings in teenstelling so verdof het, dat ons dikwels nie besef watter helse rit ons op is nie. Maar Winslet besef dit. Sy besef al te goed dat nie ons, of ’n meerderheid van TV-skeppers, behoorlik kan raakvat aan hoe besonders ons sogenaamde gewoonheid is. En só ook doof is tot die inherente storie-majesteit wat daarin opgesluit is en hardop vir verlossing smeek.
In Mare of Easttown (beskikbaar op Showmax) vertolk Kate die rol van ’n speurder, Mare Sheehan, wat, met ’n vape binne vinnger bereik as haar dienswapen, die kleine Easttown in Delaware moet polisieër.
Mare is net besig om te wees. Asem te haal. In en uit. In en uit. Oorlewing is straks ’n té groot doelwit. Hou eerder net by een voet voor die ander, óftewel, een vape-teug na die ander.
Hierdie tipe bestaan is nie uniek nie. Dis soms onbewustelik soos ’n monotoon-lewe al meer beige raak, maar andersyds is dit omdat daar net geen alternatief te vinde is nie.
Die storie begin met ’n trope wat diep in die misdaaddrama genre ingegrou is – veral in die Noorse noir wat ’n toonaangewende rol speel in die ontwikkeling van die genre en ’n onmiskenbare invloed het op wat deesdae vervaardig word – die dood van ’n jong meisie met ’n trauma-besaaide agtergrond. In dié geval: ’n kak pa, ’n kakker boyfriend, ’n gesukkel om as ’n enkelouer te oorleef. Haar toekoms lyk mistroostig – dis nou die bietjie toekoms wat sy nog moed het om aan vas te klou.
Wat die clichè ongedaan maak is, is hoe skepper-skrywer Brad Ingelsby, Erin McMenamin (Cailee Spaeny) se dood in die middel van die dorp se skandes, leuens en lelike onthullings plaas en dan voorwaarts mars om die hele plek – en almal in dit – tot in die grond te brand.
Boonop is Ingelsby geweldig toegewy aan hoe die storie se oppervlak-premis (Erin se moord) die dieperliggende premis (Mare se geweldige seer oor haar seun se selfdood en haar stryd om toesig oor sy jong seun te behou) dien.
Ingelsby doen dit met etlike kinkels wat rippel deur die veelvlakkige storielyne (niks is ooit regtig onverwant in Easttown nie, leer ons gou). Hy doen dit met die kleinste van klein leidrade vir beide Mare en die kyker. Hy doen dit met karakters soos Mare se ma (die aktrise Jean Smart in wat werklik een van haar beste vertolkings nog is) en hul byna konstante geblaf en gehap na mekaar.
En dan, natuurlik, die blote teenwoordigheid van Winslet self.
Sy is feilbaar, onse Mare, onse Kate. Ons is ook. En dis okei, dit is.
Mare of Easttown dra etiese vraagstukke wat met vernietiging dreig. Dis nie net Mare wat probeer sin maak tussen opoffering en kompromie nie, of hoe groot, donker of lig die grys tussen reg en verkeerd is nie. Dis ook ons. Dit lyk deurentyd asof sy gaan verdrink in die verlies van haar kind soos haar keuses morele dilemmas word.
Maar dis nie verlies waarteen sy stry nie; dis veel eerder ’n stryd om haarself ná verlies te probeer oorleef – én vergeef.
Klink dit bekend?
Nog top-reekse in 2021:
- Succession
- WandaVision
- Hacks