Menu terloops
In Recaps [27 Aug 2026]

‘Lottoland help ’n dorp’: Reitz se mense staan nie terug nie


In die mieliedriehoek van die Oos-Vrystaat het ‘Lottoland help ’n dorp’ se Leah by Reitz gaan inloer, die dorpie wat deur die inwoners as die hoofstad van die Oos-Vrystaat bestempel word.

Deur Annelene Oberholzer
‘Lottoland help ’n dorp’: Reitz se mense staan nie terug nie

Met Lottoland help ’n dorp word daar nie net kosmetiese veranderinge teweeggebring nie, maar op ’n veel dieper vlak bring dit ook gemeenskappe nader aan mekaar, aldus Maryke Haywood, bemarkingshoof van Lottoland.

In hierdie seisoen word daar op ses dorpe gefokus, en elke dorp het agt weke om hul projekte te voltooi. Terwyl daar deur die talle aansoeke gesif is, was die sleutel tot sukses projekte waar dorpe daarop gefokus het om die gemeenskap op te hef.

In die mieliedriehoek van die Oos-Vrystaat het Leah by Reitz gaan inloer, die dorpie wat deur die inwoners as die hoofstad van die Oos-Vrystaat bestempel word.

Dis jou huis . . .

Reitz is nie net die bestemming vir die Bieliemielie-fees nie. Hierdie vlaktes is bekoorlik en soos Anelia Smit, projekspanleier, vertel kan daar tot so ver as Clarens se bergreekse gesien word op ’n mooi, skoon dag. En vir die inwoners is hierdie dorpie ’n wonderlike klein plekkie met baie geleenthede. Met springbokkies wat al te vrolik in die dorp pronk . . .

Dis ook ’n dorp waar almal feitlik vir almal ken. En dis ook ’n plek waar daar glo eers ’n kerk was met die dorp wat later gevolg het. Vandag is Reitz oor die algemeen ’n netjiese dorp met inwoners wat die gom is wat dit staande hou, selfs al is die munisipaliteit bankrot verklaar.

Passieprojek

Toe die munisipaliteit oorweeg het om die Herholdt-swembad, oftewel swimmingbath soos die bordjie teen die muur verkondig, vir privaatgebruik beskikbaar te stel, het dinge netjies inmekaar geskakel want dit was juis toe Lottoland help ’n dorp se bemarking van die huidige reeks ingeskop het.

Anelia het reeds ’n lang pad met die swembad gestap en sy het onthou toe dit nog net 2 sent gekos het om te gaan swem. Die swembad is op 22 Oktober 1941 amptelik deur die destydse burgemeester J.F. Strauss geopen en J.R. Clark was die boumeester.

So onlangs as 14 jaar gelede was dit ook die oefenplek vir die ikoniese Midmar-myl. En nou val dit uitmekaar. Die groot versugting is om hierdie swembad weer in volle glorie, en meer, te herstel. Eintlik sou dit ’n ingrypende ontrimpelingsoperasie wees waarby Reitz en Petsana se inwoners sou baatvind.

Die blou koevertjie

Die projekspan was duidelik begeesterd genoeg om die swembad uit eie geledere te takel indien hulle nie daardie blou koevertjie van Leah sou ontvang nie. En toe Leah die koevertjie optower, kon Anelia nie haar oë glo nie.

Sy was geheel en al verbysterd – veral toe sy sien daar’s meer geld bewillig as waarvoor hulle gehoop het: R700 000! En die trane het behoorlik geloop toe die res van die projekspan die goeie nuus ontvang het.

Lottoland help 'n dorp
Daar is R700 000 vir die projek bewillig en projekspanleier Anelia Smit kon dit nie glo nie. Foto’s: Skermgrepe

In die pylvak

By tye was die projek oorweldigend, maar onderlinge steun en aanmoediging het krag in die arms gesit om die swembad letterlik van kop tot tone te skrop. Selfs die platannas wat hulle intussen in die swembad tuisgemaak het, is met groot deernis deur Neels Craven verwyder.

Lottoland help 'n dorp
Die swembad is verwoed geskrop!

Asof die span nie reeds genoeg hooi op hul vurk gehad het nie, het hulle sommer ook die hele hoofstraat getakel. Dit was ook nie net maanskyn en rose nie want administratiewe rompslomp en vertragings het deel van die projek geword.

Dit was ook oestyd en die boere was besig om te stroop – maar hierdie boere het planne gemaak en met trekkers, arbeid en wat ook al nodig was, opgedaag.

Omdat Reitz nogal ysig kan raak, het die projekspan hul planne aangepas en dit in ’n binnenshuise swembad met warm water begin omskep. Daardeur kon hulle die drie-maandlange swemseisoen nog verder uitrek.

Die laaste inloer

Leah kon nie help om te wonder of sy in die winter in die swembad gaan spring nie. Maar Anelia het nie baie goeie nuus vir haar gehad nie. Die munisipaliteit wou nie die ooreenkoms vir ’n langtermynbestuur en instandhouding deur die projekspan onderteken nie.

Dit het nie vertroue by die projekspan ingeboesem nie, want dit was juis gebrekkige bestuur en instandhouding wat die swembad vervalle gelaat het. Vir vier weke het die projekspan alles van hulle kant af gedoen om die swembad reg te ruk en toe die daaropvolgende koukus nie betyds voor afsluiting van die projek uitsluitsel kon gee nie, het hulle ’n nuwe rigting ingeslaan.

Lottoland help 'n dorp
Nadat die planne vir die swembad deur die munisipaliteit gekniehalter is, is ’n veeldoelige sportbaan op die skoolterrein as alternatief aangepak.

Dit was ’n hartbrekende besluit vir almal wat betrokke was. Die feit dat die munisipaliteit nie hul weg oopgesien het om die saak te besleg nie, was baie frustrerend. Leah het genoem dat dit nie die eerste keer is dat munisipaliteite projekte waarby gemeenskappe sou baatvind, op hierdie manier gekortwiek word nie. Boonop wou die munisipaliteit ook nie met Lottoland help ’n dorp in gesprek tree nie.

Maar, het Anelia vir Leah vertel, al die werk en die koste verbonde aan dit wat reeds aan die swembad gedoen is, het nie ’n enkele sent van die R700 000 gekos nie. Dit was alles danksy wonderlike vrywilligers en skenkers se toedoen.

Plan B het vorm begin aanneem, al was daar nou net vier weke oor. Die resultaat? ’n Veeldoelige sportbaan op die skoolterrein vir padel, pickleball (’n raketsport wat elemente van tennis, pluimbal en tafeltennis kombineer), pluimbal, vlugbal en netbal – met panele vir aksiesokker en -hokkie in die pyplyn.

Die begroting

Veeldoelige sportbaan: R700 000
Grondwerk en ekstras: Skenkers

Fondse wat voortspruit uit besprekings vir die baan, word in ’n bankrekening gestort vir die instandhouding van die baan, asook die teetuin wat ewe oulik daar staan en toesig oor die baan hou. Die res van die fondse is daar vir die gemeenskap wat kan aansoek doen waar hulle bepaalde behoeftes ervaar.

En ja, die span gaan beslis aanhou baklei vir die swembad . . .


Lottoland help ’n dorp wys Woensdagaande om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) of stroom op DStv Stream.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies