Die winde van verandering waai soms verwoed saam met die Kaapse Dokter deur Ruiterbosch, die fiktiewe voorstad naby Kaapstad waar die gewilde Suidooster-reeks afspeel. Saam met die verandering kom ook interessante verwikkelinge – soos nou met die gesoute en geliefde aktrise Nina Swart wat haar intrek in die buurt kom neem het.
Nina kom as Elzette Potgieter Ruiterbosch toe waar haar seun, Justin (Eden Classens), hom by ’n groot kruispad bevind: sy naderende troue met Frankie (Mienke Ehlers).
Nina vertel hoe haar pad van Wilmien tot by dié van Elzette geloop het.

Elzette Potgieter is jou eerste sepiekarakter sedert jy Wilmien de Lange in 7de Laan gespeel het. Wat was dit aan Suidooster – en spesifiek aan Elzette – wat jou laat besluit het om weer jou sepieskoene aan te trek?
“Ek het vroeër vanjaar besef dat ek ’n gaping tussen (regie-)projekte het in die tweede helfte van die winter. Die gaping is geskep deur onverwagse veranderinge in die TV-landskap.
“Ek het begin dink aan alles wat ek kan doen behalwe regie, maar dit wat my tans interesseer, vereis ’n mate van bekendheid en ’n ‘naam”’ Ek stel belang in mense op ’n sosiaal-sielkundige vlak. Ek is nie bang om voor mense te verskyn nie, en ek wil graag met groepe werk om doelwitte te bereik. Dis baie soos om ’n regisseur te wees, maar met die klem op selfontdekking en -ontwikkeling.
“Ek was so lank gelede in die kollig dat mense waarskynlik nie meer weet wie ek is nie. Wel, dalk net ’n klein persentasie ouer 7de Laan-kykers. Ten einde my naam in die hoed te gooi om op ’n groter skaal met mense te kan werk, het ek nie ’n ander opsie gehad as om weer voor die kameras in te skuif nie.
“Ek het vir Colin Howard wat die kreatiewe vervaardiger by Suidooster is, gebel. Ons ken mekaar al vir 25 jaar. Hy was baie gaaf en het vir my die rol van Elzette aangebied.”
Hoe sal jy jou karakter Elzette beskryf? Wat kom maak sy in Ruiterbosch en watter onverwagse lae het jy van haar ontdek?
“Elzette is ’n gedrewe vrou wat in haar loopbaan veg vir mense wat hulp nodig het. Haar werk is om groot korporatiewe maatskappye te verbind met NGO’s en fondse te verkry. Sy is ’n doener – en wanneer sy ’n probleem sien, wil sy dit oplos. Dit is daardie gedrewendheid wat haar op internasionale vlak suksesvol gemaak het.
“Sy het die eerste deel van haar lewe aan haar familie gewy, maar op ’n stadium het sy besluit om haar eie passie te volg. Dis dalk oor die tipe mens wat sy is, maar dalk ook as gevolg van ’n tikkie skuldgevoel dat sy die afgelope jare absoluut toegewyd aan haar werk was en soort van ’n workaholic geword het.”

Wilmien is een van die mees ikoniese sepiekarakters in Suid-Afrika. Was jy enigsins huiwerig om na ’n sepie terug te keer met die wete dat kykers Elzette moontlik met Wilmien sal vergelyk?
“Die Wilmien-karakter wat destyds deur Danie Odendaal geskep is, is een van die beste sepiekarakters wat ek al ooit gesien het. Sy is ’n perfekte vermenging van die regte argetipes. Dit is vir my geen wonder dat sy so ikonies was nie, want haar essensie is gebalanseerd en haar uiterstes en teenstellings was met deernis bymekaargehou in die skryfkamer.
“Enigiemand kon Wilmien gespeel het en suksesvol wees as gevolg van bogenoemde. Die feit dat ek toevallig vir die rol gekies is, was wonderlik en lekker, maar ek is terdeë bewus daarvan dat ek die geleentheid gehad het om ’n ikoniese, reeds geskepte karakter te kan embody. Ek het nie tóé, of sedertdien, ooit gedink dat dit ék was wat die karakter so goed gespeel het nie.
“Maar mense besef nie altyd hoe magtig karakterisering in ’n sepie is nie. Ook nie hoe belangrik tydsberekening is nie.
“Die eerste paar jaar van 7de Laan het uitgesaai op ’n kritiese tyd in ons land se sosiologiese ontwikkeling en was nie net ’n voorbeeld van hoe die land se burgers saam kon woon en werk nie, maar het ook afgespeel in die tyd voor sosiale media en slimfone aan die orde van die dag was. Die Afrikaanse media was baie sterk en het die verskillende 7de Laan-persoonlikhede baie slim en ook baie gereeld gebruik om verkope te versterk. Almal het gewen.
“Dit is as gevolg van dié faktore dat ek nie net huiwerig was om terug te keer na ’n sepie toe nie, maar werklik beangs was. Ek het vermoed mense gaan dalk die ikoniese karakter van Wilmien met Nina, die werklike aktrise, verwar en bepaalde verwagtinge koester. Dis verwagtinge wat ek nooit sal kan vervul nie, ongeag wie ek speel of hoe goed of sleg ek dit doen.”
Jy was in 7de Laan in die vroeë 2000’s en keer nou, twee dekades later, na die sepiegenre terug. Wat het die meeste verander – op stel, in die manier waarop stories vertel word en in kykers se verhouding met die karakters?
“Ek kan met alle eerlikheid sê dat bitter min verander het. Die kameras is dalk beter (ons saai immers deesdae in hoë definisie uit), en die na-produksieproses is uiteraard meer digitaal, maar verder is dit presies dieselfde.
“Dalk lê die grootste verandering in die feit dat die storielyne anders lyk as 25 jaar gelede. Karakters en storielyne wat destyds as gewaagd beskou sou word, is vandag alledaags. Dit maak my gelukkig om te sien hoe ver ons kykers in daardie opsig gegroei en verander het.”
Wat onderskei die sepiegenre vir jou van ander dramareekse? En waarom dink jy bly kykers so lojaal aan die karakters en gemeenskappe wat hulle elke dag op die skerm sien?
“My gevoel is dat kykers weet ’n dramareeks of film is eenmalig. Dis ’n entiteit wat ’n einde het en wat klaarmaak. Jy word genooi om te kyk en te reageer daarop.
“Met ’n sepie is daar geen einde nie, en die uitnodiging is om saam te beleef en saam te leef. Die interaksie tussen kyker en sepie is dus meer intiem as die interaksie tussen kyker en drama of film.”
’n Sepie se vinnige produksietempo en voortdurend ontwikkelende storielyne stel unieke eise aan ’n akteur. Hoe het jy weer by dié ritme aangepas?
“Ha-ha! Ek dink nie ek het aangepas nie! Om woorde te leer en voorbereiding is daagliks deel van jou werk. As regisseur is ek intensief betrokke by, en verantwoordelik vir alle aspekte van ’n produksie. As akteur is ’n mens net verantwoordelik vir jou deel.
“Ek het aanhoudend gesukkel om nét te fokus op my eie deeltjie en my eie werk – my kop was gereeld by oplossings soek vir beligtingsprobleme of vrae oor storielyne of idees rondom sistemiese verbeteringe. Ek moes myself heeltyd herinner dat dit nie my werk is nie.
“Maar gelukkig hou ek, net soos Elzette, van harde werk, so ek het nie te veel gesukkel met die feit dat ek elke dag 100% moes gee nie.”

As ’n regisseur probeer jy soveel moontlik van elke afdeling op stel verstaan. Help daardie tegniese kennis jou as aktrise, of moet jy dit soms doelbewus afskakel en bloot binne die toneel leef?
“Dit was maar moeilik om af te skakel. Gelukkig is die tegniese en produksiespanne by Suidooster so sterk en ervare dat ek eintlik niks gehad het om my aandag af te lei nie. My mede-akteurs se werksetiek het my ook geïnspireer om beter te doen om hulle te ondersteun.”
Jy het al gesê dat jy as regisseur vir akteurs vertroue en vryheid probeer gee, maar ook duidelike grense stel. Hoe was dit om hierdie keer beheer prys te gee en jouself aan die Suidooster-regisseurs en -vervaardigers se visie oor te laat?
“Destyds, op my eerste dag as regisseur by 7de Laan, was een van die eerste tonele wat ek behartig het ’n toneel met al die “groot” akteurs: Anna-Mart van der Merwe, Wilna Snyman, Waldi Schultz, Francois Rautenbach en Elma Postma.
“Ek was doodbang. Ek kon byna nie ’n woord uitkry nie, maar toe trek Wilna my eenkant toe en sê: ‘Onthou net: the professionalism of the actor is measured by how well they listen to their director – irrespective of who the director is.‘
“Dit was haar manier om vir my te sê dat daardie groep akteurs sal doen wat ek vra en dat ek nie bang hoef te wees of moet probeer om hulle te oortuig om my regie te aanvaar nie. Die onus is op die akteur om professioneel te wees.
“En dit is met daardie mindset waarmee ek na Suidooster toe gekom het. Ek respekteer die posisie van die regisseur. Gelukkig was ek ook so bang en senuweeagtig dat dit maklik was om my oor te gee aan elkeen se leiding en terugvoer.”
Jy het die afgelope jare onder meer aan Fynskrif, Fraksie, Kelders van geheime en Tuiskoms gewerk. Het jou terugkeer na toneelspel jou opnuut bewus gemaak van wat akteurs van ’n regisseur nodig het, en sal dit jou toekomstige benadering tot regie beïnvloed?
“Ek het nog altyd probeer om akteurs net genoeg vryheid en net genoeg leiding te gee. Ek probeer deurentyd bewus wees van wat hulle nodig het. Ná hierdie ervaring besef ek opnuut hoe belangrik individuele, gefokuste en opbouende terugvoer vir akteurs is. Dis nie ’n nuwe les nie, maar wonderlik om dit weer te onthou.”
Jy het agter die skerms aan groot werklikheidsreekse soos Boer soek ’n vrou, Plaasjapie en Survivor South Africa gewerk. Wat geniet jy van die werklikheids-TV-genre, en wat het dié reekse jou oor mense geleer?
“O, so baie! As mense vir my vra wat ek doen, wil ek eintlik altyd antwoord: “Ek voer onderhoude met mense.”
“Dis my kern-identiteit. Vir meer as 20 jaar het ek onderhoude gedoen vir werklikheidsreekse. Al was ek ook die tegniese regisseur, het ek dit altyd iewers in die skedule ingewerk dat ek ook met die deelnemers op kamera gesit en gepraat het.
“Mense wil raakgesien word. Hulle wil gehoor word. Nie op ’n afwysende manier nie, maar met die hoop op begrip. Vir my is dit die grootste voorreg om oorkant iemand te kan sit en om te probeer om werklik te hoor wat hulle probeer sê, en dit werklik te probeer uitpluis wat hulle bedoel en nodig het.”
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up en DStv Stream.