Bloed is nie altyd dikker as water nie. Maar as jou familie ryk en invloedryk is, kan dit die moeite werd wees om die grense van lojaliteit te toets. Jy kan mos net sowel die lot in die rug steek sodra jy nie meer voordeel uit jou familie se sukses kan trek nie.
Nie?
Die rugstekery – en die gevolge daarvan – dien as die premis van Succession se derde reeks wat op 18 Oktober op Showmax begin.
Die HBO-reeks handel oor die mediamagnaat Logan Roy (vertolk deur Brian Cox) wat aan die hoof van die konglomeraat Waystar staan. Dis ’n mediamaatskappy wat ook satelliete die ruimte in skiet, én ’n plesierbootonderneming bedryf.
Dinge gaan geweldig skeef by dié twee sakefiliale en bereik ’n klimaks teen die einde van die tweede seisoen. Die derde reeks begin kort ná een van Logan se seuns Kendall (Jeremy Strong) Waystar se geheime aan die publiek verklap.
Logan se karakter is geïnspireer deur die Australiese nuusman, Rupert Murdoch. As mediamagnaat beskik hy oor die wêreld se invloedrykste koerante en nuuskanale: Sky News in Australië, die Sun in Brittanje, Wall Street Journal en Fox News in Amerika. Soortgelyk aan hoe mediamense wonder watter een van Murdoch se drie kinders eendag die besigheid by hom gaan oorneem, heers daar ’n beheptheid met Logan se eie soeke na ’n opvolger in die storielyn.
In 2009, het Rupert aangekondig dat sy jongste seun, James, die maatskappy by hom gaan oorneem. Maar dit sou uitdraai om nie die finale woord oor die saak te wees nie, met volop drama binne die familie as gevolg.
In dié fiktiewe weergawe van die Murdoch-familie – dis nou as jy hierdie tipe parallelle met Succession wil trek – ding Logan se vier kinders mee om Waystar by hom oor te neem.
Buiten Kendall, is Logan se oudste seun, Connor (Alan Ruck) – ook waarskynlik die verveligste van die kinders in die reeks – ook lus vir die opvolgerkroon. Kendall neem egter meer kanse, het die meeste ambisie en probeer uiteindelik om ’n koalisie teen sy pa op te bou. Hy en sy jongste broer, Roman (Kieran Culkin), probeer hul suster, Shiv (Sarah Snook), oortuig om ’n amperse coup te ondersteun. Die doel voor oë is eenvoudig – stoot hul pa uit sy eie besigheid –maar Kendall kan dit nie alleen vermag nie.
Elkeen van Logan se kinders, nes meeste van die karakters in Succession, probeer eindeloos om sy respek te wen. Hy is egter ’n moeilike pa, oupa, oom en sakeman wat net so genadeloos met sy kinders as met sy korporatiewe mededingers is.
Succession se familiedrama word egter nie net met die Murdochs se binnegevegte vergelyk nie – ook met die Trumps word daar parallelle getrek. Nes Logan Roy is Donald Trump se kinders by sy sakeondernemings betrokke – daar moet sekerlik ’n soortgelyke mededingendheid onder Eric, Ivanka en Don Junior heers wat kan gelykstaan met die persoonlike drama wat tussen Roy se kinders uitspeel.
Dis deels te danke aan dié tydige relevantheid dat Succession die Golden Globe- en Emmy-toekenning vir beste drama in 2020 ontvang het. Strong het ook ’n Emmy vir beste akteur vir sy vertolking van Kendall gewen en Cox het met dieselfde toekenning by die Golden Globes van daai jaar weggestap.
Reekse soos Succession bestaan om die res van ons te herinner dat ryk kinders soos Kendall, Connor, Roman en Shiv (nes die Murdochs en selfs die Ruperts of die Trump-kinders) áltyd gaan ryk wees – en waarskynlik áltyd ongelukkig sal bly.
Selfs al stel jy nie in die mediawêreld of die politiek belang nie, sal jy steeds by Succession kan aanklank vind. Die reeks gaan net soveel oor familie as oor die moordende aard van die sakewêreld. Tematies wys die reeks hoe gesinne (waarskynlik) meer skade as selfs hul grootste vyande aan mekaar kan verrig.
Geheime en geraamtes steek kort-kort kop uit en daarmee saam kom ’n hengse hoeveelheid emotional baggage wat die karakters al jare lank saam met hulle rondsleep.
Van al die elemente wat van Succession ’n uitstaan-televisiedrama maak – insluitend die rolverdeling, die regie, en fantastiese redigering – is sy sukses meerendeels aan die teks te danke. Die dialoog sal jou óf herinner aan ryk mense wat jy ken, óf jou met prontuit, ondiplomatiese waarheid ruk. Soos een ryk karakter dit aan ’n armer familielid verwoord:
“Look, here’s the thing about being rich, it’s like being a superhero, only better. You get to do what you want. The authorities can’t really touch you. You get to wear a costume, but it’s designed by Armani, and it doesn’t make you look like a prick.”
In die derde reeks kom die handskoene af en die karakters vloek verwoed hul bitter vyandigheid op mekaar uit. Die stryd tussen die kinders en hul pa domineer die narratief – ’n slim besluit. Die tweede seisoen het heeltemal te veel op kleiner sake-intriges gefokus, eerder as die sentrale stryd waar om die karakters, die storie, en ons vermaak draai.
Reekse soos Succession bestaan om die res van ons te herinner dat ryk kinders soos Kendall, Connor, Roman en Shiv (nes die Murdochs en selfs die Ruperts of die Trump-kinders) áltyd gaan ryk wees – en waarskynlik áltyd ongelukkig sal bly.