Onsekerheid het in die sewende episode van Boer soek ’n vrou op kykNET op Willie se plaas toegeneem nadat een van sy drie kuiergaste besluit het om nie met die proses voort te gaan nie. Reandi Grey het die nuus aan ’n sigbaar verslae Willie oorgedra. Op Arno se plaas het Mariska intussen die eerste kuiergas geword wat huis toe gestuur is.
Reandi Grey het die episode se sentrale vraag só gestel: “Gaan die boer se pasmaat by sy lewe inpas?”
Voor die besluite het die boere ’n laaste geleentheid gekry om hul kuiergaste – en moontlike pasmaats – op uitstappies te neem.
Die uitstappies het in ’n ligte atmosfeer begin, maar gesprekke oor verenigbaarheid en verwagtinge het ernstiger geword. Hoewel sommige deelnemers ongemaklik was, het hulle die vrae beantwoord.
Willie (37), bees- en mielieboer, Harrismith (Vrystaat)
Willie het sy kuiergaste met ’n perdry-uitstappie verras. Die groep het op skimmel- en vosbruin perde gery.
Madelé het vir die eerste keer perd gery, terwyl Lezelle en Tayla gemakliker met die aktiwiteit was. Willie het intussen sy vaardigheid met die polostok gewys en erken dat hy potensiaal begin sien.
Tydens die uitstappie het Willie aan sy gaste gesê alle mans is eintlik seuns van 12 en dat “hulle gaan altyd wil karretjies speel”. Madelé het daarop gesê dat mense nie teen die klein “nitty-gritty” moet vaskyk nie, selfs al het ’n man harige tone.
Reandi kom kuier

Reandi is deur drie glimlaggende kuiergaste ontvang, maar Tayla het gesê sy het ’n keerpunt bereik. Hoewel sy aanvanklik gehou het van wat sy gesien het, het verskeie klein kwessies haar begin pla.
Tayla het gesê sy het probeer om ’n band met Willie te vorm, maar twyfel of hy van haar hou. Lezelle en Madelé het begrip vir haar standpunt gehad. Volgens Madelé het Willie duidelik gemaak dat hy tyd nodig het, maar sy het gewaarsku dat hy sy “grootmensskoentjies” moet aantrek omdat die beskikbare tyd beperk is.

Reandi het die vroue verseker dat elkeen nog die nodige alleentyd met Willie sal kry.
Willie het aan Reandi gesê hy is buite sy gemaksone en nie daaraan gewoond om soveel mense gelyk om hom te hê nie. Reandi het hom daarna meegedeel dat een van die vroue besluit het om nie met die proses voort te gaan nie. Sy het gesê die groep sou die geleentheid kry om dit saam te bespreek. Die nuus het Willie sigbaar verslae gelaat; hy het alleen in die sitkamer agtergebly.
Arno (28), bosbouboer, Tzaneen (Limpopo)
Arno het sy drie kuiergaste na Magoebaskloof geneem vir ’n boomtoptoer (“canopy tour”). Rosanne was die enigste van die drie wat dit al vantevore gedoen het, ongeveer tien jaar gelede. Arno het gesê hul bereidwilligheid om die avontuur aan te pak, het hul toewyding aan die proses gewys.
Hy het egter erken dat hy nog nie dieper, persoonlike gesprekke met enige van die drie gevoer het nie.
Reandi kom kuier
Reandi het Arno ingelig dat hy moet besluit watter kuiergaste bly en wie huis toe gaan. Rosanne het aan Reandi gesê die proses verg ’n “sprong van geloof” en dat dit vir Arno die moeite werd is om dié kans te waag. Die besluit sou bepaal wie se reis saam met die jong boer eindig.

Arno het besluit om Mariska huis toe te stuur. Hy het gesê sy staan aan die begin van ’n nuwe hoofstuk in haar lewe en dat hy nie in haar pad wil staan nie.
JD (28), gemengde boerdery, Reitz (Vrystaat)

Nadat die groep die vorige aand nie by ernstiger gesprekke uitgekom het nie, het JD sy kuiergaste na The Bakery geneem om te leer hoe om suurdeegbrood te bak.
Leoné het met die deeg gesukkel, waarna JD haar gehelp het.
Reandi kom kuier
Leoné en Lara het aan Reandi gesê hulle voel hulle het reeds meer tyd saam met JD gekry nadat Janke in die sesde episode voor ’n keuse tussen haar loopbaan en ’n langer verblyf op die plaas gestel is. Reandi se vraag oor die moontlikheid dat een van hulle dié dag huis toe kon gaan, het hulle verras. Albei het gesê hulle het nog verskeie vrae wat hulle met JD wil bespreek.
Tot die groep se verligting hoef niemand dié keer huis toe te gaan nie.
Reandi sê
“Tyd stap aan, maar soos ons weet, wag liefde vir niks of niemand nie. Soos die dae verbyglip, beweeg twee harte nader aan mekaar. Die vraag is – wie se harte?”
Boer soek ’n vrou word Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.