Menu terloops
In Leefstyl & Aktueel [31 Aug 2026]

‘Dorpie-doenlys’: Bobby van Jaarsveld vertel oor nuwe TV-avontuur


Bobby van Jaarsveld vat die pad – en neem kykers saam op reis as die nuwe aanbieder van ‘Dorpie-doenlys’.

Deur Redaksie
‘Dorpie-doenlys’: Bobby van Jaarsveld vertel oor nuwe TV-avontuur

Bobby van Jaarsveld is net so ’n huishoudelike naam soos Mrs Ball’s se blatjang en rooibostee. Vir jare het hy vanaf die verhoog sy aanhangers bekoor en hy was ewe gemaklik om sy spiere tydens fotosessies te bult as wat hy deesdae is om ’n groot vis in te katrol. Daardie ondeunde glimlag en blou oë het ook seker gemaak dat harte vinniger bons…

Nou het VIA vir Bobby op ’n andersoortige avontuur ingespan. En die selferkende avontuurlustige was slaggereed om ook hierdie uitdaging met groot entoesiasme aan te pak. Dis ’n reisprogram, maar een met sy eie unieke aanslag. 

Bobby het die leisels oorgeneem by Sean van Noordwyk en nou gaan hy by dorpies – sommige bekend, ander minder bekend – inloer en kykers op ’n eiesoortige ontdekkingstog neem na daardie verborge juweeltjies waarvan min mense tot nou toe geweet het. Partykeer is dit geskiedkundig van aard, ander kere is dit weer verstommende avonture. Saamgeklits met hope lekker langpadkuiers!

Bobby vertel meer oor sy nuwe TV-avontuur:

Bobby, kykers ken jou veral as sanger en akteur. Wat het jou opgewonde gemaak om nou as aanbieder van Dorpie-doenlys die land te verken?

“Dis my eerste keer dat ek ’n TV-reeks doen waar daar teks of ’n draaiboek is, so dis meer professioneel. Ek is nie daaraan gewoond om ’n aanbieder te wees nie, al was ek die aanbieder van ’n regstreekse TV-uitsending. Maar nee, ek het nog nie onderhoude met mense vir TV gevoer nie. Dit het my beslis baie opgewonde gemaak om Dorpie-doenlys te doen, want ek is altyd oop vir iets nuut.”

Die reeks neem jou van Gansbaai en Stanford tot St. Lucia, Clarens, Hoedspruit en die Limpopo-Bosveld. Watter bestemming het jou die meeste verras? En hoekom?

“Ek sal sê St. Lucia en Clarens. Ek ken St. Lucia goed, maar nie so goed nie. Dit was ongelooflik om die seekoeie te sien, die visvang en die see. Ek gaan altyd die see kies. Dan is die dorp klein, maar daar is so baie aktiwiteite wat aangebied word. En die manier waarop die gemeenskap met mekaar saamwerk en mekaar ondersteun, het my baie verras. 

“Clarens is vir my net so mooi, alhoewel ek net altyd daar deurgery en nog nooit gestop en oorgebly het nie. Ek was net baie verbaas oor hoe mooi dit werklik daar is. Die plek waar ons geslaap het, Il Castello Boutique Hotel, het my laat voel of ek myself in Italië bevind het al was ek was nog nooit in Italië nie. Ek was aangenaam verras.” 

bobby van jaarsveld, dorpie-doenlys
“Dit het my beslis baie opgewonde gemaak om Dorpie-doenlys te doen, want ek is altyd oop vir iets nuut,” vertel Bobby van Jaarsveld. Foto’s: Verskaf

Jy het alles aangepak van diepseehengel en walvis kyk tot ’n pottebakkersklas en ontmoetings met seekoeie en krokodille. Watter ervaring het jou die verste uit jou gemaksone geneem?

“Dis ’n moeilike een, want ek kan nie dink dat daar iets was wat my werklik uit my gemaksone geneem het nie. Ek is rêrig game vir alles, ek sal enigiets probeer of doen en dit sluit enigiets avontuurlustig in.  

“Die pottebakkersklas was beslis buite my gemaksone, want die vorm wat daar uitgekom het, was allesbehalwe ’n pot…”

Dorpie-doenlys gaan nie net oor plekke nie, maar ook oor die mense en stories wat elke dorp besonders maak. Watter ontmoeting of mense het jou die meeste geraak?

“Die Abraham Kriel-kinderhuis in Nylstroom (Modimolle), want dis die een wat ek die beste ken en was vir baie jare ’n beskermheer vir hulle gewees. Ek was al so baie by daardie kinderhuis en ek ken die perseel en baie van die mense daar. Maar dis asof jou hart nooit gewoond sal raak daaraan nie omdat die omstandighede waarom die kinders daar beland het, nooit rég voel nie. 

“Ek dink enige persoon sal uit sy ware hart vir hulle ’n beter lewe wil gee. So, as jy daar kom, voel jy dat jy net iets meer kan doen. Dit is vir my so besonders om hulle te besoek. Ek het die dag nadat ons daar was vir Dorpie-doenlys, teruggegaan en my kinders ook soontoe geneem vir die basaar wat hulle daar gehou het.

“Die ander besonderse ontmoeting was een met ’n rooikat (caracal) by die Sondela Nature Reserve in Bela-Bela.” 

In Gansbaai besoek julle onder meer ’n pikkewynrehabilitasiesentrum en leer julle meer oor natuurbewaring. Het die reeks jou anders laat dink oor Suid-Afrika se natuurlewe en ons verantwoordelikheid om dit te beskerm?

“Ja, ek is definitief iemand wat nog altyd pro-bewaring is. Ek dink enigiemand, veral in Suid-Afrika, is. Volgens my het ons die beste en die grootste verskeidenheid (natuurlewe) daar buite en dis ons verantwoordelikheid om dit te beskerm. 

“Ek sal altyd in enigiets belangstel wat diere kan beskerm, veral ook die seelewe omdat ek so lief is vir die see, veral diepseeduik. Ek wil ook eendag my kinders se kinders vat vir duiklesse in Suid-Afrikaanse waters.”

Wat ontdek ’n mens van Suid-Afrika wanneer jy van die hoofpaaie afdwaal en tyd in kleiner dorpe en gemeenskappe deurbring?

“Ek is al so gewoond om deur Suid-Afrika te reis vandat ek 17 jaar oud is, maar daar is tog plekke wat ek die afgelope 22 jaar misgery en half misgekyk het. Dis ongelooflik watter versteekte juwele jy vind as jy so deur die land toer. 

“Dan kom jy agter jy was nog nie daar nie en jy begin besef wat so spesiaal is aan hierdie plekke. Dit wat eintlik die plekke die spesiaalste maak, is die mense. 

“Dis die gemeenskappe wat mekaar so ondersteun omdat hulle op klein dorpies woon waar hulle besef hulle het mekaar nodig. Dis regtig wonderlik om te sien hoe mooi die mense mekaar hanteer en hoe hulle ook plaaslike besighede ondersteun.”  

As jy self ’n Dorpie-doenlys vir ’n naweek moes saamstel, watter drie dinge moet daarop wees – en na watter dorp sou jy eerste terugkeer?

“Op my lysie sal jy diepseeduik, diepseevisvang en rus vind. Die gunstelingdorpies waarnatoe ek eerste sou wou terugkeer, is St. Lucia, Gansbaai en Clarens.”

Jy het reeds soveel hoogtepunte in musiek, televisie en toneelspel behaal. Wat daag jou op hierdie stadium van jou loopbaan steeds kreatief uit?

“Wel, om nuwe dinge te probeer. Net as ek dink ek het al alles gedoen in die bedryf, dan gebeur daar nog iets en nog ietsie kom by. Ek hou daarvan om myself uit te daag met nuwe challenges en geleenthede. 

“Ek is nie ’n ou wat kan stilsit en niks doen nie. Die oomblik as ek verveeld raak of ’n oop dag het, dan irriteer dit my bietjie. Alhoewel ek ook wil rus, klink ’n vakansie op die strand baie lekker, maar ek sal nie kan ontspan nie. Ek sal altyd iets soek om te doen. Nuwe uitdagings, nuwe dinge . . . ’n mens is nooit te oud om te leer nie.”

Bobby van Jaarsveld, DORPIE-DOENLYS
“Net as ek dink ek het al alles gedoen in die bedryf, dan gebeur daar nog iets en nog ietsie kom by. Ek hou daarvan om myself uit te daag met nuwe challenges en geleenthede,” vertel Bobby.

Voel jy dat Bobby die aanbieder ’n ander kant van jou persoonlikheid wys as Bobby die sanger of akteur?

“Ek sal nie sê die persoonlikhede is verwyder van mekaar nie, dis steeds dieselfde persoon. Die formaat van ’n TV-program laat jou beslis meer professioneel oorkom. Ek is professioneel, maar ek dink dis meer die tipe onderhoud-styl wat wys jy kan jou riglyne volg. Dit is nogal vir my belangrik om te leer – iets wat ek altyd doen. En ek is ook bereid om te luister en die sisteem wat in plek is, te vertrou.”

Met soveel bekende liedjies en loopbaanhoogtepunte op jou kerfstok, waarna streef jy nog – persoonlik én professioneel?

“Persoonlik dalk net ’n bietjie rus in hierdie stadium. Reis, beslis. Ja, ek voel net om te reis, te gaan duik en tyd met my kinders deur te bring. Professioneel gesproke sal ek regtig daarvan hou om weer in ’n groot fliek te speel, iets wat ek lanklaas gedoen het. En ek is ook baie lief vir TV-werk en hoop om dit ook weer eendag te kan doen.”  

Wat hoop jy mense onthou eendag van jou, buiten die treffers, rolle en ander glans-oomblikke?

“Ek hoop die mense wat my leer ken het, onthou dat ek ’n ou is wat nie alles te ernstig opvat nie en dat hulle my sal onthou as ’n real mens. Ja, ek hoop hulle onthou die rêrige ek.”

Dorpie-doenlys se 13 episodes begin op 10 September en word weekliks op Donderdae om 20:30 op VIA en DStv Stream (DStv-kanaal 147) uitgesaai. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer
Sien alle opsies