Menu terloops
In Sepies [27 Aug 2026]

‘Diepe Waters’ se Pam groet: ‘Sy sal altyd diep in my hart bly,’ sê Tracey-Lee Oliver


Tracey-Lee Oliver is al sedert episode 1 deel van die Afrikaanse telenovela ‘Diepe Waters’, maar kykers was geskok toe haar geliefde karakter Pam ná ’n tragiese skietvoorval vandeesweek gesterf het. Tracey-Lee het met Terloops gesels.

Deur Rozanne Els
‘Diepe Waters’ se Pam groet: ‘Sy sal altyd diep in my hart bly,’ sê Tracey-Lee Oliver

Vandeesweek se se episodes van die kykNET-telenovela Diepe Waters het kykers behoorlik laat naels kou met ’n gewelddadige konfrontasie by Skinvestment wat op ’n bloederige wyse geëindig het. 

Pam, gespeel deur Tracey-Lee Oliver, het haar in die kruisvuur tussen Frans, Zelda en die genadelose Cloete bevind. En toe gaan ’n skoot af… Pam het uiteindelik in haar ma se arms gesterf.

Ná die skietvoorval het Frans die situasie probeer beredder en aan die polisie voorgegee dat ’n gemaskerde inbreker vir Pam geskiet en daarna gevlug het om só vir Zelda te probeer beskerm. Intussen is Pam se man, Siseko, haar pa, Gys, en die hele Boskruin-gemeenskap in diepe rou gedompel soos hulle tot verhaal probeer kom. 

Diepe waters, Pam, Tracey-Lee Oliver
Pam (Tracey-Lee Oliver) het uiteindelik in haar ma, Zelda (Sandi Shultz) se arms gesterf. Foto’s: Verskaf/Skermgrepe

Pam oor die jare

Pam se skokkende en onverwagte dood laat ’n diep leemte in die harte van Diepe Waters-kykers. Kykers het haar reeds in episode 1 van die telenovela leer ken en oor die jare het sy een van hul gunsteling-karakters geword.

Haar reis het begin as Zelda se sogenaamde loskop-dogter wat meer in haar naels en skinderpraatjies belanggestel het as om kliënte by Skinvestment te bedien. Maar toe besluit sy om haar eie pad te baan, en bedank uit die salon – dit was in dié tyd wat kykers vir die eerste keer kon sien uit watter staal sy gemaak is.

Daarvandaan het Pam se pad kykers op ‘n emosionele wipwarit geneem. Sy het deur Zelda se planne gesien toe sy vir Pam met ‘n huurakteur oor haar biologiese pa probeer jok het. Haar instinkte het uiteindelik tot die skokkende onthulling – dat sy wél ’n Swarts is – langs Gys se hospitaalbed gelei. Later het sy ook haar eie suksesvolle maatskappy, Motion Management, begin om jong swemmers te bestuur.

Kykers was saam met haar verheug toe sy uiteindelik ware geluk gevind het en met die man van haar drome, die Xhosa-prins Siseko (Chumani Pan), getrou het. Uiteindelik het sy haar ridder op ’n wit perd gevind. Maar nou is haar happily ever after kortgeknip. 

Siseko en Pam, Diepe Waters
Pam en Siseko (Chumani Pan) het ’n pragtige liefdesverhaal gehad.

Tracey-Lee het met Terloops oor haar tyd op Diepe Waters gesels. 

Wat is van jou gunsteling-storielyne wat jy as Pam kon vertolk? Wat het regtig vir jou uitgestaan of jou geraak?

“Wel, eerstens was dit om uit te vind wie haar pa (Gys, vertolk deur Justin Strydom) was. Ek dink die twee belangrikste oomblikke vir Pam was om uit te vind wie haar pa was, en toe om met Siseko (Chumani Pan) te trou. Ek dink daardie twee dinge het eintlik ’n baie direkte verband met mekaar. As Pam nie geweet het wie haar pa is nie, dink ek nie sy sou op ’n plek gewees het waar sy werklik haar prins, letterlik én figuurlik, kon ontmoet nie. So ja, ek dink dit was die twee storielyne en karakterboë wat regtig belangrik in Pam se lewe was.”

En van Pam as karakter – wat was lekker van haar om te speel? Wat van haar persoonlikheid of maniere was vir jou pret om te vertolk?

“Ek dink nie Pam en ek verskil vreeslik baie van mekaar nie. Daar is baie van Pam wat ek baie na aan my hart dra. Ek dink sy is ’n karakter wat gekom het en my baie geleer het. Om haar te kon vertolk, was eintlik ’n lewensveranderende ervaring. 

“Ek dink ons almal gaan deur fases van verandering en ons ontwikkel almal as mense. Daarom dink ek het Pam eintlik op ’n baie belangrike tyd in my lewe gekom. Sy het presies op die regte tyd gekom, en ek het dit geniet om elke aspek van haar te speel.”

Sy het ook ’n vreeslike lekker klerekas as ’n karakter – het jy ’n insae oor haar styl oor die jare gehad?

“Die lekker ding van haar wardrobe was dat ek en die hoof van die kleredepartement, Melissa van Eck, baie nou saamgewerk het. Dieselfde met grimering en hare. Dit was altyd ’n spanpoging. Dit was werklik lekker om namens Pam keuses te maak, en dit dan aan die betrokke mense oor te dra en te hoor wat hulle daaroor sê.

“Ek is baie bly en baie gelukkig en geseënd om te kan sê dat hulle nog altyd vir my ondersteun het met die besluite wat ek geneem het.”

pam diepe Waters
“Sy is ’n baie lojale mens, dink ek. Lojaal en baie eg,” beskryf Tracey-Lee haar Diepe Waters-karakter, Pam.

Jy het veral baie teenoor Sandi Schultz, Pam se ma in die storie, gespeel – ’n formidabele aktrise. Wat het jy by haar geleer?

“Sandi Schultz – daar is ’n rede hoekom sy so ’n formidabele aktrise is en hoekom sy elke jaar vir haar spel as Zelda benoem word!

“As ’n bruin meisie van Kaapstad, het ek altyd opgekyk na akteurs soos Sandi en Denise Newman en June van Merch, en natuurlik Shaleen Surtie-Richards, wat ek ook persoonlik geken het voordat sy oorlede is. Kim Cloete, Lorcia Cooper… Ek kan soveel aktrises opnoem na wie ek op TV gekyk het toe ek nog nie in die bedryf was nie. Ek het net gekyk en gedink: ‘Maar as húlle dit kan doen, kan ek dit ook doen.’

“Dit is daardie inspirasie wat mense vir jou gee sonder dat hulle dalk eers besef dat hulle dit gee. Daardie stille inspirasie om iemand te sien wat soos jy lyk, wat soos jy praat en wat dieselfde of ’n soortgelyke agtergrond as jy het, en wat hul drome uitleef.

“So ek dink wat ek by Sandi gekry of geleer het, was professionaliteit, om voorbereid te wees, om my lyne te ken en om te verstaan hoe die kamera en die stel eintlik werk, en om ’n begrip daarvoor te hê. So ek het baie geleer. 

Is daar ander akteurs teenoor wie jy gespeel het wat ’n indruk op jou gemaak het? 

Ek het met almal op die stel baie goed oor die weg gekom. Jy kan baie vinnig geheg raak aan ander akteurs op ’n stel, baie vinnig vriende met mense word. En ek dink omdat ek so baie van mense hou, was dit vir my altyd heerlik om die rolverdeling en crew te sien en tyd saam te spandeer.”

Pam het baie diep in kykers se harte gekruip. Hoekom dink jy het jou karakter veral so aan hulle geraak? Wat was dit aan haar en haar storie?

“Ek dink die rede hoekom mense op Pam verlief geraak het… Ek het al baie mense persoonlik ontmoet, mense wat my in die winkelsentrum voorgekeer het en vir my vertel het dat hulle Diepe Waters kyk.

“Een tannie het byvoorbeeld vir my gesê: “Pam het so op my senuwees gewerk aan die begin, maar nou is Pam my gunsteling.”

“Pam is maar altyd die voice of reason vir almal. Ek het haar altyd gesien as die voice of reason tussen Gys en die seuns – haar broers – en die voice of reason tussen Gys en Zelda. Ek dink sy het ook so hard saam met haar pa by die swemklub gewerk. Sy is ’n baie lojale mens, dink ek. Lojaal en baie eg. En sy is ook nie bang om te sê wat sy voel nie. Soos ek gesê het, die voice of reason. Ek dink daarom het mense op haar verlief geraak.”

Wat is jou boodskap aan Pam se aanhangers?

“Ek is baie, baie lief vir julle. Ek waardeer julle so baie vir wat julle vir Pam beteken en vir hoe julle Pam nog altyd ondersteun het. En ek is vreeslik jammer oor hoe dinge in die storie nou uitgewerk het! 

“Maar ja, ek is ewig dankbaar vir die geleentheid om Pam te kon speel. En sy sal altyd, altyd diep, diep, diep in my hart bly.”

Jy was van dag een af deel van Diepe Waters. Wat het dié tyd vir jou geleer?

Diepe Waters
“Ek is ewig dankbaar vir die geleentheid om Pam te kon speel,” sê Tracey-Lee.

“Natuurlik al die tegniese goed. Hoe om jou merk te vind. Jy weet altyd wanneer jy instap, is daar ’n merk op die vloer wat jy moet tref, anders is jy nie in die raam van die kamera nie, of die kamera fokus nie behoorlik nie, of wat ook al. En daardie merk is baie, baie belangrik.

“Die ander ding wat ek geleer het, is hoe om na my regisseur te luister. My regisseur is die kaptein van die skip, en jy moet luister.

“Ek het ook geleer hoe om op ’n stel te kommunikeer. Daar is altyd ’n professionaliteit wat jy moet handhaaf, maar dit is nie net dit nie. Bo en behalwe dit, gaan dit altyd oor vriendelikheid en respek. Om vriendelikheid en respek vir almal te hê – van jou regisseur tot die mense wat die beligting doen, jou klankmense, die kunsafdeling, grimering, almal. Dit is ’n masjien met al hierdie onderdele wat beweeg. Dit beweeg net glad wanneer almal hul deel doen. 

Wat is volgende vir jou?

“Iemand het my nou die dag dit gevra en ek het gesê: ‘Waar die Here my vat en waar die wind my waai.’

“Ek het my tweede enkelsnit wat einde vandeesmaand vrygestel word. Ja, dit is baie opwindend vir my. Ek het ook intussen advertensies geskiet en sangoptredes gehad.

“Ek sê altyd dankie aan God dat ek ook sing en dat ek voice-overs doen, so ek bly besig.

“Die enigste verskil nou is dat ek nie vieruur in die oggend hoef op te staan vir Diepe Waters nie!”


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies