As daar een ding is wat dié week bewys het, is dit dat Sepieland absoluut geen belangstelling in ’n rustige bestaan het nie. Liefde word getoets, families word uitmekaar geruk en sommige karakters neem besluite wat my laat wonder of hulle ooit hul eie raad sal volg. Voeg daarby ’n paar skokkende onthullings, ’n emosionele afskeid en een draai wat my direk Google toe gestuur het en jy het ’n week wat geensins voorspelbaar is nie.
Lees ons sepievoorskou vir meer oor die drama wat vandeesweek op die kassie uitspeel.
Binnelanders
Tracy (Melinda Viljoen) ontdek uiteindelik die ware rede vir Tertius (Reynardt Hugo) se besoek en skielik moet sy besluit of sy bereid is om ’n lewe sonder hom te waag, of ’n lewe saam met hom. Met ’n sperdatum wat al nader kom, sal sy vinnig moet kies. Natuurlik sou dit nie Tracy wees as daar nie eers nóg ’n groot uitbarsting moes wees voor sy by ’n besluit kan uitkom nie. Die spanning het my behoorlik op my senuwees gehad.
Cathy (Emma van Heyn) en Rian (Erik Holm) ontdek intussen ontstellende nuus en natuurlik lei die spore weer terug na haar pa. Selfs wanneer hierdie man nie direk skuldig is nie, is daar altyd iets wat sy naam op een of ander manier betrek. Ek hoop hulle kry uiteindelik al die stukke van hierdie legkaart bymekaar.
Joe (Roberto Kyle) verloor ook al hoe meer beheer en hierdie week kos dit hom duur. Eerlikwaar het ek dit lankal sien kom. Wanneer Joe tonnelvisie kry, kry die mense rondom hom seer.
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.
Skemergrond
My simpatie vir Lily (Hildegardt Whites) het hierdie week soos mis voor die son verdwyn. Gemoedsdrift is op hol nadat iemand hulself in ’n gevaarlike situasie laat bevind.
Lily reageer in ware Lily-styl: almal kry die skuld behalwe die mense wat dit eintlik verdien. Uit woede neem sy ’n besluit wat haar eie én baie ander mense se toekoms permanent kan verander. Ek was waarlik geskok. Dis vir my een van die selfsugtigste dinge wat ons in ’n lang tyd gesien het.
Tillie (Deirdre Wolhuter) kry intussen ’n behoorlike dosis eerlikheid nadat sy op een toon te veel getrap het. Dit sorg vir uitstekende vermaak, maar dalk is dit presies wat almal nodig gehad het om uiteindelik vorentoe te beweeg.
Ruan (Dann-Jaques Mouton) kry uiteindelik sy wraak, maar teen watter prys? Hierdie is een van daardie oomblikke waar jy kry waarvoor jy gewag het en steeds nie weet of jy kan feesvier nie.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.
Diepe Waters
Dit is ’n hartverskeurende week in Boskruin terwyl die gemeenskap Pam (Tracey-Lee Oliver) se onverwagse dood probeer verwerk. Elkeen rou op hul eie manier, maar ek was veral bekommerd oor Gys (Justin Strydom). Die verlies dreig om hom heeltemal te oorweldig en lei tot ’n besluit wat almal verras.
Zelda (Sandi Schultz) moet natuurlik talle vrae beantwoord en iets sê vir my nie almal sluk haar weergawe van gebeure so maklik nie. Tog het my hart vir haar gebreek tydens daardie toespraak in die kerk. Wat ’n vertoning van ons 2026 Silwerskerm-wenner vir beste aktrise in ’n sepie of telenovela.
En dan is daar Karla (Daniélle Swanepoel). Hoe verder hierdie storie vorder, hoe minder geduld het ek. Selfs Christine (Devonecia Swartz) in Skemergrond en Wendgrid in Arendsvlei het redes vir hul bose planne gehad. Karla voel op hierdie stadium net vasbeslote om haar eie lewe te verwoes. Haar man verdien eenvoudig beter.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144).
Suidooster
Drama, drama en nóg drama. As ek sekere tonele nie met my eie oë gesien het nie, sou ek dit nie geglo het nie.
Frankie (Meinke Ehlers) en haar pa bereik ’n verrassende ooreenkoms en glo my, hierdie een gaan jy nie sien kom nie. Ek dink ek was net so verbaas soos Frankie.
Zoë (Lauren Joseph) bevind haar intussen wéér in warm water en ek verstaan steeds nie hoekom sy altyd dit wil hê wat sy nie kan kry nie. Zahra (Caitlyn Haywood) beland ook in ’n taai situasie en ek hoop vir haar part dit eindig nie met ’n kaartjie terug Johannesburg toe nie.
Die Vosloos kry ná nog ’n traumatic event ’n bietjie goeie nuus, maar net wanneer die aanvanklike skok begin bedaar, neem hul storie nóg ’n vreemde draai. My mond het behoorlik oopgehang en ja, ek het onmiddellik gaan Google of dit regtig moontlik is.
Van liefde en verlies tot wraak, familiechaos en mense wat eenvoudig nie weet wanneer om op te hou nie… Net nog ’n doodgewone week in Sepieland.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up en DStv Stream.