Menu terloops
In Onderhoude [21 Jan 2024]

Wilhelm van der Walt oor ‘Donkerbos’: ‘Absoluut ’n weerspieëling’ van ons realiteit


Ja, ‘Donkerbos’ se inhoud gaan kykers ontsenu, sê die akteur Wilhelm van der Walt. Maar kyk liefs dieper, vra hy. Want jy sal waarskynlik iets van jouself in die reeks se komplekse, soms gebroke karakters kan raaksien. Dié Showmax-reeks is nou ook op kykNET beskikbaar.

Deur Rozanne Els

Stroom aanlyn

Wilhelm van der Walt oor ‘Donkerbos’: ‘Absoluut ’n weerspieëling’ van ons realiteit
Kyk lokprent

In Donkerbos vertolk Wilhelm van der Walt die rol van Sybrand Pieterse, ’n polisiespeurder wat van kleins af kwaad vir die wêreld is. Hy is egter hande in die hare oor wat om met daai woede te maak. Hy is ’n baie goeie speurder, maar hy laat soms sy vuiste toe om te veel van die praatwerk te doen. Hy is pas klaar met verpligte terapie om beheer oor sy woede te kry as slegs die kop van ’n kind in die woude buite die Limpopo-dorpie van Donkerbos gevind word en hy en Fanie (Erica Wessels) die saak moet oplos.

Die reeks, wat vir Showmax vervaardig is en steeds op dié platform beskikbaar is, is nou ook vanaf 21 Januarie 2024 op kykNET en DStv Stream (kanaal 144) beskikbaar.

Die premis van Donkerbos klink baie donker, maar is dit werklik so donker of is Nico Scheepers se teks eerder net ’n weerspieëling van realiteit?

“Met die eerste deurlees van die tekste het ek gewonder of dit nie dalk té ver gaan nie. Maar soos ek aanhou lees het, en ons toe begin skiet het, het ek besef dat dit absoluut ’n weerspieëling van die realiteit is. Veral in ons land. Ja, dit is donker en realisties. Maar as jy dieper kyk, dan sien jy jouself iewers in die reeks. Jy kan jouself vereenselwig met die karakters wat met woeste dinge te doene kry om dan só empatie én simpatie te skep wat help om ons medemens te verstaan en so die wêreld te genees.” 

Wilhelm van der Walt Donkerbos
Self-destructive maar met hope en hope empatie en simpatie vir die mense in sy lewe,” is hoe Wilhelm van der Walt sy Donkerbos-karakter, Sybrand, beskryf. Foto: Verskaf/Showmax

Nico is ’n bekroonde storieverteller – en dis welverdiend. Het jy druk gevoel om iets magies op te lewer, veral ná die sukses van Scheepers se TV-reeks, Nêrens, Noord-Kaap?

“Daar was definitief druk gewees, ja. Nie net nie omdat ek deel is van hierdie ongelooflike storie en geselskap nie, maar ook omdat ek regtig wou justice doen aan Sybrand en op die eerlikste manier met só ’n komplekse karakter omgaan. Gelukkig het ek al met Nico gewerk en ek ken sy smaak en styl. Maar ek dink die uitdaging was om my legkaartstukkie in sy pragtige legkaart te laat pas – om presies te verstaan hoe Sybrand deel [van die groter prentjie] vorm, en wat sy funksie in die storie van Donkerbos [as ’n geheel] is.

“Om saam met Nico te werk is ongelooflik. Nie net was ek gelukkig om hom as skrywer en regisseur op stel te hê nie, maar wat ook vir my uitstaan, is sy kalmte en geduld. Sy kalmte met moeilike tonele. Sy geduld as ek nog een vraag het oor ’n toneel of oor Sybrand, terwyl dit chaos is op stel.”

Watter vertolkings deur jou mede-spelers staan vir jou uit?

“Ek het meestal met Erica Wessels en Edwin van der Walt tonele gedeel. En met Speedo, die Duitse herdershond. Die casting was regtig uit die boonste rakke. Die rolle van Fanie en Braam het Erica en Edwin albei soos ’n handskoen gepas. Hulle toewyding en empatie met hul karakters het vir my uitgestaan. Daar was ’n gemaklikheid tussen ons. Ek en Erica het al ma en seun op die verhoog gespeel en ek en Edwin (speel) vir die tweede keer broers. Ons het met donker materiaal gewerk, maar dit ook probeer lig hou en lag vir mekaar as die kamera nie rol nie. Dit help as jy met sulke tipe tekste werk. Ek is hulle ewig dankbaar daarvoor.” 

Sybrand is ’n komplekse karakter – hoe gemaak om aanklank met hom te vind of jouself met hom te vereenselwig?

“Sybrand is ’n weeskind. Hy kom uit ’n stelsel waar hy van ’n jong ouderdom na homself moes omsien. Dit het hom sterk gemaak. Hy het ’n goeie hart en kyk verskriklik mooi na sy naastes, maar hy sit wel met ’n woedeprobleem wat sy lewe moeilik maak. 

“Sybrand se dryfkrag is om geregtigheid te laat geskiet vir almal wat dit verdien. Dit maak van hom ’n baie goeie polisieman. Dit is wel ook ’n geval van dat hy baie goed omsien na die mense in sy lewe, maar nie na homself nie. 

“Ek kon myself nie met alles van my karakter vereenselwig nie. Maar ek het vir Sybrand baie goed verstaan. Ons almal ken daardie man. Die donker polisieman met ’n moeilike verlede. Wat na almal om hom omsien, maar nie na homself nie. Alkoholmisbruik om sy emosies te dokter… Jare en jare se co-dependancy om sy emosies te onderdruk, maar wat dan op woede uitloop – so erg dat hy snap, rooi sien en dan met die nagevolge moet sit.” 

Watter aspekte of eienskappe van jou karakter het jy besonders boeiend gevind?

“Die eerste episode begin waar Sybrand pas ’n ses maande lange woedebeheerkursus voltooi het nadat hy ’n verdagte amper doodgeslaan het. Dit is waar my fassinasie [met die karakter] begin het. ’n Polisieman met ’n woedeprobleem. ’n Weeskind. Self-destructive maar met hope en hope empatie en simpatie vir die mense in sy lewe. 

“Ek dink die belangrikste wat ek van Sybrand wou vertel, is sy strewe na geregtigheid. Die onreg wat hy as baba aangedoen is, toe hy deur sy ouers abandon is, het ’n baie groot rol in sy lewe gespeel. Weeskinders werk meestal in die ekstreme. Hul verhoudings is óf baie intens, óf niks. So die verhoudings in sy lewe, soos met Braam (Edwin van der Walt) en Fanie (Erica Wessels), is baie verwronge, intens en baie liefdevol. Baie kompleks. Hy weet bloot nie hoe om anders lief te hê nie.

Weeskinders soek hul lewe lank na die liefde van hul ouers. Hulle sal enigiets doen om dit te kry en te behou – al beteken dit ook sy eie wese in die proses vergaan. Om dan terug te kom by sy strewe na geregtigheid – wat ek dus wou belyn met Sybrand, is sy toewyding en omgee vir die onderdruktes, al is dit hoe verwronge. Hy was immers self daar. Ongeregtigheid en onderdrukking herinner hom aan wat die sisteem aan hom gedoen het. Dis hoekom hy so ’n goeie polisieman is.” 

Wat dink jy is dit van die rillergenre wat mense so aangryp?

“Mense se fassinasie met ander mense se struwelinge en uitdagings – en hoe hulle dit oorkom – is so oud soos die berge. Ek dink die mens het ’n groot behoefte om gebroke karakters te sien en saam met hulle te reis deur al die kinkels en kabels van ’n riller. Daar is misterie. Geheime. Donkerte. Dit laat die adrenalien vir die kyker pomp.” 

Donkerbos, Wilhelm van der Walt
“Ek dink mense moet dit kyk, bloot om te sien hoe Nico (Scheepers) tussen drama en riller kan swaai,” sê Wilhelm van der Walt oor Donkerbos.

Daar is ’n reuse-rilleraanbod op TV – waarom moet kykers dan Donkerbos kies?

“Ek dink mense moet dit kyk, bloot om te sien hoe Nico tussen drama en riller kan swaai. Ook om te sien hoe ongelooflik talentvol die akteurs is. Dit gee ook ’n blik op wat aangaan in dorpies met ’n klein polisiemag wat met helse dinge moet deal, en op wat normale mense extraordinary situasies doen en waantoe dit hulle kan dryf.

“Een ding wat ek hoop deursyfer as mense dit kyk, en dit fassineer my al my lewe lank, is die optrede van mense, goed of sleg, en wat daartoe gelei het. En nog meer fassinerend, is as dit van iemand kom wat ’n mens nooit verwag het nie. ‘Hoekom het hy of sy dit gedoen? ’n Mens sou dit nooit van hulle dink nie.’ Dit is in daardie karakterstudies waar die bloudruk lê van mekaar verstaan. Waar dinge sin maak en ’n mens besef ’n mens is net mens en ons is tot alles in staat. En hoe meer ons mekaar verstaan, hoe meer verstaan ons onsself – wat eintlik maar die doel van die lewe is. Ons almal kan van mekaar se stories leer.”


Donkerbos se eerste episode word op 21 Januarie 2024 om 20:00 op kykNET uitgesaai. Daarna sal nuwe episodes weekliks op Sondae beskikbaar wees om te stroom. Die reeks is ook steeds op Showmax beskikbaar.


Let wel: Die oorspronklike weergawe van hierdie artikel is in November 2022 gepubliseer en is aangepas vir die reeks se bekendstelling op kykNET in Januarie 2024.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om kortfilms en dokkies die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies