Menu terloops
In Wat om te kyk [11 Aug 2025]

Dokter! Dokter! ‘The Pitt’ en 9 ander mediese reekse om nou te kyk


Van die spanningsvolle nuwe reeks ‘The Pitt’ tot die briljante goue oue, ‘House’ – in geval van nood, kyk hierdie mediese reekse om jouself met ’n skoot dokter-drama van verveeldheid te red…

Dokter! Dokter! ‘The Pitt’ en 9 ander mediese reekse om nou te kyk

En nee, Grey’s Anatomy is nié op hierdie lys nie!

As jy destyds ER gekyk het, dan het jy vir die akteur Noah Wyle as die ambisieuse jong dokter John Carter leer ken. Sedertdien het Wyle ook sukses in reekse soos Falling Skies en The Librarians behaal, maar hy dra weer ’n stetoskoop om sy nek in die aangrypende nuwe mediese drama The Pitt. Dié reeks saai Maandae vanaf 11 Augustus om 21:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uit en is ook Dinsdae op Showmax (vanaf 12 Augustus) beskikbaar. 

Die aanslag is iets – uiteindelik – anders wat mediese dramas betref. Trouens, soos David Sims van The Atlantic skryf: “Dit is reeds sonder twyfel die beste voorbeeld van die genre in meer as ’n generasie.”

Elke episode vertel oor een enkele uur van ’n uitmergelende, spannende en ontrusbarend realistiese skof by die Pittsburgh Trauma-hospitaal, óftewel “The Pitt”. Wyle is briljant as dr. Michael “Robby” Robinavitch – sy spel oor die 15 uur van die reeks is omvattend en meeslepend in hoe dit menslikheid – al die morsigheid daarvan inkluis – weerspieël. Die storielyne is elk ’n wipwarit en deurdrenk met die tipe intensiteit wat net kan kom van ’n draaiboek wat nie die realiteit van die wêreld om dit misken nie. 

Juis daarom word The Pitt wyd onder Amerikaanse dokters en verpleegsters as een van die mees realistiese uitbeeldings van dié land se gesondheidstelsel – en hoe sake daagliks op ’n praktiese vlak in hospitale hier uitspeel – beskou.

The Pitt, mediese reekse, TV-reekse, wat om te kyk
Noah Wyle is briljant as dr. Michael “Robby” Robinavitch. Foto: Verskaf

The Pitt is vir 13 Emmys benoem, waaronder as beste dramareeks, beste regisseur, beste draaiboek en beste akteur (vir Wyle). Die tweede seisoen is ook reeds in produksie. 

En as jy van The Pitt hou, sit ook hierdie stories op jou kyklys:

1

Al agt seisoene van dié bekroonde reeks is op Showmax beskikbaar.

Hugh Laurie het vir agt seisoene die rol van die mediese genie, dr. House, gespeel. Elke episode sien hoe House en sy span raaiselagtige mediese gevalle van pasiënte met bisarre siektes oplos. Buiten dat House aweregs en geweldig eiewys is, is hy ook glad nie ’n aanhanger van reëls nie en kom só gereeld in die moeilikheid. As dit nie was vir sy briljante brein nie, sou hy lankal sonder werk gesit het. 

Laurie is haas perfek in al 176 episodes van die reeks en het twee Golden Globe-pryse vir sy vertolking gewen. 

2

In Treatment S1-4

Uzo Abuda in In Treatment. Foto: Verskaf

In elke episode van dié hoogaangeskrewe dramareeks, word die psige van een van die terapeut dr. Brooke Taylor (Uzo Abuda) se pasiënte in oënskou geneem.

Meer as ’n dekade na die derde seisoen van die bekroonde drama, vertolk die Emmy-wenner Uzo Aduba (Mrs. America, Orange Is The New Black) die empatiese terapeut dr. Brooke Taylor, wat by die eerste drie seisoene se Gabriel Byrne as dr. Paul Weston oorneem.

Die eerste seisoen is in 2008 uitgesaai en het gedraai om Weston, ’n psigiator wat sy eie vermoëns en motiewe begin bevraagteken en hulp soek by sy voormalige mentor en terapeut Gina Toll.

Vir die vierde seisoen van In Treatment is die uitmuntende Aduba benoem vir ’n 2021-Emmy as beste aktrise. Soos Variety sê, is Aduba “bewys as een van die noodsaaklike akteurs van die 21ste eeu.”

Kyk dit op Showmax.

3

Kyk dit op Showmax.

New Amsterdam hou by ’n aantal van die tropes wat die mediese reeks-genre gewild (en ook moeg) gemaak het. Dink byvoorbeeld aan ’n bebloede pasiënt wat deur paramedici ingebring word. Daar word ’n klomp mediese terme vinnig-vinnig rondgeslinger, en byna onmiddellik kry die on-call dokter ’n diepe frons. Gelukkig bied New Amsterdam veel meer as dít.

Die reeks volg die briljante en sjarmante dr. Max Goodwin, die New Amsterdam-hospitaal se nuwe mediese direkteur. Hy is ’n idealis wat sonder skroom etlike reëls oortree om mense te help… Veral as hulle nie geld het om te betaal nie.

“How can I help?” blyk sy slagspreuk te wees, maar som ook die gees van die reeks op. Ryan Eggold van The Blacklist vertolk die hoofrol. 

4

Kyk al vier seisoene op Showmax.

Transplant is ’n dramareeks wat handel oor Bashir “Bash” Hamed, ’n vlugteling uit Sirië wat poog om sy loopbaan as ’n dokter by die ongevalle-eenheid van die fiktiewe York Memorial-hospitaal in Toronto, Kanada te herbou.

Die rolverdeling sluit in die BAFTA-genomineerde akteur John Hannah (Agents of S.H.I.E.L.D.) en Ayisha Issa (12 Monkeys), ’n voormalige Brasiliaanse Jiu-Jitsu-wêreldkampioen.

Wall Street Journal beskryf Transplant as “die beste mediese reeks op Amerikaanse televisie”.

5

Pulse

Kyk dit op Netflix.

Pulse is Netflix se eerste hospitaal-prosedurereeks – hul eie weergawe van ’n tipe Grey’s Anatomy of New Amsterdam as jy dit so kan stel. En, met eerste oogopslag, lyk dit heel belowend… Dit begin reeds met baie op die spel. Daar’s ’n oorkaan wat verwoesting in Miama saai en soos die ongevalle-eenheid oorval word, is daar ook drama onder die dokters.

Willa Fitzgerald vertolk die hoofrol van dr. Danielle ‘Danny’ Simms, wat onverwags bevorder word nadat haar geheime verhouding met dr. Xander Phillips (Colin Woodell) – ook haar baas – op die lappe kom en hy geskors word. Soos die storm buite die hospitaal woed, blyk dit dat hul gekompliseerde verhouding ook verreikende gevolge op hul kollegas het. 

6

Kyk dit op Showmax.

Ná ’n motorongeluk kan dr. Amy Larsen (die Emmy-benoemde aktrise Molly Parker van Deadwood en House of Cards) niks van die afgelope agt jaar onthou nie. Nie eens haar egskeiding of ’n tragedie wat daartoe gelei het dat sy haarself geisoleer het. Met haar geheue aangetas, sukkel sy dan om haar beroep as ’n dokter te hervat, en moet as’t ware ’n hele nuwe lewe begin. 

Die reeks is gegrond op ’n Italiaanse program wat weer deur ’n ware verhaal van ’n dokter wat ná ’n motorongeluk niks van die vorige 12 jaar kon onthou nie. 

Doc se eerste seisoen het ’n rekord aantal kykers vir ’n nuwe drama gelok. 

7

The Good Doctor S1-6

Stroom S1-6 op Netflix.

Dr. Shaun Murphy (Freddie Highmore) is ’n jong chirurg met outisme en savantsindroom wat sy buitengewone mediese gawes gebruik om lewens te red.

8

Chicago Med S6-9

Chicago Med, mediese reekse, TV-reekse
Steven Webber as dr. Dean Archer en Oliver Platt as dr. Daniel Charles. Foto: George Burns Jr/NBC

Seisoene 6-9 van hierdie drama stroom nou op Showmax.

Om in die trauma-eenheid van ’n hospitaal te werk, sit nie in almal se broek nie. Jy het senuwees van staal nodig én moet op jou voete kan dink om vinnige en akkurate besluite te neem as ’n pasiënt in die ER ingebring word.

Die dokters en verpleegsters in die mediese drama Chicago Med weet wat om te doen as die ongevalle-eenheid se deure oopswaai. In die aangesig van tragedie bring hulle lewe en lig, al beteken dit dat hulle ’n deel van hulself moet prysgee.

9

Virgin River S1-6

Stroom die eerste ses seisoene op Netflix. Die reeks is reeds vir ’n sewende uittog hernu.

Hoewel Virgin River in ’n mindere mate op Mel se mediese beroep as verpleegster en vroedvrou gemik is, maak die non-stop (oor)dramatiese uitdagings wat oor die karakters se pad kom wel op daarvoor.

Dié storie het begin met Mel (Alexandra Breckenredge) wat uit Los Angeles na ’n klein en afgeleë dorpie in Noord-Kalifornië verhuis. Hier hoop sy om ’n nuwe lewe ná ’n hartseer trauma te begin. Maar daar ontmoet sy mense – en meer spesifiek ’n baie aantreklike, hubare man – wat haar verwagtinge op hul kop keer.

Mel is al deur diepe waters in dié reeks. Sy het vir etlike jare gesmag om ma te word, al was haar dokters dit eens dat sy nie haar eie biologiese kinders sou kon hê nie. Maar toe sy uiteindelik swanger raak met Jack se kind, was hul geluk van korte duur met Mel wat in ’n skokkende wending ’n miskraam gehad het. Nou lyk dit egter asof aanneming dalk in hul toekoms is…

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies