In die eerste paar episodes van Diepe Waters het dit gou duidelik geword dat Daniëlle Swanepoel se karakter, Karla, die goue kind van die Swarts-gesin is.
Prestasie-hasie.
Dié tiener – met al die angs en drama so eie aan dié tyd in ’n mens se lewe – sukkel egter ook om die geweldige druk wat haar ma en oupa op haar skouers plaas, te hanteer. Hulle is so behep met die idee dat sy die beste swemmer in haar ouderdomsgroep móét wees, dat hulle haar menswees, haar tienerwees, uit die oog verloor.
Dié druk en onregverdige verwagtinge word, voorspelbaar en verstaanbaar genoeg, te veel. Sy is so bang sy stel haar ma dalk teleur dat sy ’n eetversteuring ontwikkel.
“Die grootste ding wat my oor Karla se storielyn verbaas, is die invloed wat volwassenes op kinders kan hê… En dat hulle dit nie eens agterkom nie. Karla is onder soveel druk dat dit haar gesondheid beïnvloed en niemand is bewus daarvan nie. Hoeveel sy op haar skouers dra, is erg, en die volwassenes om haar ignoreer al die tekens dat sy swaarkry… Of hulle gee net nie om nie,” sê sy.
“As kinders, wil ons altyd ons ouers en die mense rondom ons trots maak. Tog, nou dat ek Karla se storielyn vertolk, besef ek ook hoe ongesond dit kan wees. Ek is gelukkig dat my familie nog altyd net supportive was. Ek is egter nou meer bewus van vriende rondom my wat wél onder dieselfde druk as Karla lewe. Dit is nogal skokkend en ek verstaan nou hoe hulle voel.”
Debuutrol
Dit mag dalk die 18-jarige se debuutrol op die kassie wees, maar sy vertolk die rol so oortuigend dat beide Daniëlle en Karla aan die kyker bekend voel. Sy lyk gemaklik in Karla se skoene. Dis danksy kranige waarneming van haar vriende se ervarings dat sy die rol so oortuigend kan speel, meen sy.
“Ek sien wat dit aan hulle doen, hoe dit hulle verander. Dít is wat ek gebruik om Karla se emosies outentiek te vertolk. Dit was maar moeilik aan die begin, maar soos jy die karakter leer ken, word dit makliker,” voeg sy by.
As kinders, wil ons altyd ons ouers en die mense rondom ons trots maak. Tog, nou dat ek Karla se storielyn vertolk, besef ek ook hoe ongesond dit kan wees. Ek is gelukkig dat my familie nog altyd net supportive was.
Daniëlle Swanepoel
“Ná ’n rukkie begin jy die karakter só goed verstaan dat dit vir jou voel asof jy regtig daardie persoon is. As Nadia Valvekens (wat die rol van Karla se ma, Sanet, vertolk) op Karla skree, voel dit vir my asof ek self in die moeilikheid is en dit word makliker om die emosies te wys.”
Onverwagse koers
Die rol het heeltemal onverwags oor haar pad gekom, vertel Daniëlle.
“Ons is groot sepie-aanhangers in ons huis. Ek en my ma en ouma het altyd Suidooster, Getroud met Rugby en Binnelanders saam gekyk. My suster het die rol van Petro in Getroud met Rugby vertolk, so ek was al voorheen op ’n TV-stel, maar ek het nooit regtig daarin belanggestel om voor die kamera te wees nie. Een aand het my ma in my kamer gekom omdat my sussie se agent vir haar ’n oudisie gekry het, maar dit was vir ’n ouer kind. Dit is toe dat my ma vir my vra om ’n oudisie-tape (daarvoor) te maak,” sê sy.
“Ek wou nie eintlik nie, maar het toe ingestem om my ma van my rug af te kry. Ons het dit ingestuur en toe laat weet hulle dat ek ’n call back het. Ek wou weer nie, maar toe oortuig my ma my om dit net te probeer. En nou is ons hier,” verduidelik Daniëlle.
Al wou sy nie aanvanklik die oudisie doen nie, was sy wel baie bly toe sy die rol gekry het… Altans, totdat sy besef het haar rol is nie ’n geringe een nie en dat sy eintlik een van die hoofspelers is.
“Soos ek voorheen gesê het, ons is groot sepie-aanhangers en ek was ’n massive Getroud met Rugby-fan. Toe ek by die eerste table read besef dat Altus (Theart) my pa gaan speel en Werner (Coetser) my oom, het ek onmiddellik vir my ma gevra ‘wat doen ek hier?’. Dit het gevoel asof ek nie daar hoort nie. Veral nie met sulke groot name op stel nie! Maar die produksiespan het my baie gemaklik laat voel. Hulle het verduidelik dat almal weet dat ek nuut is en dat alles fine gaan wees. Al die akteurs was ook baie nice en het my vinnig tuis laat voel.”
Ná ’n paar pep talks met haarself, het Daniëlle besluit om dit haar alles te gee en te maak asof sy weet wat sy doen. Die Engelse sê mos, “fake it till you make it”. Dít is presies wat hierdie uitblinker, met haar natuurlike talent vir toneelspel as basis, gedoen het.
Toneelspel-gogga byt
“Die toneelspel-gogga het my kliphard gebyt, so ek is dankbaar dat my ma my oortuig het om dit te probeer, al was sy bekommerd oor die ekstra werk in my matriekjaar. Ek het aan die begin gedink dit is heel maklik, want ons het in die vakansie begin skiet. Maar nou dat dit eindeksamen-tyd is, kan dit soms moeilik wees. Deesdae is daar maar min tyd vir kuier, ek is altyd besig om te studeer of om lyne te leer. Maar ek is dankbaar vir die geleentheid.”
As dinge te veel raak, is daar niks so lekker as om te gaan draf om haar kop skoon te kry nie. Sondagkerk is ook vir haar belangrik, want sy voel dit gee haar die krag vir die week wat voorlê. Om flieks saam met haar familie te binge, is nog iets wat haar laat ontspan, al kyk sy deesdae heel anders na flieks.
“Ek vind dat ek baie meer dink oor hoe die toneel geskiet is en hoe moeilik dit was en hoe hulle die shot gekry het. Dit is nogal vreemd, maar dit is seker normaal vir mense in die bedryf.”
Oor wat nog wag
Daniëlle beplan om volgende jaar ’n gap jaar te vat en enige geleentheid aan te gryp. Om eendag ’n sielkundige te word, is ook deel van haar toekomsplanne.
“Sielkunde en toneelspel het nogal baie in gemeen. In albei beroepe ontleed jy mense en moet jy in hul kop klim om die persoon of karakter te kan verstaan. Jy leer ook hoe hulle dink en dit tel vir albei beroepe. Dit is fassinerend.”
Oor haar karakter dink sy mense gaan verbaas wees om te sien in watter rigting die storielyn beweeg. Ons gaan Karla sien groei – met goeie en slegte keuses. En deur bloot in Karla se skoene voor die kamera te staan, het Daniëlle reeds baie oor die lewe, vriendskap en prestasiedruk geleer, deel sy.
“Mense sal nie verwag wat volgende kom nie. Almal moet Diepe Waters kyk want daar is nog soveel familie-, liefdes- en finansiële drama wat op kykers wag.”