Kykers sal hom herken as die karakter Wessel – of moet ek eerder sê Gerhard? – in Binnelanders. Hierdie sjarmante en slinkse karakter was toe mos die halfbroer van dr. Annelize Roux (Cindy Swanepoel), maar in sy nuutste rol verruil Eric Bouwer die gange van Binneland-kliniek vir ’n plekkie langs die Swartmarlyne se swembad in kykNET se gewilde telenovela Diepe Waters.
Hy mag dalk nie formele opleiding hê nie, maar dié talentvolle akteur Eric Bouwer is ook nie ’n vreemdeling as dit by die kassie en grootskerm kom nie.
Eric vertel vol grappe hoe hy nooit ’n goeie leerder op skool was nie en hoe hy altyd met sy kop in die wolke deur die lewe beweeg het.
“Ek was daai kind wat altyd uit die venster gekyk het. Soms het ek iemand in ’n tuin sien werk en het net gedink, ‘Sjoe, maar dit moet darem lekker wees om heeldag met jou hande in die te tuin te kan werk. I just wanted to be him!” vertel hy terwyl hy saggies lag.
“As ek nou daaraan terugdink, sou ek seker in vandag se tyd met iets soos ADHD gediagnoseer word en dit sou seker van my ’n beter student gemaak het. Maar gelukkig het ek nie te sleg uitgedraai nie.”
Eric het ná skool Engelse letterkunde en wiskunde deur Unisa begin studeer, maar besef dat ’n loopbaan in die kunste ’n beter besluit vir hom sou wees. So het hierdie cinema junkie toe onmiddellik by die Afda-rolprentskool ingeskryf.
“Ek was net drie daar dae en toe kry ek per ongeluk ’n oudisie vir Egoli. The rest is history!” vertel Eric.

Van die ‘Plek van Goud’ tot ‘Diepe Waters’
“As ek sien hoe gelukkig ons deesdae op stelle is, dink ek nie alle akteurs besef hoe gelukkig ons is dat die produksiespan die skedules op so ’n manier reël dat ons nog ander werk ook kan doen nie. Dit het nie altyd so gewerk nie. Toe ek op Egoli se stel gewerk het, moes almal elke dag heeldag op stel wees. Daar was maar min tyd om ander dinge tussenin te doen. Dit is hoekom ek nie kon swot en werk nie.”
Eric sê hy sal beslis vir jongmense aanraai om eers te swot en dan te gaan werk, want al was hy gelukkig in sy loopbaan, is daar steeds tegnieke wat hy eerder van sou wou weet as wat hy dit nou op ’n stel moet kom leer.
Tog het hy sy eie full circle-oomblik op die stel van Diepe Waters beleef toe hy in die skoene van Dominee Ben geklim het.
“Ek was nie lank genoeg by Afda om verhoudings te bou nie, maar Justin Strydom wat die rol van Gys Swarts vertolk, was een van my dosente. Dit was nogal cool toe ek hom ná soveel jare vir die eerste keer weer op stel sien.”
Ek sê steeds dat dit altyd beter is om te gaan swot, maar om van wêreldklas akteurs en regisseurs te leer is ’n voorreg en was vir my die beste leerskool. En dan word ek nog betaal ook!
Eric Bouwer
Gereed vir ‘dominee’-uitdaging

Anders as baie akteurs wat glad nie televisie kyk of selfs ’n televisie besit nie, is Eric ’n groot aanhanger van televisie en film.
So natuurlik het hy al genoeg dominee-rolle op TV gesien om te weet dat dit dalk ’n bietjie van ’n omstrede rol kan wees. Nietemin was hy gereed vir die uitdaging.
“Kort voordat ek die rol gekry het, het ek die storielyn met Suidooster se skelm dominee gekyk en ek het die backlash op sosiale media gesien. Dit het my ’n bietjie angstig gemaak, want ek weet kykers is baie passievol as dit by kerksake kom,” vertel hy.
“Die oomblik toe ek my karakter se agtergrond lees en ’n bietjie meer inligting oor sy persoonlikheid gekry het, was ek kalm. Hy gee genuinely om vir sy medemens en het daai humble en laidback persoonlikheid. Dit is nogal iets waarna ek graviteer.”
Wêreldklas aktrises

Oor ’n moontlike romanse tussen sy karakter en dié van Nadia Valvekens se karakter Sanet, wou hy niks verklap nie.
“Mense sal maar moet inskakel om te sien wat in die lewe van Dominee Ben en sy gemeente aangaan,” vertel hy laggend.
Hy sê wel dat dit vir hom ’n groot eer is om teenoor sterk en wêreldklas aktrises soos Cindy Swanepoel en Nadia te kan speel.
“Hulle is van die beste in ons bedryf. Ek moet erken dit is wanneer ek teenoor mense soos Nadia speel dat ek soms ’n bietjie senuweeagtig is en effens imposter syndrome beleef. Ja, sy het beslis natuurlike talent, maar haar tegniek is iets anders. Dit is ongelooflik! Sy is altyd in beheer en as sy in ’n toneel is, weet jy sy gaan 110% na die tafel bring. Dit hou my op my tone en help dat ek nog meer vir ’n toneel wil gee.”
Passie loop diep
Eric meen die ondervinding wat hy al op stelle soos Diepe Waters, Binnelanders, Getroud met Rugby en Spoorloos gekry het, is meer werd as enige klaskamer of teksboek.
“Ek sê steeds dat dit altyd beter is om te gaan swot, maar om van wêreldklas akteurs en regisseurs te leer is ’n voorreg en was vir my die beste leerskool. En dan word ek nog betaal ook!”
Binne enkele minute kom ’n mens agter dat Eric se liefde vir die bedryf diep loop. Hy mag dalk nie self geswot het nie, maar hy het al genoeg flieks en televisie gekyk om vir jou presies te kan sê wie watter Oscar en Emmy wanneer gewen het. Hy het ook as jong man ure voor die spieël spandeer en honderde akteurs se tonele opgevoer.
Daar is seker min mense wat nog gereeld fliek soos Eric en wanneer hy nie self op stel is nie, sal jy hom heel moontlik by die cinema kry.
Hier is Eric se cinema cheat sheet vir fliekliefhebbers.
Beste fliek wat ooit gemaak is?
Daar is te veel om van te kies, maar enige iets van Terrence Malick sal in my top-10 wees.
Die laaste fliek wat jy in die cinema gekyk het?
Killers of the Flower Moon
As jy net een fliek vir die res van jou lewe kon kyk, wat sou dit wees?
Dit hang regtig van my mood af.
Wie dink jy is een van die mees underrated powerhouse-akteurs in Hollywood?
Rooney Mara
As jy deel konvan enige toneel in ’n fliek kon wees, watter toneel sou jy kies?
Dit is maklik! Die finale vegtoneel tussen Al Pacino en Robert de Niro in die fliek Heat.
Wat moet jy saam met jou in ’n cinema hê?
Whiskey… Jammer, ek bedoel Whispers!
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.