Menu terloops
In Gons [7 Des 2023]

‘Binnelanders’ se Cindy Swanepoel nou deel van immergewilde Afrikaanse komedie, ‘Magda Louw’


Nuwe jaar, nuwe dinge – én nuwe gesigte in die gewilde komediereeks ‘Magda Louw’. Cindy Swanepoel is een van die toevoegings tot die rolverdeling en klim in die skoene van Gertrude wat voorheen deur Cintine Schutte vertolk is.

‘Binnelanders’ se Cindy Swanepoel nou deel van immergewilde Afrikaanse komedie, ‘Magda Louw’

Wanneer die tweede seisoen van kykNET se gewilde plaaslike komediereeks op 1 Januarie 2024 afskop, gaan kykers ’n paar nuwe gesigte ontmoet. Die grootste verandering is Cindy Swanepoel (dr. Annelize Roux-Koster in Binnelanders) wat nou die rol van Gertrude Louw vertolk. Cintaine Schutte, wat in die eerste seisoen dié rol vertolk het, was weens ander verpligtinge nie beskikbaar vir die tweede seisoen nie. 

Saam met Cindy, is Magda Louw se hoofkarakters die veelsydige Desiré Gardner as Magda, Hannes van Wyk as Erhard, Bennie Fourie as Baltus en Gershwin Mias as Shaun.

Onder van die ander bekende gasakteurs wat wéér hul verskyning in die reeks maak, tel Shimmy Isaacs as Lynette, Margit Meyer-Rödenbeck as Marlene, André Weideman as dr. Havenga, Mandri Sutherland as Delere en Mienke Ehlers as Lydia.

Daar is ook ’n handvol nuwe karakters wat kykers gaan ontmoet. Só kom Erhard se broer Ferdinand, wat deur Louw Venter vertolk word, ’n draai maak, terwyl Magda se paaie ook met ’n sosiale media-kenner, Sol, gespeel deur Wian Taljaard, kruis. 

Hier is ’n vinnige vyf vrae aan Cindy Swanepoel oor haar rol in Magda Louw:

In jou eie woorde, hoe sal jy jou karakter Gertrude beskryf?

“Gertrude is ’n vrou wat op haar eie voete staan. Sy vat nie nonsens nie. Sy is ’n realis wat miskien partykeer kan voorkom asof sy negatief is, maar sy is nie rêrig nie. Sy is net nie ’n vol fiemies-mens nie.

“Ek dink sy boor ook alles self in haar huis en sy kap ’n ding. Sy is selfstandig. Dit is vir haar belangrik dat ’n man nie dinge vir haar hoef te doen nie – sy kan dit self doen.”

Magda Louw, Cindy Swanepoel
Cindy Swanepoel vertolk vanaf die tweede seisoen die rol van Gertrude in Magda Louw. Cintaine Schutte het voorheen dié karakter gespeel. Foto: Verskaf

Wat kan kykers van Gertrude in seisoen 2 verwag?

“Gertrude gaan definitief swanger wees. Daar gaan dalk ’n verandering by haar plaasvind… So ’n  bietjie van ’n transformasie. Dit gaan nie massive wees nie, maar ek dink om ma te word, verander wel iets in ’n mens.”

Hoe was dit vir jou om komedie te doen? 

Ek is baie lief vir komedie. Dit is my gunsteling-genre en dit is ’n verskriklike uitdagende genre, want jy moenie probeer om snaaks te wees nie, want dan is iets juis nie snaaks nie.

“Ek dink dit gaan maar daaroor om vir Desiré (Gardner) te ondersteun. Magda is eintlik die kern-een, die snaakse een. Hoe meer jy jou karakter real speel en nie as ’n karikatuur speel nie, maak dit haar snaaks. 

“Dis baie ensemble-werk. Dit gaan nie oor my nie, dit gaan daaroor om mekaar te ondersteun om die toneel snaaks te maak. 

“Ja, ek love komedie. Gló net in die scene – dis so lekker geskryf dat dit baie maklik gebeur.” 

Hoekom dink jy is Magda Louw so gewild onder kykers?

Ek dink dis omdat dit so werklik is dat mense daarmee kan identifiseer. Dit is die klassieke Afrikaner-huishouding – die kos wat geëet word, die goed waaroor gepraat word, doilies… 

“Daar is ’n karakter vir elkeen om mee te identifiseer – of dit is die huishouding self. Dis eerlik en eg. En dít is wat dit snaaks maak.”

Is daar iets besonders van jou tyd op hierdie stel wat jy vir altyd met jou sal saamdra?

“Ek het verskriklik baie gelag. Desiré is ’n ongelooflike skrywer. Ek kon nie wag om die tekste te lees nie. Sy het rêrig net so ’n talent . . . ek bewonder haar skryfwerk. Sy is ongelooflik snaaks en ons het bitter baie gelag. En ons het soveel in gemeen. Ek was met ope arms verwelkom. 

“Omdat Cintaine reeds die karakter gespeel het, was ek nogal senuweeagtig want ek het ’n ander energie. Niemand van ons is dieselfde nie, daarom maak dit nie saak wat ek gedoen het nie, want ek sou nie Gertrude presies soos sy kon doen nie. 

“Almal het my vertrou en baie grasie gegee om die karakter self te kan inkleur op my manier, met karaktertrekke wat Cintaine reeds gevestig het. 

“Dit was net ’n verskriklike lekker omgewing om in te werk. Ek kon nie glo ek gaan elke dag werk toe nie – ’n mens kan dit nie werk noem nie. Dit is tog wat ek nog altyd wou doen: ek wou net gaan speel by die werk. 

“Die dae het so vinnig verbygegaan. Toe ek weer sien, toe’s dit verby. Ek hoop rêrig vir nog!”


Die tweede seisoen van Magda Louw begin op Maandag 1 Januarie 2024 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die eerste seisoen is op Showmax beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies