Menu terloops
In Onderhoude [14 Nov 2023]

Cintaine Shutte oor die toorkrag van teater en TV


Die aktrise Cintaine Schutte kan soomloos tussen komedie en drama spring; werk ewe gemaklik in Afrikaans of Engels; speel van floskoppies soos Retha in die nuwe kykNET-reeks ‘Straat’, tot ʼn ernstige prokureur in ‘Fynskrif’ op Showmax, en ken die kuns van die verhoog én televisie-kamera. Dié veelsydige aktrise gesels oor haar vasbeslotenheid om haarself te bly uitdaag en oor die noodsaaklikheid van sterk ‘collaborations’.

Deur Riëtte van der Wat

Kyk hier vir Cintaine as Retha in Straat

Cintaine Shutte oor die toorkrag van teater en TV

Sy’s die moody Masha in die rolprentverwerking van die Russiese dramaturg Tsjekof se toneelstuk Die Seemeeu, die skamerige, broos poskantoorwerker Rita in die romantiese fliek Bus 7070, Mart in die TV-verwerking van Dinge van ʼn kind, en die geharde prokureur Katrien in die regsdrama Fynskrif en nog ʼn string ander karakters in reekse en flieks wat op Showmax beskikbaar is.

Cintaine Schutte is ook te sien in die nuwe kykNET-dramareeks Straat, uit die pen van Paul C. Venter, wat tans op kykNET uitgesaai word. Daarin speel sy Retha, ʼn oënskynlike floskoppie wat getroud is met Maxwell Smit (Hannes Brümmer), die dorpsapteker wat met meer as net pille smous.

Cintaine het ook tot onlangs ʼn rol in die teaterverwerking van The Promise (Damon Galgut se Booker-bekroonde roman) vertolk én het by vanjaar se Woordfees in Oktober in die produksie Tuis, ek’s liefie gespeel.

Boonop is sy en Wilhelm van der Walt gereeld saam in mense sitkamers en om hul swembaddens vir hulle huiskonsert, Mutton Hour, ʼn jolige uur van lawwe verhale oor die liefde, verlies, katte en krokodille. Die regisseur is Gideon Lombard.

Cintaine Schutte
Cintaine Schutte was een van drie aktrises wat Mart op verskillende tye in dié karakter se lewe in Dinge van ʼn kind gespeel het. Foto: Verskaf

Saamwerk is die sleutel

Dat sy ʼn veelsydige en vernuftige kunstenaar is, is ooglopend en haar werksywer is iets om te bewonder.

“Ek dink dis die natuur van ʼn vryskutaktrise. Jy is jou eie baas en jy moet die vuur onder jouself laat aanhou brand. Ek dink ook hoe ouer ek word, hoe minder bang is ek om nuwe dinge te probeer. ’n Mens kry meer vertroue in jouself,” sê Cintaine.

Sy sukkel om stil te sit.

“So, as ek klaar met ʼn projek is, wil ek nuwe werk, of nuwe geleenthede opline. Al kan ek seker wag vir die volgende projek om op te daag, wil ek eerder agter die skerms werk. Daar’s iets aan besig bly – jy weet nie in watter ruimtes jy sal inloop wat tot nuwe collaborations sal lei nie.”

Collaboration” is vir haar soos ʼn loopbaan-mantra.

“Covid-tyd was baie rof vir kunstenaars, maar dit het ons ook uit die boks leer dink. Die sleutel in ons bedryf, is om saam te werk. Dit kan nie me, myself and I wees nie. Waarom nie ander kunstenaars betrek, soos skrywers, dansers en beeldende kunstenaars nie? Mense het besef hulle moet saam werk om iets te laat gebeur.”

Wanneer iemand ʼn nuwe projek vir haar aanbied, kyk sy altyd wie saam met haar sal werk.

“Ek weet ʼn stuk het ʼn sekere tipe regisseur nodig wat my die regte spelleiding sal gee; of dat ʼn rol ʼn sekere soort mede-akteur gaan verg teenoor wie ek kan speel, om veilig te voel in ʼn produksie. Jy kan al die talent in die wêreld hê, maar as jy nie ʼn spanspeler is en hard werk nie, gaan jy nêrens kom nie.”

Die grootste leermeesters

In Oktober het Cintaine bedags in die komiese Woordfees-produksie, Tuis, ek’s liefie, gespeel en saans in die komplekse toneelstuk The Promise, by The Star-teater (die voormalige Fugard-teater) in Kaapstad.

Om op een dag in die 1950’s huisvrou Judy se vel te klim en saans in die stereotipiese Tannie Marina en Desireé sʼn, was uitdagend en die genres radikaal verskillend. Dit was taai, maar Cintaine sê haar kollegas het haar geanker.

“My grootste leermeesters, wat spasie vir my hou, is my regisseurs en die casts saam met wie ek werk. Janice Honeyman, die regisseur van Tuis, ek’s liefie en Sylvaine Strike (wat die regie van The Promise gedoen het), het altyd gevra hoe hulle dinge vir my kon makliker maak.”

Die karakters wat sy in The Promise moes vertolk, was veral uitdagend.

“Hulle is nie die lieflikste mense wat jy sal teëkom nie. Hulle is baie ongelukkig – ons almal het sulke mense in ons lewe en ons families. As aktrise moet jy ʼn spieël vir die gehoor ophou oor patrone wat ʼn mens kan raaksien en breek… Dit was interessant om die gehore in Kaapstad en Johannesburg se verskillende reaksies te ervaar. Ek moes myself bly herinner dat my karakters nie Cintaine is nie, al moes ek 100% vir hulle gee. Almal in die cast het maar wobbles gehad oor die intensiteit, maar dis daar waar ons mekaar kon dra.”

ʼn Mens kán jouself so ʼn bietjie in die werk verloor, sê sy.

“Maar dan is dit klein goedjies wat help, soos om gesond te eet of genoeg te slaap. En my man wat vir my sê om gou ʼn nap te vat voor ek saans weer gaan werk.”

Moenie judge nie

Net soos Tannie Marina en Desireé, is Retha in Straat iemand wat hemelsbreed van Cintaine verskil.

“Ek het nog nooit iemand soos sy gespeel nie. Ek het baie fun met haar gehad en ek het my Pretoria-poppie laat gaan met die hare en die naels en die leopard print. Die regisseur, Morné du Toit, het my baie vryheid gegee.”

Cintaine Schutte in Straat op kykNET. Foto: Carlo Kindo
Cintaine Schutte as Retha Smit in Straat.

Met Retha, nes met enige karakter wat sy vertolk, het sy ʼn belangrike les in gedagte gehou wat sy reeds vroeg in haar loopbaan by die bekroonde regisseur Christiaan Olwagen geleer het: “Jy mag nóóít jou karakter oordeel nie en jy moet hul waarheid vind.”

Soos Cintaine vir Retha uitbeeld, word dié karakter meer kompleks as met die eerste oogopslag. 

“Retha bou mure om haar, om tragiese dinge weg te steek. Ons het mos almal maar ʼn klomp geheime om ander én onsself te beskerm. Met Retha het ek gefokus op die dinge wat sy wegsteek en ook die dinge wat sy einde se kant toe nie meer kan wegsteek nie. Ons almal het mos al iemand teëgekom wat sê alles is fine, terwyl dit nie die geval is nie.”

Die manier waarop Paul C. Venter vir Retha geskryf het, het haar baie keer laat dink sy sou iets self nooit op ʼn sekere manier sê nie.

“Dit was ʼn uitdaging om die woorde gemaklik te maak in Retha se mond.”

Sy het uit die staanspoor veilig gevoel om die projek saam met Morné as regisseur aan te pak.

“Ons was saam in een van my eerste projekte, Knynsa, en ek het nog altyd baie respek vir hom gehad.”

Toe sy Straat se draaiboek die eerste keer gelees het, het die groot aantal hoofkarakters haar verstom.

“Ek het gedink, ‘Genade, hoe gaan hy al die drade bymekaarbring met al hierdie karakters wat fully fleshed storielyne het?’ Maar dis waar Morné gesê het almal moet net op hulle eie storielyn fokus, dis sý werk om seker te maak alles kom bymekaar uit. Wat lekker was, is dat hoe meer ek die teks gelees het, hoe meer wou ek speurder speel oor ander mense se storielyne. Mens hoop kykers sal dieselfde ervaar…”

Sy het dit baie geniet om teenoor Hannes te speel, wat die effens glibberige Maxwell vertolk.

“Ag, ou Hannes. Ek was so bly hy is my Maxwell. Ek hou baie van sy proses. Tussen tonele het ons baie tyd gehad en as ons in die grimeerstoel sit, het ons gepraat oor die dag se scenes en hoe ons dit saam wou aanpak; oor wat die karakters se geskiedenis is en oor waar ons dit lig, of donker, wou maak.”

Cintaine Schutte
Cintaine Schutte vertel oor hoe sy en haar medester in Straat, Hannes Brümmer, saamgewerk het: “Tussen tonele het ons baie tyd gehad en as ons in die grimeerstoel sit, het ons gepraat oor die dag se scenes en hoe ons dit saam wou aanpak; oor wat die karakters se geskiedenis is en oor waar ons dit lig, of donker, wou maak.”

Vlymskerp spel-gereedskap

Daar is altyd iets te leer, of dit nou op ʼn rolprent- of teaterstel is.

“Ons het vyf weke gerepeteer aan The Promise, wat góúd is, omdat ons meestal net twee of drie weke het voor ons vir vyf performances feeste toe gaan. Ons het van nege tot vyf elke dag gerepeteer. Soggens het ons met ʼn vocal warm-up begin en daarna het ons die stuk ge-workshop. Dit was all in. We hit the ground running.
Die taal waarmee Sylvaine baie werk, is fisikaliteit. Sy werk ook baie met clowning, iets wat ek nog nie vantevore gedoen het nie. Sylvaine het my die geskenk van presisie, motivering en intensie gegee. Onder haar kon ek dié gereedskap so verskerp, dat ek dit ook in my spel in Tuis, ek’s liefie, kon sien. Dis iets wat ek altyd met my sal saamvat.”

Om saam met Sylvaine te werk, was ʼn “bucket list”-ervaring vir Cintaine. Sy het dit ook geniet om weer in Engels te werk.

“Ek het voorgraads drama by die Universiteit Stellenbosch (US) geswot en het nagraads by die Universiteit van Kaapstad my honneurs in spel voltooi. Ná my studies het ek meer in Engels gewerk, voor ek weer teruggekeer het na my Stellenbosch crowd toe. Ek dink jy móét jouself met ʼn verskeidenheid mense omring.”

Dis soos magic

Daar is geen verskil tussen die dissipline wat sy tussen die Engelse en Afrikaanse bedryf ervaar nie, maar Cintaine merk op dat daar op die oog af veel meer geleenthede in Afrikaans is.

“Die speelvak van ons stukke is dikwels langer, as gevolg van die feeste en daar word baie werk in Afrikaans gegenereer,” sê sy met verwysing na kykNET, projekte soos die Silwerskermfees en die Jakes Gerwel Stigting se mentorskapprogram vir draaiboekskrywers.

“Dit gaan goed met die Afrikaanse bedryf.”

Die diversiteit van projekte op stromingsplatforms soos Netflix en Showmax, speel boonop ʼn rol om gehore aan ʼn groter verskeidenheid genres bloot te stel.

“Die tannie wat altyd net sepies gekyk het – niks teen sepies nie – kan ook nou ʼn kunsfliek raaksien op Showmax. Jy het nie meer ʼn verskoning om nié verskillende tipe inhoud te kyk nie.”

By feeste, waar gehoorlede dikwels uitgeloop het as hulle hul vir ʼn stuk vervies het, ervaar sy ook ʼn skuif.

“Ek weet nie of mense dalk deur die jare meer empatie met kunstenaars ontwikkel het nie. Dis asof daar ʼn groter besef is dat jy nie van ʼn stuk hoef te hou nie, maar jy kán waardeer wat die kunstenaars doen en jy kan jouself die toestemming gee om jou eie opinies oor iets te vorm, eerder as om opgesweep te raak deur wat ander mense sê. Dít is genoeg vir my, as kunstenaar.”

Sy dink ook iets soos Mutton Hour is ʼn goeie eerste blootstelling aan die teater. Dié stuk het ontstaan in Covid-tyd, toe sy en ander akteurs koppe bymekaargesit het oor hoe hulle teater na mense toe kon neem. Hulle het befondsing vir die produksie gekry by Nati en die Suidoosterfees.

“Dis ʼn lekker uurlange toneel. Dit is alles waarvan ons hou van teater en in ʼn mengelmoes saamgegooi het. Dis so lekker om in mense se sitkamers en langs hul swembaddens te perform. Ek hoop ook dit laat sommige mense, wat nog nooit teater toe gegaan het nie, oorweeg om volgende keer ʼn kaartjie te koop vir iets in die Baxter. Jy moet net ʼn taste van teater kry… daar is net iets magical aan mense wat so iets saam, maar individueel, beleef.”

Altyd nog ʼn storie

Sy is opgewonde oor teater, televisie en flieks in Suid-Afrika en oor die magdom ongelooflike stories wat daar nog is om te vertel. Wat presies haar toekoms inhou, sal net die tyd leer.

“ ʼn Vyfjaarplan is nie moontlik in ons bedryf nie, maar ek weet ek wil aanhou werk en stories vertel. Ek wil ook baie graag op mentorskap begin fokus,” sê sy. “Ek gee nou klas vir dramastudente by die US. Die jong talent en hul selfvertroue om uit die boks te dink, is amazing. Ons móét ʼn jonger gehoor begin kweek, want dis hulle wat eendag die teaterkaartjies gaan koop.

“En dan wil ek ook baie graag eendag regie doen, of dit nou vir flieks, TV of teater is. Ek wil ook my meestersgraad in spel by ʼn universiteit in Amsterdam voltooi. Dís iets wat ek in collaboration met mense van ander lande wil doen, want ons kan baie by mekaar leer. En natuurlik sal ek graag weer ʼn hoofrol wil speel in ʼn reeks, sodat ek elke dag kan ingaan stel toe en aan ʼn storielyn kan werk. Solank ek myself aanhou uitdaag.”


Straat saai Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uit. Dit is ook op DStv Stream beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies