Die nuwe reeks Spinners beloof hope spanning, wildewragtig wiele-aksie en ’n kykie na die bendelewe op die Kaapse Vlakte. En daar is ’n jong vrou wat nie ’n fraksie terugdeins vir die petrolkoppe as dit kom by spinning nie. (Lees ook ons resensie hier.)
Die rol van die onkeerbare Amber, wat as een van die beste spinners in die land gereken word, word vertolk deur Chelsea Thomas. Kykers sal haar baie goed onthou as die onskuldige en naïewe Angel Galant in kykNET&kie-telenovela Arendsvlei.
En die kersie op die koek is natuurlik dat sy en Cantona James, wat die rol van Daniel Lafras in Arendsvlei vertolk het, nou weer saam in Spinners verskyn. Maar hierdie keer is hulle in twee verskillende kampe.
Wie gaan die beste spinner wees? En kan daar dalk gevoelens opduik wat die spreekwoordelike spanner in the works gaan gooi?
Om in Spinners weer saam met Cantona te werk, was net ’n droom wat waar geword het. Hy is een van daardie mense met wie jy oor en oor wil werk.”
Chelsea Thomas
Vertel ons van jou karakter in Spinners?
“Ek vertolk die rol van Amber; sy is die beste vroulike spinner in die land. Sy is Ethan (Cantona James) se mededinger, maar sy kan moontlik sy liefdesbelangstelling word.”
Is daar baie vroue betrokke by spinning?
“Ek het in Kraaifontein grootgeword, en gedurende my kinderjare sou ek altyd op ’n Sondag veld toe gaan waar al die motors bymekaargekom het om te spin.
“Ek het destyds net mans gesien spin. Dit was eers toe ek begin werk het aan Spinners dat ek uitgevind het vroue oorheers nou eintlik die sport.”
…ek is mal daaroor dat ons wêrelde uitmekaar is en ek is so uit my gemaksone; dit was ’n ervaring waar mens groei en nederig word. As aktrise het ek geleer om altyd oop te wees vir nuut, vir meer en ek wil aanhou om meer dinge te probeer waaraan ek nie gewoond is nie.
Chelsea Thomas
Soos jou stunt-dubbel, Kayla Olifant?
“O my hemel! Kayla is absoluut vreesloos. Sy is ongelooflik. Sy is beslis een van die beste spinners in die land, en sy is mal daaroor om te wen. Ek sê dit heeltyd: ek weet nie hoe Kayla dit doen nie. Die dinge wat sy doen voel super roekeloos, maar sy is mal daaroor. Jy kan die passie in haar oë sien. Jy weet wanneer jy in mense se oë kan kyk en jy kan net ’n vuur sien brand vir iets? Dis presies hoe dit gevoel het om met haar ’n gesprek te voer oor spinning.”
Vind jy aanklank by Amber en haar storie?
“Ek sal glad nie sê dat ek soos Amber is nie. Dis eintlik ’n snaakse storie: Ek is in Spinners, maar ek het my bestuurderslisensie twee keer gedruip. En ek is ’n angstige bestuurder. So, vir my karakter om ’n spinner te wees? Hallo . . .
“Om in die tollende kar te wees, was beslis ’n eerste én ’n hoogtepunt vir my. Spinning is een van die gekste goed wat mens kan doen, maar dit is soveel pret. Dit is die eerste keer dat ek my in ’n rol soos hierdie kon inleef. Amber is beslis iets anders in vergelyking met al die onskuldige dogtertjies wat ek voorheen gespeel het, of die 17-jarige hoërskoolkind in ander reekse.
“So ons is twee baie verskillende mense, maar ek is mal daaroor dat ons wêrelde uitmekaar is en ek is so uit my gemaksone; dit was ’n ervaring waar mens groei en nederig word. As aktrise het ek geleer om altyd oop te wees vir nuut, vir meer en ek wil aanhou om meer dinge te probeer waaraan ek nie gewoond is nie. Ek wil so veelsydig wees as wat ek kan.”
Jy het saam met Cantona gewerk aan Arendsvlei. Hoe is dit om weer saam met hom te werk?
“Dit was ’n absolute vreugde. Hy is een van daardie akteurs wat ruimte vir jou hou, wat jou laat voel dat jy gesien word, wat jou laat voel of jy deel is van iets groter. Om in Spinners weer saam met Cantona te werk, was net ’n droom wat waar geword het. Hy is een van daardie mense met wie jy oor en oor wil werk.”
Jy het in Kaapstad grootgeword. Hoekom is Spinners belangrik vir hierdie gemeenskap?
“Spinning was nog altyd ’n groot deel van die kultuur in Kaapstad en veral op die Kaapse Vlakte. Hulle sal daarvan hou om te sien dat hierdie stories uiteindelik vertel word. Daar was al baie dokumentêre films oor spinning, maar dié keer is dit ’n reeks. Die keer het die storie ’n hart en dit word van die grond af vertel.
“Ek het in Kraaifontein grootgeword en weet spinning word soms as ’n slegte ding gesien. Maar Spinners wys ’n ander kant daaraan: dit wys die passie, die dryfkrag, die adrenalien en die vreugde. Dit is so bemoedigend en inspirerend om ’n ander kant van spinning uit te beeld, om te wys dat dit nie alles sleg is nie.”
Jy het pas teruggekom van Spinners se uitverkoopte première in Parys, met nog ’n staande applous. Wat beteken dit om te weet dit sal op CANAL+ en deur ander internasionale kanale vertoon word?
“Dit is my eerste internasionale werk en my grootste nog so ek is opgewonde vir die res van die wêreld om te sien wat in ons mense steek. Om ná die vertoning op daardie verhoog te staan en die omvang van die werk wat ons gedoen het te besef, was absoluut ongelooflik. Dit het ongelooflik gevoel om te weet dat ons werk op sulke groot platforms vertoon sal word.
“Dit is werklik verblydend om te weet dat ons stories nie net hier bly nie. Dit sal nou deur selfs groter gehore gesien word wat geen idee het hoe die lewe aan ons kant is nie.”
Weeklikse episodes van Spinners word op Woensdae, vanaf 8 November 2023, op Showmax vrygestel.