Menu terloops
In Redakteurskeuse [1 Nov 2023]

Redakteurskeuse: Adrenalien, onheil en epiese aksie


Wat om te kyk hierdie maand: Tollende motors en gevaar in Showmax se bekroonde plaaslike reeks ‘Spinners’; ‘The Crown’ begin sy sesde – en finale – uittog; en ’n epiese fliek oor Napoleon Bonaparte met Joaquin Phoenix in die hoofrol is November se redakteurskeuse.

Deur Rozanne Els
Redakteurskeuse: Adrenalien, onheil en epiese aksie

Wat om te kyk vandeesmaand – hier is my redakteurskeuse vir November 2023.

Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.

Spinners S1 

Weeklikse episodes, Woensdae vanaf 8 November 2023. 

In dié plaaslike dramareeks, wat met regie deur Jaco Bouwer ’n vertellingsaanslag aanneem wat dobber op die tradisionele grense tussen genres, ontvou ’n eietydse verhaal van hoop en hopeloosheid, die stryd om oorlewing én die stryd om te lewe. 

Die agtergrond is ’n Kaapse bendewêreld en die protagonis is ’n 17-jarige seun, Ethan, wat vir ’n bendeleier as motorbestuurder werk om vir sy jonger boetie te sorg. ’n Clichè afsetpunt, ja – maar ook net omdat dít realisties is. Ons ken almal van goed doen omdat ons moet en nie omdat ons wil nie – sommige mense se omstandighede is egter veel meer strak, die goed wat hulle moet, maar nie wil doen nie, is dikwels gelyk aan oorlewing. Só dan ook vir Ethan, wat danksy Arendsvlei se Cantona James se empatiese en oortuigende vertolking die kyker oorhaal. 

Ethan is desperaat om uit die bendelewe te kom, maar hoe? Dis per toeval wat hy iemand in die spinning-wêreld ontmoet en dié sport dan as sy pad na vryheid te sien. As dit maar net so maklik was om jou verlede agter te laat – Ethan se vryheid gaan hom kos en die konflik wat in die reeks uitspeel is ’n grinterige, gevaarlike heen-en-weer oor die prys. Ethan ontmoet ook vir Amber (Chelsea Thomas) en sy warrelwind romanse met spinning word gou deur sy verliefdheid op haar geëwenaar.

Spinners is die eerste reeks uit Afrika wat gekies is om aan ’n kompetisie by die Cannes-filmfees deel te neem. Die reeks, wat Engels, Kaaps en Afrikaans is, het ’n staande applous by beide sy premières in Parys, Frankryk, en by die Silwerskermfees in Kaapstad vanjaar ontvang.  

Ook in die rolverdeling tel Elton Andrew (Recipes for Love & Murder), Dillon Windvogel (Blood & Water), en Brendon Daniels (Zulu, Skemerdans, Five Fingers for Marseille).  

The Crown S6, Deel 1 

Dié seisoen word in twee dele vrygestel. Deel 1 van die sesde seison is vanaf 16 November 2023 op Netflix, met die tweede deel van die seisoen wat vanaf 14 Desember 2023 beskikbaar sal wees. 

Dis die begin van die einde. Die sesde seisoen van The Crown, wat ’n amperse kultusaanhang onder sy miljoene kykers geniet, is dan ook die laaste.

Die reeks as geheel draai om die heerskappy van Koningin Elizabeth II vanaf haar troue in 1947 tot vroeg in die 21ste eeu. Die laaste seisoen speel af tussen 1997 en 2005 met Koningin Elizabeth wat oor haar nalatenskap tob soos Prinses Diana die publiek se harte wen in die laaste weke voor haar dood. 

In dié seisoen speel Dominic West die rol van Prins Charles, met Elizabeth Debicki as Diana. Imelda Staunton vertolk Elizabeth.

Napoleon 

Vanaf 22 November 2023 op Apple TV+ beskikbaar om te stroom. 

Dié historiese aksiefliek vertel oor die opkoms en uiteindelik val van die ikoniese, tog wisselvallige Franse keiser Napoleon Bonaparte. Napoleon word deur die Oscarwenner Joaquin Phoenix vertolk met die regie deur die legendariese filmmaker Ridley Scott.

Die fliek is ’n grootskaalse vertelling wat Napoleon se gulsige ambisie wat sy padkaart na mag met veldslae en visioenêre militêre strategieë besaai het, uitbeeld. Dié epiese vertelling vind gestalte deur die lens van sy onstuimige verhouding met Joséphine, sy een groot liefde, en met ongelooflike oorlog- en vegtonele op die slagveld.  

Ook in die rolverdeling tel Mark Bonnar, Rupert Everett en Youssef Kerkour. Die draaiboek is deur David Scarpa (All the Money in the World).

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies