Sommige realiteitsreekse lok jou met drama en onvoorspelbaarheid, terwyl ander jou weer met kinkels, intrige, ’n lus vir die lewe, liefde – of dalk ’n lyfie – intrek. Hier is ’n keur van plaaslike realiteitsreekse wat jou vasgenael voor die kassie gaan hou.
Ná die sukses van Showmax se The Mommy Club en The Mommy Club: Sugar & Spice, is The Mommy Club: Van Die Hoofstad daarop gemik om die Jakarandastad ’n behoorlike woema-inspuiting te gee.
Dié aflewering van dié franchise bring vyf ma’s van Pretoria onder die loep soos hulle ’n balans tussen ouerskap, mag en status probeer vind en die kompleksiteite van kinders grootmaak, hul huwelike, en hul glansryke leefstyl moet hanteer.
The Mommy Club: Van Die Hoofstad stel in dié ronde ’n dinamiese rolverdeling van Afrikaanse vroue – nie een bang om hul kwesbaarheid te ontbloot nie – bekend. Hulle is: Ansu Viljoen, Crystal Van Der Burgh, Johandri Johnson, Louise Volschenk en Tessa Tullues.
The Mommy Club: Van Die Hoofstad is vanaf 14 Maart 2025 op Showmax beskikbaar om te stroom.
Kyk ook vorige seisoene van The Mommy Club op Showmax.
Kokkedoor Vuur & Vlam S2

Vir kykNET se Kokkedoor Vuur & Vlam is die bekende sjef Bertus Basson en braai-ghoeroe Kobus Botha as nuwe beoordelaars gekies. Met die tweede uittog spook die deelnemers weer sake in die kombuis met hul braai-talente uit.
Die 20 deelnemers – tien onthoubraaiers en tien kinkelbraaiers – moet alles oor vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster voorberei. Lees meer oor die deelnemers hier.
Daar is ook nuus oor wat ná afloop van dié seisoen op Kokkedoor-kykers wag. kykNET het onlangs aangekondig dat Kokkedoor in sy volgende gedaante as Kokkedoor: Son & see bekend gaan staan. Dít terwyl die koskenners Herman Lensing (37) en Yolani Abrahams (32) gaan besluit watter deelnemers koning kraai. Dié keer werk dinge weer anders – onder meer dat daar slegs na huiskokke gesoek word. Lees meer hier oor hoe dit gaan werk en hoe om in te skryf.
Kokkedoor Vuur & Vlam S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uit. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
Kyk ook Kokkedoor Vuur & Vlam se eerste seisoen op Showmax.
Die brug S1

Die brug los ’n groep vreemdelinge in ’n afgeleë wildernis met een eenvoudige taak: bou ’n brug van die oewer na ’n eiland waar die prys van R1 miljoen wag. En dít binne minder as 20 dae. Die spel gaan nie net oor die uitdaging om die brug te bou nie – dit gaan ook oor die toets van die spelers se sosiale vaardighede, morele, fisieke en geestelike krag en uithouvermoë.
Die wenner van Die brug se eerste seisoen was die oud-rugbyspeler van Pretoria, Robert Kruger. ’n Groter, selfs meer gewaagde tweede seisoen word later vanjaar op kykNET uitgesaai.
Kyk Die brug S1 nou op Showmax.
Boer Soek ’n Vrou Seisoen 14-16
Enkellopende boere kry liefdesbriewe, kies dan ’n klompie vroue (of mans) wat hul belangstelling prikkel, en nooi dié dan na hul plaas om mekaar te leer ken. Trane, soene, baie koffie in die kombuis en boere wat uit die hart uit praat.
Die 16de seisoen is onlangs op Showmax beskikbaar gestel nadat dit verlede jaar op kykNET uitgesaai is. Daarmee het die aanbieder Marciel Hopkins gegroet met Reandi Grey wat toe as die sewende aanbieder van Boer soek ’n vrou aangekondig is. Oor die nuwe seisoen wat op kykers wag, sê sy: “Suid-Afrikaners gaan aan hulle lippe hang.”

Die 17de seisoen sal van Augustus 2025 op kykNET (DStv-kanaal 144, DStv Stream) uitgesaai word. Oudergewoonte sal dit fokus op die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het. Lees meer hier oor die boere wat aan die nuwe seisoen deelneem.
Kyk Boer soek ’n vrou S14, S15 en S16 op Showmax terwyl julle vir die nuwe seisoen wag.
The Real Housewives van Pretoria

Die Real Housewives van Pretoria was die eerste Afrikaanse weergawe van dié über-gewilde franchise en het die weg gebaan vir Die Real Housewives van die Wynlande. Ses glansryke Afrikaanse vroue is deel van die reeks: Renske Lammerding besit die Mrs. Globe-skoonheidskompetisie, die geskeide pastoor Marié Bosman het ‘n vlieënierlisensie en twee doktorsgrade, Talana Kuhn bestuur die aanlynwinkel Earth DK, Mel Viljoen is die hoof van Tammy Taylor Nails, Rhona Erasmus is ’n entrepreneur, en TikTok-influencer, Kiki La Coco, is die vrou van die multi-miljoenêr mynboukonsultant Malcolm Wentzel. Lees meer oor hulle hier.
Dié reeks is die vyfde weergawe van die Real Housewives-formaat in Afrika. Die ander sluit Johannesburg, Durban, Lagos en Kaapstad in. Die formaat word internasionaal deur NBCUniversal Formats versprei en het al talle toekennings opgeraap.
Die Real Housewives van Pretoria is op Showmax beskikbaar.
Die Real Housewives van die Wynlande

Die Real Housewives van die Wynlande is ’n splinternuwe Real Housewives-reeks wat volg op die eerste Afrikaanse weergawe van die franchise, Die Real Housewives van Pretoria. Onder die vroue tel skoonheidskoninginne, ’n dokter én ’n doktor en genoeg glans vir ’n leeftyd.
Lees die volledige resensie van die loodsepisode hier. Ons het ook lekker recaps van al die episodes opgeskryf.
Die volledige seisoen is nou op Showmax beskikbaar.
Plaasjapie S1-2

In Plaasjapie word 20 stadsjapies word na die “wilde weste” (eintlik maar net ’n plaas iewers in die Wes-Kaap, relax) gestuur waar hulle vir ’n maand in ’n skuur moet bly en hulself afsloof soos boere van ouds.
Albei seisoene is nou op Showmax beskikbaar.
The Real Housewives of Durban S1-4 en The Real Housewives of Johannesburg S1-3
Die glitz en glam in dié “huisvroue” se leefstyle is op ’n heel ander vlak. Soos heeeeeltemal. Dié lot is lief vir hul goue munte. Amper so baie soos hul beheptheid met drama.
As jy dink hulle sit by die huis en maak toebroodjies vir hul kinders, dink weer! Dit is aldag, heeldag, elke dag partytjie-tyd. En baklei-tyd. Kyk, dié mense kan stry kry, hoor. En hulle hou nie terug nie.
Albei reekse is op Showmax beskikbaar.
Huisgenoot Ware Lewensdramas: Vlees & Bloed S1 & S2
Dié spin-off van die baie suksesvolle Huisgenoot: Ware Lewensdramas is ’n ware misdaadreeks wat so ’n bietjie aan die rowwer kant is. Dit fokus op die mees opspraakwekkende sake van gesinsmoorde in Suid-Afrika. Dis ’n kykie na donker gesinsgeheime en traumatiese kinderjare wat gelei het tot tragedies wat die land én die wêreld geskok het.
Kyk S1 en S2 op Showmax.
Op my eish! S2 en S3

Op my eish! se derde seisoen het gesien hoe die sanger Brendan Peyper na liefde soek in dié maatsoekreeks. Ná ’n seisoen propvol soene, kon daar egter net een vrou uit die aanvanklike hoopvolle 16 deelnemers as die wenner van Brendan se hart uit die stryd tree… Maar in die reünie-episode het dit geblyk selfs dié beminde kon nie sy hart hou nie…
Kyk S2 (met Francois Jacobs) en S3 (met Brendan Peyper) van Op my eish! op Showmax.
Gaan agter die skerms met die bruidspaar soos die “groot dag” beplan word. Alles, maar alles vind op die skerm plaas – van die dekorkeuses en die samestelling van die allerbelangrike playlist, tot die proe van die troukoek en rokke wat net-net te styf sit. Ek doen, ek doen, ek doen!
Kyk seisoene 8-14 van dié reeks op Showmax.
Dating kan vol drama wees. En vir hierdie ongelukkige enkellopendes maak hul familie die situasie selfs erger. Jy gaan of weet presies hoe hierdie arme siele voel, of jy gaan net te dankbaar wees dat jou familie en vriende nie jou geliefde aan dié tipe intense, ongemaklike ondervraging en ervarings blootgestel het nie.
Kyk S1-3 en S6-11 op Showmax.
Die meeste mense dink aan die dood as die einde, maar vir dié Kaapse begrafnisondernemers is dit bloot die begin van nog ’n werksdag.
Die Ondernemers volg drie begrafnisondernemers: Candice Austin, eienaar van Goodall & Bourne Funeral Undertakers, Jano van der Berg van Van der Berg Funeral Services en die voormalige Stormers-rugbyspeler Ramone Samuels, hoof van SamWill Funeral Services, wat hy saam met sy broer, die Springbok-rugbyspeler Damian Willemse, besit.
Die Ondernemers is die eerste van sy soort wat plaaslike realiteitstelevisie betref, vol gelag, trane en gesange, en wys hoe die lewe, selfs in die aangesig van die dood, op die mees onverwagte maniere voortgaan.
Kyk Die Ondernemers op Showmax.
Bolhuis S1-2
Mike Bolhuis word as een van Suid-Afrika se top-speurders beskou; betrokke by van die land se grootste moord- en bedrogsake. In dié reeks word dieper gedelf in van die sake wat op sy lessenaar beland het. Onder dié tel die raaisel van die Delmas-moorde, waarin die vyf maande oue Wiehan Botes en sy oppasser vermoor is.
Kyk albei seisoene op Showmax.
Survivor SA S6-9
Outwit. Outplay. Outlast. Dis egter nie net die natuur se elemente en spanuitdagings wat deelnemers moet oorleef nie. In dié realiteitsreeks moet hulle ook mekaar met slim en slinkse strategieë vir die topprys uitoorlê. (Lees hier oor wat agter die skerms van dié reeks gebeur.)
Seisoene 6-9 is op Showmax beskikbaar.
Die Siener S1-2
Gerald Burger is ’n heldersiende wat mense stom laat met sy vermoë om te sien wat ander nie kan nie. Hy help, onder meer, vir mense om met hulle afgestorwe geliefdes kontak te maak, om huise van negatiewe energie te reinig, en om vrede met die verlede te maak.
Kyk seisoene 1-2 op Showmax.