Covid-19 het die afgelope jaar ’n groot impak op die produksie van televisieprogramme gehad, maar een genre wat makliker by ons nuwe, gemaskerde realiteit aanpas, is, wel…realiteitstelevisie. Die rede is net daar in die benaming. Op stelle van reekse soos Survivor of The Amazing Race is die produksiespanne gelykstaande aan fixers wat als wat breek moet regmaak. Hulle staan bont om met ’n blitsige oplossing vir welke, onvoorspelbare probleem vorendag te kom. Aan die (TV)-lewe se verassings is hulle gewoond, ja, maar ’n pandemie is ’n taaier tamelet. Vir weke, en toe maande, het die hele wêreld stilgestaan en gewonder of dinge ooit weer na “normaal” sou terugkeer.
Plaaslik – en die wêreld oor – is verfilming gestaak, stelle afgebreek en mense huiswaarts gestuur. Met geweldige onsekerheid oor lockdown, reis- en ander beperkinge, wanneer (en of) dinge na “normaal” sou terugkeer, is produksies soos The Bachelor (South Africa) en Survivor South Africa: Immunity Island genoodsaak om halt te roep.
Maar ’n fixer maak ’n plan: As hulle dan nie na ’n eiland kon reis om Survivor SA te verfilm nie, doen hulle dit hier, op tuisbodem.
’n Covid-bubble aan die Wildekus
Leroux Botha, die kreatiewe vervaardiger en regisseur van Afrokaans wat Survivor SA vervaardig, glo die eerste plaaslike verfilming van die reeks het dit tot nuwe hoogtes geneem. Dit het ook die deelnemers (castaways) op hul tone gehou, veral dié wat op tuisveldvoordeel gehoop het.
Die reeks is aan die Wildekus in ’n “Covid-bubble” geskiet. Dit is ’n term wat mens al meer in die vermaaklikheidsbedryf hoor en behels dat almal wat op ’n produksie werk geen kontak met mense buite die span het nie.
Suid-Afrika is een van slegs ses lande wat die reeks plaaslik verfilm het. Die lisensiehouers van die formaat moedig gewoonlik produksiespanne aan om in ander omgewings as hul tuisland te skiet, maar met Covid is dié “reël” verslap om reisbeperkinge te omseil. Ander lande wat die reeks al tuis verfilm het sluit Australië, Swede en Frankryk in. Die Wildekus is gekies omdat Leroux bekend met die omgewing is, en dit boonop vrek mooi op TV lyk.
Dit het 180 mense, meer as 1500 ure se beeldmateriaal en honderde negatiewe Covid-toetse geverg om die agtste seisoen van Survivor SA te verfilm. Volgens Leroux het die koste omtrent dieselfde as vir ’n oorsese bestemming uitgewerk, want hoewel hulle nie hierdie keer sover gereis het nie, moes hulle wel meer plaaslike mense oplei om die legkaarte, speletjies en stelle te bou en verf, en steeds die verblyf en ander koste van die crew van 180 mense betaal.