Menu terloops
In Wat om te kyk [16 Mar 2025]

‘Kokkedoor’ trek binnekort ’n ander voorskoot aan, en soek nuwe kossterre!


Vir die tiende seisoen van kykNET se gewilde koswerklikheidsreeks ‘Kokkedoor’, trek die program nie net ’n ander voorskoot aan nie; twee nuwe beoordelaars sluit hul ook by die reeks aan. 

‘Kokkedoor’ trek binnekort ’n ander voorskoot aan, en soek nuwe kossterre!

In Kokkedoor se volgende gedaante gaan die reeks as Kokkedoor: Son & see bekend staan. Dít terwyl die koskenners Herman Lensing (37) en Yolani Abrahams (32) gaan besluit watter deelnemers koning kraai.

kykNET soek nou na deelnemers vir die reeks, wat in November en Desember op die kassie sal wees.

Kokkedoor son & see

Kokkedoor: Son & see is die vyfde gedaante van die Kokkedoor-familie, waarvan die huidige reeks, Kokkedoor: Vuur & Vlam, tans op kykNET uitgesaai word. Buiten Kokkedoor, wat in 2012 vir die eerste keer voorgesit is, en Kokkedoor: Vuur & Vlam, was daar ook KoekedoorKokkedoortjie en Koekedoortjie.  

Wat maak dit anders?

Volgens Kokkedoor se publisiteitsbestuurder, Wilmer Müller, is daar ’n paar unieke bestanddele vir Kokkedoor: Son & see wat dit van die vorige reekse onderskei. 

“Mense moet as ’n span van twee familielede inskryf en daar moet ’n generasiegaping van ten minste 20 jaar tussen die twee spanlede wees,” sê hy. “Dit kan byvoorbeeld ’n ouma en ’n kleindogter, ’n ma en seun, skoonsusters of niggies en neefs wees – solank daar ’n tipe familieverband is en die jongste spanlid ten minste 18 jaar oud is.” 

Nog ’n verskil is dat daar vir Kokkedoor: Son & see net na huiskokke gesoek word. Daar sal dus nie deelnemers met ’n kwalifikasie as professionele sjef wees nie. 

Hierdeur wil Kokkedoor: Son & see die kollig laat val op die nostalgiese rol wat kosmaak in ’n familieverband speel en die manier waarop dit soos ’n goue draad tussen die verskillende generasies loop.

Die beoordelaars

Die nuwe aanbieders het geen bekendstelling nodig nie, en beide het al diep spore in die Suid-Afrikaanse koslandskap getrap. Herman en Yolani het albei sjefskwalifikasies. Beide het ook reeds in talle kook- en leefstylprogramme op die kassie hul verskyning gemaak. 

Kokkedoor Son & see
Yolani Abrahams. Foto: Gys Loubser

Volgens Yolani, wat ook ’n restaurateur is en in 2017 as die wenner van SARIE se voorbladgesigkompetisie aangewys is, wou sy nog altyd haar kosvernuf in die media deel. 

“Dis beslis nie aldag dat so ’n geleentheid oor jou pad kom nie. Ek gryp dit met albei hande – en sommer ook met my voete – aan,” sê sy. “Ek wil ’n sukses daarvan maak, en bowenal wil ek dit geniet. Wie weet, dalk leer ek self ook ’n ding of twee in die proses.”

Kokkedoor Son & see
Herman Lensing. Foto: Gys Loubser

Herman, wat met talle topverkoperboeke op sy kerfstok spog en onlangs as Netwerk24 se smaakmaker van die jaar aangewys is, sê hy droom al vanaf 2013 daarvan om ’n Kokkedoor-beoordelaar te wees. 

“Om nou deel te wees van die tiende seisoen van die reeks en al sy handelsmerke is regtig ’n eer,” sê hy. “Ek sien dit as ’n groot taak wat op my skouers rus om daardie intieme geskenk wat jy en jou spanmaat met my kom deel, met respek te hanteer. 

“Ja, ek gaan eerlik wees met my terugvoer. Maar ek belowe ek is so lief vir kos dat jy nooit gaan wegstap en minder werd voel in die kombuis nie.” 

Skryf só in:

  • Kry die aansoekvorm by kyknet.tv en volg die stappe of stuur ’n e-pos na navrae@kokkedoor.tv
  • Sluitingsdatum vir inskrywings is 30 April 2025.
  • Die jongste lid van die span moet ten minste 18 jaar oud wees. Die generasie- en ouderdomsverskil tussen die spanlede moet ten minste 20 jaar wees. 
  • Daar móét ’n familieverwantskap wees, soos ’n ouer of stiefouer, oupa, ouma, skoonfamilie, ooms, tannies, niggies of neefs. 
  • Oudisies sal in Kaapstad gehou word tussen 5 en 9 Mei 2025. 
  • Verfilming vind vanaf 20 Junie tot 3 Julie 2025 in Struisbaai plaas. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

26

‘G20’, ‘1923’, ‘One Piece’ en nog: 20+ TV-reekse en flieks wat in SA geskiet is

Van 'One Piece', een van Netflix se reekse met die meeste kykertalle in 2023, tot die nuwe fliek 'G20' met die Oscar-bekroonde Viola Davis – hier is ’n lys van internasionale produksies wat of gedeeltelik, of heeltemal in Suid-Afrika verfilm is.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir April 2025

Shani is opgewonde oor haar oudisie, maar Rachelle het slinkse planne vir haar... Dít terwyl Sunette met haar gesondheid sukkel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir April 2025: Koebaai aan June en Joe in ‘The Handmaid’s Tale’, ‘You’

Wat om te kyk: Dis koebaai-tyd met die finale seisoene van die fenomeen-reekse ‘The Handmaid’s Tale’ en ‘You’; Pedro Pascal is terug vir S2 van ‘The Last of Us’; en Afrikaans se wortels word ondersoek in ’n nuwe dokkiereeks – dié stories en meer tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou ‘Plaas van passie’-kykgids vir April 2025

Aline weier om met Antônio te onderhandel terwyl al wat ’n man is oënskynlik ook op haar verlief is... Dít en nog meer wag op ‘Plaas van passie’-kykers in April. Hier is ons handige kykgids.

Meer
Sien alle opsies