Menu terloops
In Wat om te kyk [16 Mar 2025]

‘Kokkedoor’ trek binnekort ’n ander voorskoot aan, en soek nuwe kossterre!


Vir die tiende seisoen van kykNET se gewilde koswerklikheidsreeks ‘Kokkedoor’, trek die program nie net ’n ander voorskoot aan nie; twee nuwe beoordelaars sluit hul ook by die reeks aan. 

‘Kokkedoor’ trek binnekort ’n ander voorskoot aan, en soek nuwe kossterre!

In Kokkedoor se volgende gedaante gaan die reeks as Kokkedoor: Son & see bekend staan. Dít terwyl die koskenners Herman Lensing (37) en Yolani Abrahams (32) gaan besluit watter deelnemers koning kraai.

kykNET soek nou na deelnemers vir die reeks, wat in November en Desember op die kassie sal wees.

Kokkedoor son & see

Kokkedoor: Son & see is die vyfde gedaante van die Kokkedoor-familie, waarvan die huidige reeks, Kokkedoor: Vuur & Vlam, tans op kykNET uitgesaai word. Buiten Kokkedoor, wat in 2012 vir die eerste keer voorgesit is, en Kokkedoor: Vuur & Vlam, was daar ook KoekedoorKokkedoortjie en Koekedoortjie.  

Wat maak dit anders?

Volgens Kokkedoor se publisiteitsbestuurder, Wilmer Müller, is daar ’n paar unieke bestanddele vir Kokkedoor: Son & see wat dit van die vorige reekse onderskei. 

“Mense moet as ’n span van twee familielede inskryf en daar moet ’n generasiegaping van ten minste 20 jaar tussen die twee spanlede wees,” sê hy. “Dit kan byvoorbeeld ’n ouma en ’n kleindogter, ’n ma en seun, skoonsusters of niggies en neefs wees – solank daar ’n tipe familieverband is en die jongste spanlid ten minste 18 jaar oud is.” 

Nog ’n verskil is dat daar vir Kokkedoor: Son & see net na huiskokke gesoek word. Daar sal dus nie deelnemers met ’n kwalifikasie as professionele sjef wees nie. 

Hierdeur wil Kokkedoor: Son & see die kollig laat val op die nostalgiese rol wat kosmaak in ’n familieverband speel en die manier waarop dit soos ’n goue draad tussen die verskillende generasies loop.

Die beoordelaars

Die nuwe aanbieders het geen bekendstelling nodig nie, en beide het al diep spore in die Suid-Afrikaanse koslandskap getrap. Herman en Yolani het albei sjefskwalifikasies. Beide het ook reeds in talle kook- en leefstylprogramme op die kassie hul verskyning gemaak. 

Kokkedoor Son & see
Yolani Abrahams. Foto: Gys Loubser

Volgens Yolani, wat ook ’n restaurateur is en in 2017 as die wenner van SARIE se voorbladgesigkompetisie aangewys is, wou sy nog altyd haar kosvernuf in die media deel. 

“Dis beslis nie aldag dat so ’n geleentheid oor jou pad kom nie. Ek gryp dit met albei hande – en sommer ook met my voete – aan,” sê sy. “Ek wil ’n sukses daarvan maak, en bowenal wil ek dit geniet. Wie weet, dalk leer ek self ook ’n ding of twee in die proses.”

Kokkedoor Son & see
Herman Lensing. Foto: Gys Loubser

Herman, wat met talle topverkoperboeke op sy kerfstok spog en onlangs as Netwerk24 se smaakmaker van die jaar aangewys is, sê hy droom al vanaf 2013 daarvan om ’n Kokkedoor-beoordelaar te wees. 

“Om nou deel te wees van die tiende seisoen van die reeks en al sy handelsmerke is regtig ’n eer,” sê hy. “Ek sien dit as ’n groot taak wat op my skouers rus om daardie intieme geskenk wat jy en jou spanmaat met my kom deel, met respek te hanteer. 

“Ja, ek gaan eerlik wees met my terugvoer. Maar ek belowe ek is so lief vir kos dat jy nooit gaan wegstap en minder werd voel in die kombuis nie.” 

Skryf só in:

  • Kry die aansoekvorm by kyknet.tv en volg die stappe of stuur ’n e-pos na navrae@kokkedoor.tv
  • Sluitingsdatum vir inskrywings is 30 April 2025.
  • Die jongste lid van die span moet ten minste 18 jaar oud wees. Die generasie- en ouderdomsverskil tussen die spanlede moet ten minste 20 jaar wees. 
  • Daar móét ’n familieverwantskap wees, soos ’n ouer of stiefouer, oupa, ouma, skoonfamilie, ooms, tannies, niggies of neefs. 
  • Oudisies sal in Kaapstad gehou word tussen 5 en 9 Mei 2025. 
  • Verfilming vind vanaf 20 Junie tot 3 Julie 2025 in Struisbaai plaas. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies