Menu terloops
In Wat om te kyk [6 Mar 2025]

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: ‘Vandag is jy bo en môre is jy onder’


In die vyfde episode van ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ moet die deelnemers topklas-safarikos voorberei – en natuurlik is dit bokveld toe met ’n span…

Deur Annelene Oberholzer

Stroom 'Kokkedoor Vuur & Vlam' S2

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’: ‘Vandag is jy bo en môre is jy onder’

Die veelsydige Shaun Scrooby van Vuur op die Remhoogte-landgoed het in die vyfde episode van Kokkedoor Vuur & Vlam die deelnemers met sy interessante braaitegnieke inspireer. Shaun hou van wildsvleis sonder fiemies en souse en marinades en dinge. Maar daar’s een item wat hy graag inspan vir meer geur en dis ook een van koskenner Kobus Botha se gunstelinge: die flambadou. Kykers sal onthou Kobus het in die eerste seisoen van Kokkedoor Vuur & Vlam dié interessante stuk toerusting se lof besing.

Kokkedoor vuur & vlam
Shaun Scrooby van Vuur op die Remhoogte-landgoed het die deelnemers met sy braaitegnieke inspireer. Foto: Verskaf
Kokkedoor Vuur & Vlam
Shaun Scrooby saam met die beoordelaars Kobus Burger en Bertus Basson. Foto: Verskaf

Die uitdaging

Elke span het ’n halwe springbok gekry waaruit hulle ’n voorkwart- en agterbladsnit moes sny. Sélf sny, natuurlik. En dit moes ’n volledige hoofgereg wees met groente, stysel en die vleis oor die vuur. Tydens hierdie uitdaging het van die spanne self die flambadou ingespan – met uitstekende resultate. Nou gaan ons braai!

Wie hang hul voorskote op?

Kokkedoor vuur & vlam
De Wet en Martin moes groet. Foto: Verskaf

Vir kinkelbraaier De Wet Visser (37) van Welgelegen en onthoubraaier Martin Steyn (53) van Stellenbosch het dinge nie so goed afgeloop nie. In die vorige episode het die twee se vaalkospotjie die beoordelaars behoorlik aan’t smul gehad, maar vandeesweek moes hulle hul voorskote ophang.

Hoe voel die twee daaroor en wat lê nou vir hulle voor?

De Wet: 

Jy het duidelik geweet watter tegniek om toe te pas om jou karkas te benader. Waar of wie het jou hiermee touwys gemaak?

“My pa het my touwys gemaak, maar so deur die jare het ek ook verskillende tegnieke so met die oog gesteel by klomp verskillende mense.” 

Verlede week ’n wenner, vandag jou voorskoot opgehang. Wat was die beste deel van Kokkedoor Vuur & Vlam-ervaring vir jou?

“Die lewe is ’n rollercoaster… Vandag is jy bo en môre is jy onder, en dit is presies hoe dit moet wees. Verlede week se wen was ongelooflik, maar die verloor is net so ongelooflik want jy het die geleentheid gehad om aan die program deel te neem. Vir my was die beste ervaring om saam met iemand soos Errieda du Toit te kon werk. Sy is ’n ikoon in die kosbedryf.” 

Het jy paniekerig begin voel toe die groot stuk vleis nie die regte temperatuur behaal het toe jy dit die eerste keer getoets het nie?

“Ek het beslis paniekerig begin voel. Die grootste fout wat ek kon maak was om met ’n termometer te kook en nie op gevoel nie. Ek kook nooit met ’n termometer nie.”

Is daar van die Kokkedoor-deelnemers met wie jy kontak gaan behou?

“Ek is iemand wat selektief tyd met mense spandeer maar ek kan regtig sê al die Kokkedoor Vuur & Vlam-deelnemers voel klaar soos vriende. Ek het goeie bande gebou veral met Hantie, Ferdi en Francois.”  

Kokkedoor vuur & Vlam
Verlede week het hulle die uitdaging gewen… en vandeesweek het De Wet en Martin in die stof gebyt. Foto: Verskaf

Martin: 

Jul potjie het behoorlik koning gekraai verlede week. Wat dink jy het hierdie week verkeerd gegaan?

“Ja-nee, ons het die pot misgesit in plaas daarvan om die pot aan die kook te hou. Hier het ons nou nie vir die pot geskiet nie, maar die pot vir ons. Ek dink ons was maar net heeltemal uit ons gemaksone. Fyn eet is nou nie deel van my gewaad nie.”

Jy noem dat mense geneig is om in hul boksies te bly wat kosmaak betref en dat jy byvoorbeeld soms na ’n resep kyk en besluit om maar net weer te maak wat jy ken. Het jy dalk nou ’n nuwe benadering tot kosmaak? 

“Ja, ek het definitief ’n nuwe benadering tot kosmaak na afloop van my Kokkedoor Vuur & Vlam-ervaring. Ek self is geneig om dieselfde ding oor en oor te maak. Hierdie uitdaging het my uit daardie roetine gedwing en ek gaan dit beslis verder neem. Selfs met die gewone Sondagmiddag-braai gaan dinge vorentoe baie anders lyk.” 

Wat was vir jou een van die hoogtepunte van Kokkedoor Vuur & Vlam?

“Die uitdaging om iets heeltemal anders as waaraan ek gewoond is, aan te pak! Die karakters, vriende maak, die kosse wat gemaak moes word en die kompetisie self. Alles saam was ’n groot ervaring waarvan ek graag langer deel wou wees. Maar op einde is dit wat die dag opgelewer het en nou braai ons vorentoe met ’n nuwe passie en inspirasie.”

Oorweeg jy dit om dalk minder potjies te proe tydens basaartyd en dalk self jou eie potjie daar te beman?

“Ek het laasjaar dieselfde potjie gemaak by ons gemeente se potjiekosdag. Potjie gaan vir my oor die geselskap, en dan maak dit nie saak of jy voor of agter die pot staan nie.”

Die uitblinkers – vandeesweek se wenspan

Kokkedoor vuur & vlam
Onthoubraaier Benjie Benjamin en kinkelbraaier Stefan Weitz het vandeesweek se uitdaging gewen. Foto: Verskaf

Die wenners van dié uitdaging het nie net bragging rights losgebraai nie, elkeen van hulle het ’n Megamaster-braai van R14 000 gewen. Kinkelbraaier Stefan Weitz (36) van Observatory en sy spanmaat, onthoubraaier Benjie Benjamin (39) van Kimberley, was absoluut verstom toe hulle die goeie nuus gekry het.

Die twee gesels oor messe, lesse en die flambadou. 

Stefan: 

Daar word gesien hoe jy die skerpte van jou mes toets. Tref jy onderskeid tussen die skerpte van ’n mes na gelang van die produk wat voorberei moet word?

“’n Mes moet altyd lekker skerp wees, maar veral wanneer jy vleis of vis verwerk.” 

Het jy geweet Benjie het sy hoop op julle twee as ’n wenspan gevestig vir hierdie uitdaging? Indien wel, het dit addisionele druk op jou geplaas of nie?

“Voor die tyd het hulle gevra wie ons dink gaan wen. Ek het gegrap en gesê ons gaan wen, maar ek het nie geweet dat Benjie toe wel ons vir ’n wen gekies het nie. Ek wens nou natuurlik dat ek ook vir ons gestem het, maar ek is baie bly vir Benjie!” 

Jy het selfs ’n prentjie geteken van hoe julle bord moet lyk. Is dit iets wat jy normaalweg doen? 

“Ons moes altyd in die kookskool ’n voorbeeld van jou bord geteken het. Ek doen dit as ek iets nuut wil probeer. Ek het gevoel na ons vorige kook sou dit voordelig vir ons as ’n span wees om te verstaan hoe die bord moet lyk.” 

Jy was beïndruk met Benjie se filo-pakkies. So ook die beoordelaars. Hulle het dit “inspirerend” gevind. Oorweeg jy iets soortgelyk op die spyskaart vir die restaurant waar jy werk?

“Ek is so bly die beoordelaars het daarvan gehou. Ek dink die filo-pakkies was ’n baie goeie idee wat Benjie gedryf het. Ons het net gehoop ons kry die vleis sag en dat die smaak sal werk. Ek sal definitief Benjie se idee in die toekoms gebruik!” 

Benjie: 

Jy was verstom oor Shaun se tangetjie (tweezer). Maar wat het jy van die flambadou gedink – en is dit iets wat jy tuis ook op die proef gaan stel?

“Ek was beïndruk met Shaun se tangetjie en die doel waarvoor hy dit gebruik. Daar ek het geleer wat om te doen as ’n mens fyner werk wil verrig. Die flambadou is nogal iets kwaai, en wys jou weer ’n ander manier om meer geur in sekere snitte in te kry en jou dis so bietjie ‘op te lig’.”

Kokkedoor vuur & Vlam
Benjie sny fyn! Foto: Verskaf

Daar was geen twyfel by jou dat jy en Stefan gaan wen nie en het dit as jou World Sports Betting-keuse aangedui. Jy was ook die enigste een wat reg geraai het! Vertel meer daaroor.

“Ek het baie geleer tydens ons eerste uitdaging en het geweet as ons gaan werk aan ons swak punte en fokus om baie geurige en smaakvolle kos voor te sit, sál dit ’n goeie wen-formule wees.”

In die derde episode het jy en jou vorige spanmaat, Francois Binneman (35), professionele sjef van Port Elizabeth, ook die uitdaging gewen. Wat dink jy is die x-faktor wat jy na die party bring?

“Ek dink dis meer dat ek my spanmaat gerus kan stel sonder om te veel druk op hom te plaas. Hy is wel die Kinkelbraaier en is meer volleerd in kookkuns. Ek moet erken, ek het verskriklik baie by Stefan en Francois geleer.

“Ja, ek dink ek bring meer ’n gevoel van kalmte want dit help nie ons ego’s kry die slegste uit ons nie. Ons kan vinnig werk, maar dinge kan net so vinnig ook skeefloop.”

En die res?

Hier is nog ’n paar foto’s van wat tydens die episode afgespeel het en wat die ander spanne aangevang het.


Kokkedoor Vuur & Vlam S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uit. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.

Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies