Menu terloops
In Wat om te kyk [20 Feb 2025]

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ S2: ‘Bewe gaan jy bewe, my maat!’


Dit was toe nie ‘a walk in the park’ nie, en eerder, ‘a walk straight home,’ vertel een van dié seisoen se ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’-deelnemers nadat hul span se drome van braaiglorie deur die nederige sardien en dim sum gekelder is. 

Deur Annelene Oberholzer

Stroom 'Kokkedoor Vuur & Vlam' S2

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ S2: ‘Bewe gaan jy bewe, my maat!’

In die derde episode van Kokkedoor Vuur & Vlam moes die deelnemers hul vaardigheid met vis ten toon stel. 

Die uitdaging

Nie sommer enige vis sou vir dié uitdaging deug nie. Dit was die nederige sardien – einste vis wat in blikvorm ’n paar maande gelede stof in die oë van hoenderverkope geskop het. 

Die Kokkedoor Vuur & Vlam-beoordelaars, Bertus Basson en Kobus Burger, het egter nie by dié vissies volstaan nie. Hulle wou ook wit-aas, inkvistentakels (deur vis en skyfies geïnspireer) en geblikte mossels op kleinbordjies geniet. 

Die deelnemers moes dim sum met die geblikte mossels voorberei – ’n dis wat vir verskeie van hulle volksvreemd was. Alhoewel dié tradisionele Chinese maaltyd “hartslekkerte” of “om jou hart aan te raak” beteken, het dit tydens hierdie episode ’n paar harte gebreek…

Wie hang hul voorskote op?

Kokkedoor Vuur & Vlam
Dit was nie goeie nuus vir Nelda en Johan nie… Foto: Verskaf

Nelda Buhr (57), ’n kinkelbraaier en kunstenaar van Malmesbury, en Johan van der Watt (46), ’n onthoubraaier en argitek van Bellville, het gegroet. 

’n Paar vrae aan Nelda: 

Nelda Kokkedoor Vuur & Vlam
Nelda Buhr. Foto: Verskaf

Jy noem dat jy’t nog nooit “ge-dim sum” het nie. Hoe op dees aarde benader jy iets wat aan jou onbekend is? 

“Dit het my onmiddelik aan die Bybelvers laat dink, ‘Ek slaan my oë op na die berge, waar gaan my hulp vandaan kom?’

“Ek het verwoed begin lees, maar dit voel of dit glad nie gehelp het nie. Dit was baie moeilik om te maak want ek het gaan idee gehad van die tekstuur of smaak nie, net mooi bôggerol!

“Dit was duidelik not a walk in the park, maar a walk straight home.”

Dit lyk of jy en Johan goeie spanmaats was. Wat van hom het veral vir jou uitgestaan?

“Hy is net só entoesiasties en gefokus! Dit het gevoel of hy die hele tyd kalm en in beheer van die situasie is.”

Jy sê dat jy jouself in ’n ongewone situasie bevind en dat jy nie weet wat om met jouself te doen nie. Het hierdie ervaring dalk vir jou ’n liggie laat aangaan?

“Beslis! Ek het besef ek het nie noodwendig bygehou met nuwe kos-tendense nie en ek wíl relevant wees – nie net wat kos aanbetref nie, maar ook in my totale menswees.

“Selfs my opinie oor ’n braaibroodjie het verander. Deesdae hou ek van ’n opgetofde broodjie! Gooi daai mayonnaise, rissies, knoffel en sprietuie . . . gee hom woema!

“Ek moet ook sê die ongelooflike dekor en aandag aan detail (op die stel) het opnuut my oë oopgemaak om fyner te kyk na interieur en kuns.  Daar is laag-op-laag van mooi wat mens nie met die eerste oogopslag raaksien nie.”

’n Paar vrae aan Johan: 

Kokkedoor Vuur & Vlam S2
Johan van der Watt. Foto: Verskaf

Wat het jy gedink van Kobus se gaarmaakmetode met swart mossels waar hy dennenaalde bo-op die mossels stapel en dit aan die brand steek? En gaan jy dit dalk tuis probeer?

“Dit was waarlik ’n unieke metode wat ek nog nie vantevore gesien het nie. Met my werk is die visuele komponent baie belangrik en hierdie metode is nogal ’n show stopper. Sodra ek dennenaalde in die hande kry, sal ek dit verseker probeer. Maar ek het gevind daar kom baie as in die mossels, en dan is dit nie die lekkerste nie . . .”

Jy en Nelda het goed saamgewerk. Is daar iets wat jy by haar geleer het – of dalk vir haar geleer het tydens die uitdaging?

“Dit was baie lekker om saam met Nelda kos te maak en haar rustigheid so deur die chaos was opmerkend. Sy het ’n bobotie-vulsel in die dim sum gemaak wat rêrig baie lekker was. Vir my was dit die grootste les wat ek by haar geleer het… Net jammer Kobus en Bertus wou dit nie proe nie!

“Met ons eerste kook het ek haar gewys hoe om iets te rook deur ’n kooltjie in ’n bottermengsel saam met die kos te plaas. So kry jy die rookgeur in die kos en Nelda het dit nogal geniet.”  

Die bewerasie toe jy die dim sum begin vou het . . . enige raad of wenk hoe jy ’n soortgelyke situasie vorentoe sal takel? 

“Senuwees, dit was senuwees gewees . . . Bertus skree in die agtergrond, ‘Daar is slegs 20 minute oor!’ en aangesien dit die eerste keer was wat ek dim sum gemaak het, het die senuwees redelik gelol.

“Ek het nie raad nie. Daai kombuis is nie op hierdie planeet nie en die atmosfeer is anders daar! Bewe gaan jy bewe, my maat.”

Vandeesweek se wenspan

Kokkedoor Vuur & Vlam S2
Dié twee het geskitter in vandeesweek se episode. Foto: Verskaf

Francois Binneman (35), ’n kinkelbraaier en professionele sjef van Port Elizabeth, en Benjie Benjamin (39), ’n onthoubraaier en hoogspanningselektrisiën van Kimberley, het verlede week se wenners, Mike en Suzie, in die stof laat byt.

’n Paar vrae aan Francois: 

Kokkedoor Vuur & Vlam
Francois Binneman. Foto: Verskaf

Die uitdaging het op jou pa se verjaardag plaasgevind. Wat dink jy sou sy raad aan jou gewees het? 

“My bra, wys hulle wie’s baas! Moenie worry nie, jy is klaar ’n wenner in my oë, God is in beheer.”

Waar kom jou liefde vir kosmaak vandaan? Is daar iemand wat vir jou uitstaan wat as inspirasie vir jou gedien het?

“My inspirasie kom grootliks van ons oer-ouma- en oupagrootjie se tyd toe kos nog met die hand gemaak is – van brood wat met die hand geknie word tot vars gekookte appelliefiekonfyt en ’n lekker lamsboud wat stadig oornag gaargemaak is. Daardie manier van kook het ’n diep indruk op my gelaat.”

Jy’t gesê die sardiens is op gevoel gebraai. Hoe sterk maak jy staat op instink wanneer jy disse voorberei?

“Ek maak byna al my kos op instink gaar. Ek glo dis juis dít wat my die sjef gemaak het wat ek vandag is – om eerstens op my instink te vertrou en dinge nie te veel oordink nie.”

Hoe ontspan jy as hy nie voor die potte staan nie?

“Dis eintlik ’n moeilike vraag, want selfs wanneer ek op verlof is, is ek altyd doenig met kos – of dit nou by die kospotte, die spit of voor die vuur is. Maar as ek regtig afskakel, is daar niks beter as ’n lekker swemdag by die see saam met my vrou en ons twee Jack Russells, Bella en Misty, of tyd saam met familie nie. Dit is vir my baie belangrik.”

’n Paar vrae aan Benjie:

Kokkedoor
Benjie Benjamin. Foto: Verskaf

Jy en Francois het van dag een af besluit julle gaan ’n span wees. Wat was dit wat julle twee laat kliek het?

“Ek sê altyd as ’n man ’n baard kan laat lank groei, dan het hy geduld. Ek kon sien Francois is ’n regte mense-mens en dan was daar ook die manier en die respek waarmee hy met my gepraat het.”

Die dim sum het jou letterlik op jou knieë gehad toe jy dit gevou het. Het jy dit vantevore al gemaak?

“Dit was die eerste keer dat ek dim sum moes maak. Ek het al gesien hoe ’n mens dit vou en dié was my geleentheid om my vaardighede te toets. Ek moes op my knieë gaan om te kyk of almal die regte grote is.

“Ek verwys altyd na iets wat amper naastenby lyk soos wat dit moet, as ‘neef’. So myne was dim sum se ‘neef’.”

Kokkedoor Vuur & Vlam
Benjie moes fyn vou! Foto: Verskaf

Jy’s ’n man van Kimberley – waar kom jou visbraaivaardigheid in . . .  veral van daai sardiens waarvan jy sê “hulle is in die skool, hulle moet in ’n klas van hul eie wees”?

“Ons is in die sentrale deel van Suid Afrika en in meeste gevalle braai ons snoek. Sardiens is ’n baie delikate vis en daar moes vinnig plan gemaak word met die foelie sodat die sardiens nie rondskuif met die omdraaislag nie. 

“En omdat dit ’n “skoolvis” was, was dit van pas om hulle in hul eie klas te sit . . .”

Hoe voel dit vir jou om op die stel van Kokkedoor Vuur & Vlam te wees?

“Dit is ’n groot eer om deel van Kokkedoor Vuur & Vlam se tweede seisoen te wees. Ek het groot respek vir almal agter die skerms. Elke lid van die produksiespan is belangrik.”

En die res?

Hier is nog ’n paar foto’s van wat tydens die episode afgespeel het en wat die ander spanne aangevang het.


Kokkedoor Vuur & Vlam S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uit. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.

Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies