In die tweede episode van Kokkedoor Vuur & Vlam se tweede seisoen moes die spanne vir die eerste keer saamwerk om een dis aan stersjef Bertus Basson en koskenner Kobus Botha voor te sit.
Dit is ook die eerste episode waartydens een span as wenner aangekondig is – en ’n ander hul voorskote opgehang het.
Die uitdaging

Sout en peper is die spil waarom alles draai – en veral hoe sout ingespan word om kos te bewaar, soos byvoorbeeld biltong en bokkoms. Appelkose word mebos met ’n soet of ’n sout smakie. En peper maak jou smaak lekker wakker!
Die uitdaging vir hierdie episode is ’n braaigereg wat sout, peper, asyn en koljander vereer. Bertus wil tegnieke soos kuur of pekel sien in die disse wat voorberei word en elke dis moet minstens een van die tradisionele Suid-Afrikaanse gesoute produkte bevat. Die deelnemers is 90 minute gegun om hul dis op die vuur voor te berei.
Wie hang hul voorskote op?
Hantie Jansen (44), eienaar van ’n spysenieringsonderneming in Windhoek, en haar spanmaat, Liz (Elizma) Nass (44), ’n entrepreneur van Pretoria, was die eerste twee deelnemers wie se kole in hul soeke na die gesogte kroon as Kokkedoor Vuur & Vlam-kampioene geblus is.

’n Paar vrae aan Hantie
Dink jy daar’s ’n verskil tussen Namibiese en Suid-Afrikaanse braaitegnieke?
“Braai is mos maar universeel, ek weet net Suid-Afrikaners braai dik wors en ons in Namibië eet dun wors!”
Jy het gevoel die spens is maklik omdat daar nie hope goeters nodig was vir die uitdaging nie. Wat is jou moet-hê items in jou eie spens tuis?
“Ek het nie juis ’n lang lys nie, maar daar sal beslis altyd vars knoffel, gemmer en regte botter in my spens wees.”

Die eerste uitdaging het jou wind so ’n bietjie uitgeslaan toe die beoordelaars kommentaar gelewer het. Hoe het jy dit reggekry om weer met hernude ywer die dag aan te pak?
“My vriendin Marietjie sê altyd: Pull yourself towards yourself! Nee, wat, dit is verseker ’n mindset. Ek en Liz het tot op die laaste minuut beplan vir die volgende dag se uitdaging.”
Bokkomsalsa? Het jy ooit voorheen gedink so iets is moontlik?
“Dis wat so ongelooflik is van kook vir my! Daar is net altyd ’n anderste manier of ’n nuwe resep! Ek love dit!”
’n Paar vrae aan Liz
Dit het jou nie gepla dat jy tydens hierdie episode die braaier was nie. Is jy gewoonlik die hoofbraaier wanneer daar ’n vuurtjie aangeslaan word of is jy gemaklik met oorgee aan ’n mede-braaier?
“Ek hou baie van braai en vuurmaak. Ons vriende spot altyd en sê ons moet maar twee braai-areas op ons stoep hê. My man braai gereeld – maar ek meng gereeld in. Om oor te gee aan ’n mede-braaier is nie vir my moeilik nie, solank die kossies net perfek gebraai is.”
Jy het daai brandende hout lekker “gem**r” om rooi kole te kry. Is dit jou standaard-braaitegniek of doen jy dit net in krisistye?
“A girl’s got to do what a girl has to do! Ek floreer in krisistye en doen wat gedoen moet word as die vet in die vuur is. Ek glo ’n mens moet jou vuur oppas soos ’n baba en seker maak die kole is die regte soort vir die regte vleisie.”

Hoe lyk die pad vorentoe vir Liz? Sal jy weer vir ’n werklikheidsreeks inskryf?
“Ek sal verseker weer vir ’n werklikheidsreeks inskryf as dit met kos te doen het. Sommige mense klim berge, ander trap die hoogtes uit of swem myle – ek kook.
“Ek werk tans aan ’n eenvroustuk saam met ’n gesoute regisseur en span wat ek op my 45ste verjaarsdag in April gaan bekendstel. Moenie jou Liz verloor nie is ’n kombinasie van lag, huil en skree met kookkuns verweef.
“My binneste skree al jare Moenie jou Liz verloor nie. Ek wil graag mense met hierdie skaterstuk en met kos inspireer om te kook – van binne en buite!”
Die wenspan
Dit was ’n tweede wen vir Mike van Rooyen (37), ’n kinkelbraaier van Morningside, Johannesburg en ’n eerste vir sy spanmaat, Suzie Wandrag, (47), ’n smaakmaker en inhoudskepper van die Strand.

’n Paar vrae aan Mike:
Jou tweede wen in ’n ry! Het jy dit verwag?
“Ek het dit glad nie verwag nie. Ek het al voorheen met mebos gewerk en dit is ’n wonderlike plaaslike produk. Dit was ’n baie lekker uitdaging. Ek was werklik opgewonde en het baie van die dis gehou wat ons voorgesit het. Ek verkies eenvoudige en minimale borde kos met baie geur – en dit is presies wat ons voorgesit het.”
Was dit vir jou moeilik om ’n ritme met Suzie te vind?
“Ek en Suzie het lekker saam gewerk. Dit was die eerste uitdaging waar ons saam een dis moes voorberei en dit het tyd gevat om mekaar se sterkpunte te leer ken. Ek dink mense gaan altyd ’n bietjie koppe stamp aan die begin. Dit is normaal en daarna kan die spanwerk net verbeter.
“Die doel is altyd om die beste uit jou spanmaat te kry. Daarom is waarneming so belangrik, want ek weet Suzie kán braai. Die lamsribbetjie was in goeie hande met haar.”

Waar het jy aan die idee van mebos-ketchup gekom? Was hierdie ’n eerste vir jou?
Ek het voorheen ’n weegbree-ketchup (weegbree is plantain) gedoen en die geur daarvan was iets heeltemal nuut vir my. Ek het dieselfde resep as vir die weegbree gebruik, maar die keer net die mebos bygesit. Dit was beslis ’n eerste vir my. Ek glo die beste idees is in the moment en dis presies wat die mebos-ketchup was!”
Jy hou daarvan dat mense op hul voete kan dink. Hoe hanteer jy dit as dit nie gebeur nie?
“Dit is altyd ’n beter idee wanneer twee mense idees uitruil en tot ’n ooreenkoms kan kom. Vir twee mense om dieselfde visie te hê, is bykans onmoontlik. Dit hou ’n risiko in vir ons altwee, maar die vertroue kom in wanneer daar ’n wen is.
“Ek streef daarna om kalm te bly maar dinge gebeur in the heat of the moment in die kombuis wat nie persoonlik opgeneem moet word nie.”
Was dit vir jou vreemd toe Stefan jou gevra het om sy mebos-blatjang te proe?
“Glad nie. Dit was vir my wonderlik om raad te gee waar ek kan. Ek glo altyd daaraan om nie dinge geheim te hou nie en om ander mense te help waar ek kan. Ek doen dit met die grootste graagte.”
’n Paar vrae aan Suzie:
Jy het vantevore gesê braai is nie net ’n sport vir mans nie. Hoe het dit vir jou gevoel om langs Mike te braai?
“Mike is ’n baie goeie sjef. Ek dink ons het baie by mekaar geleer en ek het my eie persoonlikheid ingebring met ons wen. So, dit bly maar ’n spanpoging met enige uitdaging wat Kokkedoor Vuur & Vlam ons bied. Ek dink na hierdie episode sal almal sien dat ons vroue nie onderskat moet word nie.”
Hoe hanteer jy stres wanneer daar ’n kort spertyd gestel word?
“Ek werk eintlik beter onder stres. Om die een of ander rede verkies ek dit eintlik want dan vat ek raak. Dit mag dalk nie altyd so lyk nie. Dis net altyd vir my moeilik wanneer ek nie net myself het om oor te worry nie.”
Is jy ’n streng navolger van resepte of gebruik jy jou intuïsie rondom geur, kleur en smaak?
“Ek is beslis iemand wat veel eerder my eie kop volg wanneer dit by resepte kom. As jy net ’n resep volg is daar baie min spasie om kreatief te wees en om kreatief met kos te wees is juis my sterkpunt.”
Jy was vasbeslote om te wen, maar wat het deur jou kop gegaan toe jy die resultate hoor?
“In die eerste ronde het ons almal nog probeer om ons ritme te kry en om as ’n span saam te werk. In die tweede ronde was ek reg, gefokus en baie gemaklik voor die vuur.”
En die res?
Hier is nog ’n paar foto’s van wat tydens die episode afgespeel het en wat die ander spanne aangevang het.
Kokkedoor Vuur & Vlam S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uit. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.