Menu terloops
In Wat om te kyk [6 Feb 2025]

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ S2: Uitblinkers vertel oor eerste dag agter die kole 


‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ is terug op die kassie met ’n tweede seisoen en reeds in die eerste episode was daar twee deelnemers wat uitgeblink het. Ons het meer oor dié twee, Nelia Lombard en Mike van Rooyen, uitgevind. 

Deur Annelene Oberholzer
‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ S2: Uitblinkers vertel oor eerste dag agter die kole 

Kokkedoor Vuur & Vlam se tweede seisoen het afgeskop met ’n uitdaging wat al 20 deelnemers aan die swoeg én sweet gehad het: die kinkelbraaiers moes dieselfde dis as die onthoubraaiers voorberei – maar met finesse. 

Die wenners van die eerste uitdaging, Nelia Lombard (onthoubraaier) en Mike van Rooyen (kinkelbraaier) vertel meer oor hul inspirasie en verwagtinge vir die res van die seisoen.

Kokkedoor
Die beoordelaars, Bertus Basson en Kobus Burger, bespreek hoe dinge in die kombuis verloop tydens die eerste uitdaging van die nuwe seisoen. Foto: Verskaf

Nelia Lombard

Nelia, wat in die filmbedryf werk, is ’n onthoubraaier van Bellville, Kaapstad. Haar twee seuns is in Brisbane, Australië. Sy en haar man is in 2015 geskei en haar seuns is in 2018 daarheen vir ’n beter toekoms. Maar dié ma se hart mis die twee en daai drukkies…  

Hoe het dit gevoel toe jy daai voorskoot met die goue haan en jou naam daarop, aangetrek het?

“Sjoe! Die heel eerste keer toe ek daardie voorskoot aansit, het ek vir die eerste keer werklik besef, ‘hier ís ons nou’. Alles het eintlik so vinnig gebeur vandat ek besluit het om in te skryf tot waar ek vir die eerste keer daai voorskoot aangetrek het. Dit het ’n bietjie onwerklik gevoel, maar realiteit het baie vinnig ingeskop toe daai eerste vure aangesteek is.”

Kokkedoor Vuur & Vlam
Nelia is ’n onthoubraaier. Foto: Verskaf

Aanvanklik het dit vir jou na maanskyn en rose gevoel in die Kokkedoor Vuur & Vlam-kombuis. Wanneer het jy besef dit is dalk allermins die geval?

“Ek dink die groot besef het gekom direk ná die eerste uitdaging toe ek besef het hoe kort 60 minute eintlik is. Ons almal stap daar in met ons kop in die wolke en ons liefde en passie vir kosmaak, maar nie een van ons het regtig besef hoe moeilik dit is om teen die klok te werk nie. Dis ’n heel ander ball game.”

Het jy voorberei of geoefen vir Kokkedoor Vuur & Vlam?

“O ja, natuurlik! Toe die besef inskop dat ek op Kokkedoor Vuur & Vlam gaan wees, het ek baie vinnig planne gemaak om elke aand kos op die vuur te maak. Ek het tot my eerste poeding op die vuur gebak en ek was baie beïndruk met die eindresultaat.”

Watter rol het jou ouma in jou lewe gespeel? En is dit hoekom jy “haar rys, vleis en aartappels” gemaak het?

“Ek dink die grootste ding wat ek by my ouma geleer het, is trots. Ons het ’n baie ryk en interessante familiegeskiedenis wat so ver terug as die Anglo-Boereoorlog strek. My ouma het seker gemaak sy dra die geskiedenis aan ons oor en dat ons moet trots wees oor waar ons vandaan kom. My ouma-hulle was nie noodwendig baie welaf nie, maar een ding wat ek onthou, is dat ons altyd lekker geëet het as ons by hulle was. 

“My ouma het nog Sondagmiddag se kos in een van daai groot ou aluminium-drukkokers voorberei met die vleis en aartappels in die onderkant van die pot en die boontjies, wortels en rys in die drie afskortings bo-op. Ek sal altyd onthou hoe die huis op ’n Sondag gevul was met die gesuis van die drukkoker se stoom en al die heerlike boerekos-geure.”

Hoe het jy gevoel oor Kobus (Burger, beoordelaar) se terugvoer op jou dis?

“Ek onthou net ek was bitter bekommerd dat hulle vir my gaan sê ek het te veel witpeper in my boontjies gegooi. Maar toe Kobus vir my sê dat my kos soos regte huiskos proe en dat hulle dit baie geniet het, was ek vreeslik verlig. Ek is bly hulle kon met my bord kos proe en sien wat ek probeer oordra het. Ek dink Ouma Ria sou trots gewees het.”


Mike van Rooyen 

Mike (37) is ’n kinkelbraaier van Morningside, Johannesburg. Mike se mentor is restaurateur, sjef en My Kitchen Rules-beoordelaar David Higgs vir wie hy ongeveer 15 jaar lank gewerk het. Maar nou is hy reg om sy eie storie te vertel.

Wie is Mike as hy by die huis is?

“Ek is baie meer kalm en rustiger by die huis is as wanneer ek in in die Kokkedoor Vuur & Vlam-kombuis is.”

Kokkedoor Vuur & Vlam
Mike is ’n kinkelbraaier. Foto: Verskaf

Hoe het dit gevoel om Bertus Basson en Kobus Botha (beoordelaars) vir die eerste keer in lewende lywe te sien?

“Ek was regtig baie opgewonde om vir Bertus en Kobus te ontmoet. Die senuwees het aanvanklik ’n bietjie gepla. Maar toe ek eers in die kombuis staan, het ek baie gemakliker begin voel.”

Wat het eerste deur jou kop gegaan toe jy hoor wat die eerste uitdaging is wat aan julle voorgelê is?

“Ek het werklik baie selfversekerd gevoel daaroor. Vir my het dit gevoel of ek in my gemaksone is.”

Het jy verwag jy gaan hierdie episode wen?

“Nee, ek het dit glad nie verwag nie. ’n Mens is onbewus van die ander kinkelkokke se vaardighede, veral tydens die eerste uitdaging in die kombuis. Ook, terwyl ons almal in die huis met mekaar gesels het, was daar maar min inligting wat gedeel is oor waar ons voorheen gewerk het. Dit was ook baie interessant om te sien hoe die beoordelaars te werk gegaan het met die verskillende disse wat aan hulle voorgesit is.”


Kokkedoor Vuur & Vlam S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uit. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.

Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
10

Gesinsvermaak: Kyk dié 10 reekse en flieks saam-saam

Van ‘Finding Optel’ en 'The Wild Robot' tot ‘Fuller House’ en 'Een keer om die son' – daar is heelparty TV-reekse en flieks wat jy oor die lang skoolvakansie as gesin saam kan kyk. 

Meer
3

‘Skemergrond’ in Desember: Hou dié storielyne dop

'Skemergrond' se mense beleef ’n stormagtige Desember met van liefde wat blom tot pynlike herlewings uit die verlede. Hier is die storielyne wat jy vandeesmaand moet dophou.

Meer
Sien alle opsies