Romantiese verhoudings is deel van die lekkerste lekker van sepies. Oor die jare het ons paartjies ontmoet wat ons weer in die liefde laat glo het, terwyl ander ons amper verskrik gelaat het. En dan is daar die paartjies wat vir ons couple goals is en die duifies wat ons bid tog hul sprokieseinde sal kry.
Met dít in gedagte het ons ’n lysie van sepiepaartjies saamgestel – verhoudings wat reeds vlamgevat het, dié wat ons hoop nog gaan vlamvat, en ander wat ons hoop nooit weer bymekaar sal kom nie.
Couple goals-paartjie
Wanneer dit by couple goals kom, is daar net een paartjie waaraan ons dink, want hulle het al hoeveel sakke sout saam opgeëet. Ja, hulle is nie perfek nie, maar Tracy (Melinda Viljoen) en Tertius (Reynard Hugo) op Binnelanders verdien hul oomblik in die son. Eers was hulle vriende, toe ontwikkel daar iets meer en toe friendzone hulle mekaar. Toe raak sy swanger en dink sy en Tertius die lewe kan nie beter raak nie. En toe is die kind haar eks se biologiese kind! Later het sy hard to get met Tertius gespeel, terwyl een van Tertius se ekse na hom verlang het.
Maar een ding van Tracy en Tertius – hulle is beste vriende en sal altyd mekaar kies en ondersteun. En wanneer hul verhouding ’n bietjie meer na housemates as lovers begin lyk, vind hulle maniere om die romanse weer te laat kook… #roleplay. Ja-nee, wanneer Tertius en Tracy later hierdie week uiteindelik trou, gaan ek trane stort!
(Jy wil nie hierdie troue misloop nie, so skakel 7 Februarie om 19:30 in, want ons wag al lank vir hierdie sprokieseinde.)
Giftigste paartjie
Sjoe… Wie om te kies? Want daar is ’n hele paar paartjies wat beslis nie saam moet wees nie. Ek het gesukkel om te kies tussen Hanli (Celeste Loots) en Riaan (Daniel Coetzee) in Suidooster, Gys (Justin Strydom) en Zelda (Sandi Schultz ) in Diepe Waters of Beeno (Duncan Johnson) en Gloria (Hunter Plaatjies) in Skemergrond.
Ek dink tog ons kan almal saamstem dat Beeno en Gloria bo almal anders in hierdie kategorie uitstaan. Gloria is een van die mees bedagsame mense met ’n groot hart vir haar gemeenskap. Beeno is die teenoorgestelde en ’n skollie wat heeltyd van die gemeenskap steel. Gloria bevind tans haarself in ’n situasie waarin sy haar lyf en siel aan Beeno moet gee om die mense rondom haar te beskerm. Die wiel draai stadig, maar ons glo Gloria gaan haar wraak kry…
Die paartjie met die meeste misverstande…
In hierdie kategorie is die kompetisie beslis tussen Louis (Germandt Geldenhuys) en Naomi (Je-ani Swiegelaar) van Binnelanders en Rhafiek (Irshaad Ally) en Kaashifa (Jawaahier Petersen) van Suidooster. Maar ek dink die eer gaan aan Rhafiek en Kaashifa. Dié twee is altyd aan die baklei. Een van hulle gaan altyd deur ’n krisis en as dinge te veel raak, bevind een van hulle altyd hulself by Moena (Jill Levenberg) se huis om stoom af te blaas. As ek nie van beter geweet het nie, sou ek sê hulle hoort nie saam nie…
Maar tog is daar niemand wat mekaar meer ondersteun as dié twee nie. Wanneer dinge goed gaan tussen hulle, gaan dit sommer baie goed. Maar wanneer hulle nie op die selfde bladsy is nie, kan dinge vinnig giftig raak. Ek dink albei is net te hardkoppig en albei het sterk persoonlikhede, maar die liefde en omgee wat hulle vir mekaar en hul familie het, is iets wat ’n mens nie maklik vind nie.
Power couple-paartjie
Albei plaas gewoonlik hul loopbaan bo liefde en kan ’n bietjie van ’n skurk wees, maar nadat Conrad (Hykie Berg) en Delia (Odelle De Wet) mekaar gevind het, laat hulle die sagter kant van mekaar deurskyn.
Ek het nooit gedink ek sou die dag sien waar Delia kaalvoet op die bank met ’n glas wyn en pajamas lê en glimlag nie. Nog minder het ek gedink ek sou ooit sien dat Conrad met liefde die bestuur van Binneland en sy huishouding aan iemand anders oorlaat nie. Met mekaar laat hulle al die balle val en hoef hulle nie soos haaie rond te sirkel nie. Maar wanneer dit by besigheid kom, is hulle steeds pitbulls. Ek love hierdie paartjie.
’n Paartjie wat ons graag weer saam wil sien
Hier dink ek onmiddellik aan Anja (Reandi Grey) en Rossouw (Altus Theart) van Diepe Waters en Kevin (Gershwin Mias) en Gloria van Skemergrond. Albei verhoudings het te onverwags geëindig, maar ons almal weet hierdie paartjies gee nog bitter baie om vir mekaar en was perfek vir mekaar. Ongelukkig kan Rossouw net homself blameer en weet ek eintlik nie of hy ’n tweede kans verdien nie. So hierdie keer stem ek vir Kevin en Gloria. Kevin het onlangs weer in Gloria se lewe verskyn en wil haar help om uit Beeno se kloue te kom. Kom ons hoop dat daar een van die dae ’n blommetroue op Everlasting vir dié twee is.

Die ‘nooit weer nie’-paartjie
Sonder twyfel is hierdie een Gys (Justin Strydom) en René (Marijke Coetser)! Dinge begin tussen dié twee broei. Al het dit aanvanklik gelyk asof Zelda net paranoïes is, is sy reg om bekommerd te wees. Dit is mooi dat Gys weer ’n hart het en vir haar probeer help, maar ná al die drama tussen hom en Zelda is hierdie moeilikheid soek! Ek wag nog vir Zelda en Gys om ná dekades hul romantiese troue te hê en René pas net nie by Gys nie. Sy is ’n veilige, maar vervelige keuse terwyl niks vervelig kan wees as Zelda en Gys saam in ’n vertrek is nie.

Unlucky in love…
Arme Bianca (Simone Biscombe)! As daar nou een persoon is wat in die liefde glo en wat al ’n duisende weergawes van haarself probeer het om die man van haar drome te ontmoet, is dit Bianca. Daar was al iets tussen haar en die dokter, wat nou die dominee is, sy was met die argitek, die apteker, haar dwelmsmous en selfs haar ontvoerder. Nee, kyk, dit lyk nie asof die liefde vir haar beskore is nie.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.
Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Suidooster is ook beskikbaar op Catch Up, DStv Stream en Showmax.
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.
Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.