Daar is iets besonders aan ’n vuur se klanke. Die geknetter. Hoe die hout skuif, soms tuimelend, soos dit vorm verander en as word. Die spat van kole. Die gesis van ’n skaapribbetjie se vet wat drup-drup op die braai. Ewe meesleurend, hoewel anders, is die kleur van die vlamme soos die temperatuur styg en daal, die vet wat borrel, die vleis wat verbruin, die versengende, gekonsentreerde hitte wat die lig verbuig.
En dan, die parfuum. Eers net van die hout. Dalk is dit ’n bietjie nat, ’n klammigheid hang in die lug. Later is dit die lipaflek-lekker aroma van die kos soos dit braai, geure wat monde laat water. Jy kan dit amper proe. Amper-amper die teksture op jou tong voel.
’n Vaardige produksiespan sou dié elemente kon saamvoeg om ’n aanvaarbare uur se televisie te skep. Dís egter magiese talente wat deel van Kokkedoor Vuur & Vlam se span uitmaak. Aanvaarbaar se moses. Ons het hier te doen met televisiekuns soos geskep deur Chris Lotz as kinematograaf, regisseur Sanet Olivier, asook Homebrew-vervaardigers Jaco Loubser en Paul Venter. Saam met inhoudsvervaardiger Errieda du Toit, kosvervaardiger Herman Lensing en produksie-ontwerper Bathoni Robinson, vorm dié lot ’n multidimensionele storie wat die beperkinge van televisie as ’n tweedimensionele medium – een wat net klank en beeld kan weergee – ongedaan maak. Soos die tonele een ná die ander uitspeel, die karakters bekendgestel en, uiteindelik, daar gebraai word, word die kyk van dié reeks ’n sensoriese ervaring.

Die eerste seisoen van Kokkedoor Vuur & Vlam, waarin deelnemers alles in die vlamme, op die kole, binne-in die as of op die rooster moet voorberei, is in 2023 uitgesaai. Soos in die eerste aflewering is die beoordelaars, die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha, nou in dié nuwe seisoen ook op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. (’n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding of ervaring nie. Kinkelbraaiers word gekies vir hul kwalifikasies of ondervinding in ’n professionele kombuis.)
Lotz, wie se styl so eie, gesteld en innemend is dat dit met oogopslag herkenbaar is, is soos ’n koning Midas. Of dit nou in die twee seisoene van Nêrens, Noord-Kaap is, die vorige seisoen van Kokkedoor Vuur & Vlam, of die roudeurdrenkte drama Donkerbos – die visuele landskappe wat hy skep, ontsluit veelseggende verhale terselfdertyd as wat dit ’n groter vertelling onderskraag.
Vele hande dra uiteindelik by om Kokkedoor Vuur & Vlam se kunssinnigheid te balanseer dat dit kykers omarm eerder as vervreem. Veral die samevoeging van karakters – ’n allerbelangrike bestanddeel in welke realiteitsreeks se resep – speel hier ’n groot rol. Die 20 deelnemers waarmee die reeks begin, is herkenbaar genoeg vir meeste van ons om een of ander raakpunt te vind. Só voel die karakters bekend. Bekend genoeg om na binne jou sitkamer te nooi. Later dalk selfs jou kombuis.

Daar is altyd baie wat in ’n episode ingepas moet word. Klanke, geure, teksture, mense, storielyne, uitdagings, wenners, verloorders, emosiebelaaide reaksies. Mense wat groet (of nie). Dalk ’n kinkel of twee. Meer bestanddele as ’n Ottelenghi-resep. So hoe die episodes hier uitgeplot word om dan teen ’n flink pas (nie te vinnig nie, nie te stadig nie, net reg) te verloop, en sonder dat dit oorversadig voel, is ’n besondere prestasie.
Dan’s daar ook die Afrikaans. Alle soorte. Of dit nou Liz se klinkklare geartikuleerde suiwer Afrikaans is, of die verskeidenheid omgangstale wat die Kapenaars en die Noorde se mense onderskei – dis mooi op die oor. Hoe mense praat, is deel van hul storie. En in daardie skote wanneer die tyd uithardloop en nog niks op ’n bord is nie, is hoe en wat mense sê (of nie sê nie) ’n heerlike ekstra laag tot die verpersoonliking van dié kykervaring. As sulks word die reeks ook deels emblematies van ’n onderskatte deug van kykNET as kanaal: met sepies soos Suidooster, komedies soos Magda Louw en dramas soos Juffrou X, word Afrikaans se lieflike diverse spektrum, die veranderlikheid, die speelsheid, as popkultuur-taal gevier.
Vroeg in die eerste episode van die tweede seisoen som een van die deelnemers, Ferdi Uys, minwetend die reeks as ’n geheel op as hy oor die uitdaging wat die beoordelaars vir die spanne gee, sê, “Die belangrikste ding is dat ons ’n storie moet hê wat ons moet vertel en ons moet nie die kos rou vir hulle gee nie.”
Aan storie is daar nie ’n tekort nie. En dié produksiespan wéét mos hoe om te braai.
Kokkedoor Vuur & Vlam S2 begin Donderdag, 6 Februarie 2025, om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.