Menu terloops
In Wat om te kyk [27 Feb 2025]

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ S2: Om te roer of nie te roer nie…


In die vierde episode van ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ moes die spanne hul vernuf met potjiekos toon. 

Deur Annelene Oberholzer

Stroom 'Kokkedoor Vuur & Vlam' S2

‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ S2: Om te roer of nie te roer nie…

Teen dié tyd is dit duidelik dat sjef Bertus Basson en koskenner Kobus Botha hoë verwagtinge van die Kokkedoor Vuur & Vlam-deelnemers koester. En volgens Kobus kom potjiekos met reëls. Moet dit in lae gepak word of moet dit geroer word? Wat is mite en wat is waarheid?

Maar vandeesweek is daar nog ’n kinkel: daar word onder party spanne gewoeker met nuwe spanmaats wat deur Bertus en Kobus aangewys word. Dis toe ook juis een van die nuwe spankombinasies wat as wenners uit die stryd getree het met hul vaalkospotjie. 

Kokkedoor Vuur & Vlam
Die beoordelaars, Bertus Basson en Kobus Burger, het die deelnemers met ’n kinkel verras om hulle op hul tone te hou. Foto: Verskaf

Die Mielie Mafia, bestaande uit De Wet Visser (37), ’n Cape Deli-verkoopsverteenwoordiger van Welgelegen (kinkelbraaier) en Martin Steyn (53), ’n dominee van Stellenbosch (onthoubraaier), se vaalkospotjie het die beoordelaars se asem behoorlik weggeslaan met die smaakvolle eenhoud waarmee dit voorberei is.  

Kokkedoor Vuur & Vlam
Martin Steyn en De Wet Visser het die beoordelaars se asem weggeslaan met hul potjiekos. Foto: Verskaf

Ons het ná afloop van hul sege vir De Wet en Martin ’n paar vrae gevra. 

De Wet vertel:

Kokkedoor Vuur & Vlam DE WET
De Wet Visser (37) is ’n kinkelbraaier en Cape Deli-verkoopsverteenwoordiger van Welgelegen.

Jy het ’n nuwe spanmaat in Martin gekry vir hierdie uitdaging. Voel jy dit was die regte besluit? 

“Martin is my derde spanmaat. Dis maar ’n kwessie van adapt or die. Hy lyk na ’n cool ou! Ek dink ons sal lekker kan saamwerk.”

Hoe lank loop jy al ’n pad met potjiekos en watter potjie is jou gunsteling? 

“Ek maak al van jongs af potjie. Ek probeer om elke Sondag een op die vuur te hê. Dit moet vir my so eenvoudig moontlik wees met lamsvleis en groente.”

Roer of nie roer nie?

“Ek roer nie!”

Hoe het dit gevoel toe jy hoor daar’s nog net ’n uur oor van die gegewe tyd?

“My hart het letterlik stil gaan staan in my borskas. Onthou, pot-maak is ’n heeldag-ding. Die vleis moet lekker sag kook.”

Jy’t vir Bertus verras met die appel wat jy bygevoeg het. Hoe het jy op hierdie idee gekom?

Ek het die appel-idee jare gelede in die Huisgenoot Potjiekos-resepteboek raakgelees. Die eerste uitgawe is in 1987 gedruk en dit het in my kop bly vassteek. Die appel komplimenteer die lam, maar jy proe nie werklik die appel nie.” 

Wie het met die naam “Mielie-Mafia” na vore gekom?

“As ek reg onthou, was dit 100% ’n spanpoging.”

Hoe het dit gevoel toe Kobus sê jul vaalkospotjie was vir hom alles wat dit moet wees?

“Om dit te hoor, was baie lekker. Aan die einde van die dag het ons bloot eenvoudige bestanddele gebruik en dit die ster van die pot gemaak.”   

Martin vertel:

Kokkedoor
Martin Steyn (53) is ’n onthoubraaier en dominee van Stellenbosch. Foto: Verskaf

Dit lyk asof jy en De Wet goed saamwerk?

“ ’n Nuwe spanmaat vra vinnige aanpassings en vra ook ’n bietjie gee en neem. De Wet ken sy kos en smaakprofiele en daar het ek hom voortou laat neem. Hy het op sy beurt my ook weer vertrou met dit wat ek ken.”

Potjiekos en basaars loop maar hand-aan-hand en jy noem jy proe meer as wat jy self potjie maak. Vertel meer oor die lekkerste potjie of interessantste kombinasie wat jy nog op ’n basaar raakgeloop het.

“Op ’n basaar is daar ’n potjie! En as pastoriekind en predikant het ek nou ook al áls in ’n pot gesien. Ek self het nog nie dié een raakgeloop nie, maar baie gehoor hiervan. Dit is ’n resep uit die resepteboek van NG Kerk Citrusdal – gemeente-resepteboeke is ’n skatkis van ou resepte – vir ’n Molpot. Want daar is mos baie sandmolle . . . ‘Sandmol met vervrissende Weskus witwyn’ is hoe die opskrif lui. Met karringmelk, koljander, naeltjies en varkspek bygevoeg. Onderaan die resep staan daar: ‘As u die mol proe, sal u Moses se raad volg aan die volk in die woestyn nadat hul kwartels uit die hemel ontvang het: ‘Niemand mag iets daarvan laat oorskiet tot more-oggend nie.’ uit Eksodus 16:19.”

Wat is jou gunsteling-vleissnit vir ’n potjie? En hoekom?

“Skaaprib. As daai vleis eers so van die been af val, is dit darem lekker. ’n Vet tweetand-skaaprib kan jou sous ook ver rek met diep geure in die pot. En terwyl jy wag vir die pot om gaar te kook, vat jy jou vet lieslap en braai dit in olie soos kaiings langsaan in ’n pot vir ’n krakerige peuselhappie.”

Vertel ’n bietjie meer van daai mieliepap-soufflé, oftewel mielieplof soos julle dit noem.

“Dit kom uit ’n vriendin van my se resepteboek. Dis ’n bietjie aangepas vir die braai met gebraaide heelpitmielies wat saam met die braaipap wat bietjie ge-‘soufflé’ is. 

“Die eierwitte is geklits, wat dit baie ligter as die tradisionele papterte maak wat almal ken. Dit is ook lekker as jy gaar boerewors bysit in die mengsel en saam met ’n vars groen slaai bedien. Dis iets wat ons as gesin al vir ontbyt geëet het. Dit is ’n hele gereg wat jy selfs op die vuur in ’n platboompot kan maak.”

Hoe hanteer jy daardie ‘storm in jou kop’ as twyfel inskop – soos wat gebeur het tydens die beoordeling?

“Storms is nodig, dit vat jou deur die stappe, dit laat jou dink. Ons pot het maar vaal gelyk en dit het my laat twyfel. Maar dan dink ek net aan wat ons gedoen het en die lepel waarmee ons van die pot geproe het. En ek onthou hoe lekker die geure en smake bymekaargekom het. Dán haal ek weer asem.”

Vaalkos of kerriekos?

“Vaalkos! Die naam gee jou die verkeerde idee. Hoewel die kleur vaal kan wees, is die geur allesbehalwe. Die uitdaging van ’n vaal pot is om elke bestanddeel tot sy reg te laat kom. Dit beteken jou tydsberekening moet reg wees vir elke bestanddeel wat jy byvoeg sodat sy beste geur kan uitkom. 

“Wanneer jy wat insit maak baie saak. Dit kan ook nie papsag gekook wees of te hard wees nie. En dan soos Matie Brink sê: Moet nie roer nie. Dan, aan die einde, kom daai smaak in jou mond waar alles net wegsmelt.”

Julle het R50 000 vir Meals on Wheels losgekook. Hoe het dit gevoel?

“Ek was baie bly. Daar is soveel nood daarbuite en dit was ongelooflik dat Meals on Wheels saam aan die Kokkedoor-tafel kan sit en dat daardie tafel groter gemaak word. Jy moet altyd ’n ekstra stoel hê.”

En die res?

Hier is nog ’n paar foto’s van wat tydens die episode afgespeel het en wat die ander spanne aangevang het.


Kokkedoor Vuur & Vlam S2 saai Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uit. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.

Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer

Jou telenovela-gids vir Maart 2025: Die einde breek aan in ‘My naam is Farah’

Tahir probeer steeds om vir Farah te beskerm soos dié verhaal ten einde loop. Hier is ons handige kykgids vir meer oor wat in die laaste sarsie episodes van ‘My naam is Farah’ op kykers wag.

Meer
Sien alle opsies