Wat gebeur as ’n popmooi pienk spookasem besigheids-’Barbie’ in ’n leeukuil beland saam met ’n eks-Mej. Suid-Afrika, ’n shopaholic dokter, ’n geskeide warrior perdeliefhebber, ’n eks-Barnyard performer en aspirant-sanger, en ’n gesofistikeerde dienaar van Mammon? Bring die wyn, Mamma, want dít is wat die eerste aflewering van die splinternuwe kykNET-realiteitsprokie The Real Housewives van die Wynlande probeer beantwoord.
Wie’s wie?
Die spotlight val eerste op die mees bekende van die lot – Amy Kleinhans-Curd, destydse Mej. Suid-Afrika wat ná al die jare nog lyk of sy onmiddellik weer die sash en crown moet dra. Amy is ouer en wyser, maar glad nie gryser nie! Dié vrou is maar net in ’n klas van haar eie – en hierdie eerste outing bewys dit! Amy se nuwe avontuur is gemik daarop om haar van huishoudelik-bekende skoonheidskoningin na sakekeiserin te verhef met die herbekendstelling van haarself as ‘Amelia’. ’n Engelsman sal vra ‘why fix it if it isn’t broken?’, maar Amy/Amelia sal seker met tyd – en op háár tyd – vir ons die magical antwoord gee.
Dit is elke kyker se reg om self te besluit wie is die bitches, bulldozers of bullshitters. Een ding is wel verseker: hier word baie vinnig naels gewys, en nie omdat dit pas ge-manicure is nie.
Mariska Thorpe is die klein maar ge-train’de besigheids-‘Barbie’ wie se paaie met Amy/Amelia kruis. Moet net nie dié feëtjie onderskat nie. Sy het ’n kop vir besigheid en is nie bang om te woeker vir dit wat sy wil hê nie – daarvan getuig haar talle besighede. ’n Lewende Legally Blonde-prinses gaan jy nie sommer om elke hoek en draai in die Boland uitskop nie, maar as sy wil staande bly tussen die res van die imposante vrouens gaan sy dalk minder moet aandag skenk aan haar blonde bombshell-etiket en eerder harder werk daaraan om haar business model brain ten toon te stel.
Die eerste aanspraakmaker vir die titel van Wicked Witch of the West is Karen Schwendtke. Dié geskeide mamma is ’n leeuwyfie wat jy nie sonder handskoene of ’n gekwalifiseerde leeutemmer wil aanpak nie. Met die eerste ontmoeting is dit duidelik dat Karen reeds etlike jare terug die wag voor haar mond ge-fire het, en dat sy haar tong vrye teuels gegee het om saam met die perde – of is dit nou ponies? – te galop. Haar selfversekerdheid en houding gaan of van jou ’n onmiddellike fan maak, of jy gaan haar dadelik bestempel as ’n frau Rottenmeier met meer geld as Uncle Scrooge McDuck. Is sy ’n warrior queen wat haar battles kies, of is sy ’n warrior prinses wat haar pyn wegsteek deur aanvalle te loods sonder enige grondige rede? Iets in haar houding verklap dat sy definitief die spreekwoordelike tail feathers letterlik gaan ruffle, want sy maak dit met die intrapslag duidelik dat sy nie unsinn van feëtjies – of enigiemand anders – gaan opvreet nie.
Candice Bester is ’n gebore performer wat nie doekies omdraai as dit kom by haar passies – en hartseer – in die lewe nie. Sy wil die sing-ding met alle mag en geweld probeer, want sy beskryf musiek as haar eerste liefde. Candice sou baie graag nog ’n kind wou hê, maar dit blyk dat dit nie vir haar en haar man beskore is nie. Is sy die Little Mermaid van die reeks: die karakter wat nog nie haar volle potensiaal kon uitleef nie? Of is sy die ondeunde seeheks wat net gewag het vir die regte geleentheid, soos hierdie realiteitsreeks, om haar ware potensiaal ten toon te stel? Net die tyd sal ons leer, maar daar is beslis meer aan hierdie huisvrou as wat die eerste ontmoeting te kenne wil gee…
Is Michelle van Zyl die fairy godmother wat alles en almal mooi maak en laat voel, of is sy ’n Wicked Witch of the East met pragtige mombakkies op? Een ding is seker: Michelle is alles behalwe ’n damsel in distress. Dié astetiese dokter hou van mooi goed, en daarvan getuig haar duur smaak, haar en haar man se kredietkaarte, en natuurlik, haar beroep. Sy het ’n kas vol geheime potions, lotions en towerstaffies om al die vrouens in die kontrei weer soos ‘n nuwe sikspens te laat voel, maar sy is ook ’n donker perd in dié groepering. Met weggooi-sinne maak sy nie net haar gevoel baie duidelik bekend nie, maar breek sy ook die illusie dat nie alles altyd pluis is nie. As ’n ma van vier is sy sekerlik gewoond aan chaos, en kan sy haar vrou staan tussen die res in dié Bolandse sandput. Sy is beslis een wat met ’n fyn oog dopgehou moet word – want sy gaan niks by haar eagle eyes laat verbygaan nie.
Anita Lloyd is loshande die voorloper vir die titel van Evil Queen – en nie net omdat sy reeds die ikoniese lag onder die knie het nie, maar ook omdat sy ’n magic mirror het waarin sy nie ’n frons kan waarneem nie. Gelukkig is Michelle naby om die probleem uit te stryk… Met haar vlymskerp tong laat sy niks en niemand onaangeraak nie, en noem ’n ding prontuit op sy naam – met of sonder ’n kragwoord (of veelvoude daarvan) om die ore te laat tuit. Sonder geld, volgens haar eie uitlatings, sou sy van ’n gebou afspring – want dit is haar grootste nagmerrie. Anita is ’n wêreldburger wat doen wat sy wil soos wat sy wil – wanneer sy wil! – en dit is duidelik dat elkeen van die huisvrouens versigtig om haar sal moet hap om nie ’n giftige appeltjie met haar te moet skil nie.
Amy Kleinhans-Curd. Foto: kykNET
Die naels is vinnig uit…
In ’n episode wat hopeloos te kort gevoel het, word ’n dekadente wenresep se plofbare bestanddele vlugtig aan die garden variety kykNET’er voorgestel: ses formidabele vrouens bevind hulself in ‘n kruitvat waar prag en praal die botoon voer, en die clash of the Queen B’s duidelik die ondertoon beheer. Dit is elke kyker se reg om self te besluit wie is die bitches, bulldozers of bullshitters. Een ding is wel verseker: hier word baie vinnig naels gewys, en nie omdat dit pas ge-manicure is nie.
Dit is veral duidelik by die eerste groot samekoms van die seisoen waar Amy/Amelia haar vonkelwyn aan die ander voorstel. Die grootste faux pas van die middag is wanneer Mariska wil weet of KWV dan nie net brandewyn maak nie – nadat Anita geen geheim daarvan gemaak het dat sy gedink het die drankie is nou nie juis waffers nie. En Anita sal weet, want haar man staan aan hoof van KWV.
Terwyl almal nog met oogrolle en off camera quotes die arme Mariska se general knowledge (of gebrek daaraan) met die kameraman bespreek, probeer Candice darem nog diplomaties aan Amy/Amelia verduidelik hoekom sy dink die tippeltjie nou nie die tong-tippie-toets triomfantlik geslaag het nie. Alhoewel Amy/Amelia diplomaties saamstem en gesels, soos ’n regte beauty queen, kan ’n mens sien haar bubble(s) is duidelik gebars. Maar dit was nog net die begin van die eerste salvo catfights wat in swierige styl om die tafel plaasgevind het…
Toe die gesprek na kinders draai, wat reeds ’n teer punt is vir sekere van die dames, kon Anita net nie op haar tong byt nie. Anita, wat child-free is, neem standpunt in en deel luidkeels hoe sy haar lewe geniet sonder enige bloedjies. Mariska, wat reeds die eerste skirmish aan Anita moes afstaan, neem die teenoorgestelde standpunt in en dit word vinnig ’n debat oor vroueregte en die Suid-Afrikaanse moderne samelewing wat die ander housewives laat verlang na tasteless tiny bubbles en tantilizing tastebuds. Almal is dit eens dat Mariska en Anita maar net nie om dieselfde vuur gaan sit met betrekking tot die onderwerp nie, terwyl Michelle reeds ’n lelike ding sien kop uitsteek.
Die storie oor die boom
Om die gesprek in ’n nuwe rigting te stuur, probeer Michelle die waarheid by Karen uitvind oor ’n storie van Karen en ’n boom wat afgery is by die spoglandgoed Val de Vie. Karen is eers uit die veld geslaan oor Michelle se storie, maar besluit dan om eerder oop kaarte te speel oor wat presies daar gebeur het. Ongelukkig vir Michelle is dit baie duidelik dat sy meer van ’n frenemy gemaak het as ’n ware vriendin.
Die laaste, maar sekerlik nie die finale, disagreement van die aand vind plaas wanneer Karen aankondig dat sy ’n divorce party wil hou om haar egskeiding (wat nou al ’n jaar oud is) te vier. Amy/Amelia dink nie dit is iets wat gevier moet word nie, terwyl meeste van die ander probeer uit figure wat so ’n partytjie sou behels. Finally, word die spanning ietwat gebreek as almal begin om bietjie meer ondersteunend te wees deur ’n positiewe spin op die idee te plaas – maar Amy/Amelia lyk nog nie heeltemal convinced nie.
Die Real Housewives van die Wynlande is op die oog af net wat die titel verklap: real. Maar soos wat Anita jou vinnig inlig aan die begin van die reeks: “It is not always what it seems!” Donderdagaande op kykNET om 20:00 gaan nooit weer dieselfde wees nie, want elke prinses kan in ’n oogwink in ’n feeks verander.
Die Real Housewives van die Wynlande word weekliks op Donderdae vanaf 20 April 2023 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Online uitgesaai.