Menu terloops
In Lysie-lysie [26 Okt 2023]

10 redes hoekom jy ‘Die brug’ móét kyk


‘Die brug’, die plaaslike weergawe van die internasionale trefferreeks ‘The Bridge’ sien hoe 12 vreemdelinge met kaal hande, baie sweet en swoeg en onder uitmergelende emosionele omstandighede vir R1 miljoen meeding.

Stroom aanlyn

10 redes hoekom jy ‘Die brug’ móét kyk
Kyk lokprent

In die loodsepisode van kykNET se splinternuwe realiteitsreeks, Die brug – ’n plaaslike weergawe van ’n die internasionale treffer The Bridge – ontmoet kykers 12 vreemdelinge aan die begin van ’n lewensveranderende avontuur. Nie een van die spelers het ’n idee waarvoor hulle hulself ingelaat het nie, en kykers kry ’n eerstehandse blik op die ervarings van die verbaasde spelers wanneer hulle uitvind.

Hier is 10 redes hoekom jy nie Die brug moet misloop nie:

1

Die spelers! 

Twaalf uiteenlopende persoonlikhede tussen die ouderdomme van 24 tot 57 is vir die reeks gekies. Elkeen het ’n storie om te vertel en ’n persoonlike brug om oor te steek. Verwag hartroerende oomblikke wanneer hierdie ware lewensdramas voor jou oë ontvou.

2

Vertroue

Ja, die uitgangspunt van die reeks is dat die spelers ’n brug binne 20 dae met hul kaal hande bou. Maar die reeks handel eintlik oor vertroue. Gaan die spelers stewige verhoudings met mekaar bou? En gaan die keuse oor wie oor die brug stap gegrond wees op vriendskap, of op wie hulle vertrou om die regte besluit te neem?

3

Gemeenskap

Dis inspirerend om te sien hoe 12 vreemdelinge bymekaar kom om ’n mikro-gemeenskap te vorm, en ’n amperse onbegonne taak as ’n span moet verrig.

4

Kinkels en onverwagse wendings

Wat is ’n realiteitsreeks sonder epiese uitdagings om dinge omver te gooi? Die brug het dit in spades! Wanneer daardie fakkel die lug invaar, moet jy gereed sit vir drama, spanning en aksie.

5

Leierskap

In die loodsepisode moet ’n leier gekies word. Maar hoe kies ’n groep vreemdelinge, wat mekaar pas ontmoet het, ’n leier? Met groot mag, kom groot verantwoordelikheid…

6

Drama

Sit ’n groep vreemdelinge in ’n afgeleë gebied waar hulle net op mekaar aangewese is en wat gaan jy beslis kry, sonder twyfel? Konflik! Uiteenlopende persoonlikhede, werksetiek en radikaal verskillende opinies – die bou van die brug is slegs ’n katalisator vir veel meer wat op kykers wag.

7

Geld laat die wêreld draai 

Hoe gaan die versoeking van R1 miljoen die spelers en hul morele kompas beïnvloed? Is hulle hier om net strategies vir eie gewin te speel? Of gaan die verhoudings wat hul tydens die reeks bou ’n impak op hul besluit maak?

8

Trots Suid-Afrikaans

Die plaaslike weergawe van hierdie gewilde internasionale formaat is noukeurig vervaardig om kykers ’n outentieke Suid-Afrikaanse gevoel te gee.

9

Nog ’n karakter

Die pragtige Swellendam-omgewing rondom die Buffeljagsdam was ideaal om die program meer as net ’n realiteitsreeks te maak en aan kykers ’n visuele skouspel van rolprentgehalte te bied. Die ongerepte omgewing is ook ’n karakter in die reeks. Wanneer die weer lekker saamgespeel het, was dit ’n vriendelike karakter. Maar ander kere was dit senutergend, broeiend, onheilspellend of vyandig.

10

Spanning gaan oorloop

…Wat meer het jy nodig?


Die brug saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons resensent, Bouwer Bridges, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies