Aanhangers van die gewilde kykNET-sepie Binnelanders sou oor die afgelope paar weke gesien het hoe Tracy se swangerskap-storielyn vanaf ’n feëverhaal in ’n nagmerrie ontaard.
Tracy en Tertius (Reynardt Hugo) was verlief en verlore, maar toe bars die bom dat Tracy se eks, Conrad (Hykie Berg), die pa van die kind is. Tracy moes toe die hartverskeurende nuus aan Tertius breek dat sy en Conrad vir oulaas ’n aand saam gedeel het kort voordat sy en Tertius hul verhouding begin het. Conrad weet nog nie en hierdie voormalige power couple se verhouding is besig om in duie te stort, maar soos Melinda sê: “Wat is ’n sepie nou sonder ’n bietjie drama”.
Tracy se penarie
Tracy het in die storielyn swanger geword, omdat Melinda swanger is, maar tog was dit vir Melinda aanvanklik moeilik om in haar karakter se hartseer skoene te klim.
“Ek het gevoel Tracy is vir die eerste keer in haar lewe in ’n gelukkige verhouding waar altwee partye presies weet waar hulle met mekaar staan. Hulle maak tyd vir mekaar en dit sou mooi gewees het as dit Tertius se kind was,” vertel Melinda oor haar karakter se penarie.
“Maar toe ons terugtel na om en by waar ek in die regte lewe swanger geword het, was Tertius en Tracy nog nie saam nie en die enigste ander on-screen potensiële toneel was saam met Conrad die aand wat hy haar getroos het. Ek is baie bevoorreg dat die skrywers besluit het om my swangerskap in te skryf eerder as om my boepie vir sowat sewe maande te moes wegsteek.”
Al was haar boepie nie ’n geheim nie, was die realiteit van ’n regte swangerskap nie sonder sy uitdagings op stel nie, veral wanneer dit by swangerskap-hormone kom.
“Ek het gehuil oor goed wat glad nie hartseer was nie en ek kon nie hartseer voel oor goed wat régtig hartseer was nie. Dit het in ’n stadium gevoel asof my emosies en reaksies omgedraai was,” vertel Melinda.
“Ek het ook elke dag ’n kosblik met Weetbix, ’n appel, ’n piesang, ’n liter water, room vir die jeukende, groeiende magie en ’n waaier saam stel toe gevat! Want sjoe, dis darem baie warm met ‘n klein verwarmer binne in jou!”
Geloof dra haar in swangerskap
Melinda, wat nog altyd sterk in haar geloof gestaan het, sê as aktrise was sy aanvanklik bekommerd oor die invloed wat Tracy se soms emosioneel-belaaide tonele op haar baba sou hê. Maar sy het in die Here vertrou.
“Dit was een ding wat ek moes leer om heeltemal anders te benader, omdat daar nou ’n klein babatjie in my is wat nie die verskil tussen ware paniek, hartseer en toneelspeel ken nie,” vertel sy eerlik.
“Maar ek het al vroeg in my swangerskap vir die Here gesê ek weet nie hoe om dit te doen nie en hom gevra, eintlik gesmeek, om my te lei en te leer. My man het ook baie vir beskerming oor my en babatjie se gemoed tydens die storielyne gebid.”
Op die skerm lyk Melinda heel gemaklik en so oortuigend in Tracy se skoene, dat ’n mens maklik sou dink dat Tracy deel van Melinda se DNA is, maar Melinda en haar geliefde karakter verskil op baie maniere. Veral nou as verwagtende ma’s!
“Ek dink die grootste verskil is die feit dat sy klaar ’n dogtertjie het en dat haar eerste ervaring van ma-wees nie goed was nie. Hierdie is my eerste babatjie, en ek het soveel hoop en opgewondenheid. Ek verwag net die beste uit God se hand, omdat Hy my uitgenooi het om goeie goed vir haar te vra. Ek weet dit gaan nie altyd maklik wees nie, maar ek weet met my hele hart Hy gaan my nie alleen los in my ma-wees nie. Ek dink Tracy voel ongelukkig baie alleen, al is daar gereeld soveel mense om haar.”
Ma-wees nou ’n hartsbegeerte
Om ouers te word was ’n baie nuwe hartsbegeerte vir Melinda en haar man, Francois.
“Voor dit was ons dolgelukkig met ons diere en plante. In die verlede het ons gesê dis okay as ons nie kinders het nie, want ons weet in elk geval nie hoe maak jy kinders in vandag se wêreld groot nie. Dis scary wat in skole aangaan, die goed waaraan vandag se jeug blootgestel word en die versoekings is net groter as ooit.”
Vroeg in haar swangerskap het daar ’n kunswerk oor haar pad gekom van ’n brullende leeu in die wolke bo ’n skool waar daar kindertjies staan om in te gaan. Saam met die kunswerk was hierdie skrif: “The Lord your God goes with you”.
“Ek het vir my man gesê, ‘Kyk hoe goed is die Here, elke vrees vir my kind se toekoms verdwyn in die wete dat Hy saam met haar gaan. Dat ons haar nie unarmed in ’n donker wêreld uitstuur nie, maar dat ons haar as lig gaan instuur!’ ”
Om met vreugde te lewe
Melinda erken dat sy baie min geweet het van wat vroue tydens swangerskap moet deurgaan, maar dat die ergste vir haar die rugpyn en ongemaklikheid is.
“As ’n rug- en maag-slaper was dit nogal ’n groot aanpassing om skielik net op my sye te mag slaap. En toe kom die grootste uitdaging toe ek op ses maande swanger val en my skouer beseer het. Toe kon ek vir weke net op een sy slaap wat vir my baie seer was. By die werk moes ek seker maak ek eet elke twee tot drie ure, anders het dit gevoel of ek gaan uit-pass. Ek het baie gou uitasem geraak gedurende my swangerskap, so tonele waar ek moes beweeg en praat was baie uitdagend.”
Met haar swangerskap wat amper verby is, kan Melinda nie meer wag om klein Liebe te verwelkom en om spesiale oomblikke wat sy met haar ma gedeel het, met haar eie dogtertjie te beleef nie.
“My ma het altyd vakansiedae en verjaarsdae vir ons so spesiaal gemaak. Ons broodjies in hartjies uitgesny vir Valentynsdag, ons het elke jaar ’n tema partytjie gehad met speletjies en aktiwiteite en Kersfees was die vreugdevolste tyd in ons huis. Sy het ons net so lief gemaak vir alles vier! Dis ’n tradisie wat ek graag vir my dogtertjie wil leer… om wholeheartedly, joyfully te celebrate!”
Binnelanders saai op weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook op DStv Stream) uit. Episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.