Menu terloops
In Gons [17 Nov 2023]

Kyk nou: Lokprent vir ‘Trompoppie’, Showmax se wilde Afrikaanse ‘whodunnit’


‘Trompoppie’, met onder andere Melissa Myburgh, Frank Opperman en Marion Holm in die rolverdeling, is ’n ‘wilde rit… wat gemaak is om jou op die punt van jou stoel te hou,’ vertel die regisseur Etienne Fourie oor dié nuwe Afrikaanse Showmax-raaiselreeks.

Kyk nou: Lokprent vir ‘Trompoppie’, Showmax se wilde Afrikaanse ‘whodunnit’
Kyk lokprent

Showmax het pas die eerste lokprent vir sy jongste Afrikaanse reeks, Trompoppie, vrygestel en bou só voort op die sukses van Spinners en Donkerbos. Trompoppie première op 7 Desember 2023 met nuwe episodes elke Donderdag totdat die reeks op 8 Februarie 2024 ten einde loop. 

Waaroor gaan Trompoppie?

As Luna, ’n talentvolle gimnas ’n beurs toegeken word aan ’n gesogte privaatskool wat sy andersins nooit sou kon bekostig nie, word sy in die genadelose wêreld van ’n elite groep trompoppies gegooi. Nadat ’n ontgroeningstradisie lelik skeefloop, sterf die een trompoppie ná die ander en die gemeenskap se oënskynlike perfekte fasade begin ineenstort.

Trompoppie is die eerste Showmax Original deur die Safta- en Silwerskerm-bekroonde skrywer en regisseur Etienne Fourie (StiekytDie WindpompTydelik Terminaal). Die veelbekroonde Homebrew Films is die vervaardigers.

Blink rolverdeling

Melissa Myburgh bou voort op haar benoeming as beste aktrise in ’n drama vir Dinge van ’n kind met haar vertolking van in Trompoppie as Luna, met die Silwerskermwenner Stian Bam (Die Verhaal van Racheltjie de Beer, Donkerbos) as haar wewenaar-pa.

Om met Fourie te werk, was vir Myburgh ’n groot trekpleister.

“In 2014 het ek Die Windpomp gekyk en dit is my hele gesin se gunsteling Afrikaanse rolprent,” sê sy. “Dit was deel van wat my lus gemaak het om Afrikaanse rolprente en TV te maak. Daar is niemand anders soos hy in ons bedryf nie.”

Trompoppie
Melissa Myburgh vertolk die rol van Luna in Trompoppie. Foto: Skermgreep

Die Safta-benoemde Marion Holm (Taktiek) speel die onstuitbare Jill Peterson, ’n sepiester aan die verkeerde kant van haar gloriedae, wat dan vir Luna ontdek, ’n beurs vir haar reël en haar onder haar vlerk neem.

“Gehore sal vir Marion in ’n heeltemal nuwe lig sien. Jill is iemand om mee rekening te hou,” sê Fourie.

Albert Maritz (Alles Malan) speel Jill se man, Fred – dis dan ook die eerste keer wat dié twee legendariese akteurs saamgewerk het. Celeste Loots, wat in September vanjaar die IMDbPro Top-100 StarMeter gehaal het danksy haar deurbraakrol as Kaya in One Piece, asook die 14-jarige nuweling Luca Human, is te sien as die egpaar se dogters, Zanne en Elke. Human is die dogter van die geliefde Afrikaanse aktrise Margit Meyer-Rödenbeck, óftewel Dowwe Dolla, en Fourie bestempel haar reeds as, “ ’n absolute superster. Haar toekoms is verblindend blink.”

Ook deel van die rolverdeling is die Safta-wenner Frank Opperman (G.I.L., Nêrens, Noord-Kaap) en nuweling Braeden Buys (Spinners) as speurders, die Fleur du Cap-wenner Daneel van der Walt (Recipes for Love and Murder, Nêrens, Noord-Kaap) as ’n ware misdaad-romanskrywer, en Armand Aucamp (One Piece, Troukoors) as die trompoppies se afrigter. Dan is daar ook die ster van Spinners, Cantona James, die Safta-benoemde Jane de Wet (The Girl From St. Agnes, Griekwastad, Spoorloos), Elzet Nel (Vaselinetjie) en Zandélle Meyer (Suidooster, Binnelanders) as leerders.

Trompoppie gaan oor die lewens van die verskillende trompoppies in ’n span wat probeer om die nasionale kompetisie te wen, asook alles wat daarmee gepaardgaan… die druk, die oefen, skool, mededinging om gewild te wees, tewerigheid tussen meisies,” sê Nel, wat die trompoppies se kaptein speel.

“Dis soos dit maar gaan as meisies met mekaar meeding, veral tussen die ouderdomme van 16 en 18. Dit is aaklig. Trompoppie wys dus ook hoe elke meisie die druk van al hierdie goed hanteer, en hoe ver hulle bereid is om te gaan om bo uit te kom. Julle is ’n span, maar jy (alleen) is eintlik die span – jy is jou eie span. Kykers kan ook uitsien na ongelooflike dansroetines en onverwagte kinkels.” 

Agter die skerms

Homebrew het ’n ewe briljante span vir agter die skerms saamgestel, onder andere die Safta-benoemdes Sunel Haasbroek (Hans Steek Die Rubicon Oor, Alles Malan) as kinematograaf, Marné van der Burgh (Blood & Water) as kostuumontwerper, Johan Prinsloo (Tali’s Joburg Diary) en Eva Du Preez (Nêrens, Noord-KaapDie Boekklub) as redigeerders. Loki Rothman (Troukoors) het die oorspronklike musiek geskep.

Fourie se vorige projek, Stiekyt, was ’n baie persoonlike kunsfliektreffer wat vir vir vyf toekennings by vanjaar se Saftas benoem is. Dit het ook by die Rotterdam Internasionale Filmfees en die Tallinn Black Nights-rolprentfees gedraai, en by laasgenoemde het die fees se sameroeper, Edvinas Pukšta, die fliek as “Hitchcock ontmoet Almodóvar in ’n Suid-Afrikaanse fopdosserklub” beskryf. 

In kontras hiermee wou hy Trompoppie vir ’n veel wyer gehoor maak, sê Fourie.

“Trompoppie is ’n liefdesbrief aan gehore. Dit is ’n wilde rit, maar dit is suiwer vermaak, ’n whodunnit wat gemaak is om jou op die punt van jou stoel te hou, om jou opgewonde te maak om die eerste te wees, voor jou vriende en kollegas, om te weet wat volgende gaan gebeur. Ek wou hê my ma moet dit kan kyk, my susters, my vriende: enigiemand moet dit kan kyk en verras en vermaak word.”


Weeklikse episodes vanaf Donderdag, 7 Desember 2023 op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

As jy hou van kosprogramme
0

Afrikaans kook groot! 10+ Afrikaanse kosprogramme om op DStv en Showmax te kyk

Ons is maar net mense, ons dink met ons pense... En daar is wraggies baie kosprogramme – in Afrikaans – waarin lipafleklekker geregte opgedis word.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer
Sien alle opsies