Menu terloops
In Recaps & Resensies [7 Nov 2024]

‘Taktiek’, nou op Showmax, slaan kishou as eg Suid-Afrikaanse, lag uit jou maag-treffer


Dis ’n goeie teken as ’n mens binne die eerste paar minute van ’n nuwe komediereeks nie kan ophou giggel nie. En as die giggel ’n lag word, sonder dat jy dit kan verhelp, nog beter. Veral as jou verwagtinge louwarm was en dit dan heeltemal binne slegs twee episodes oortref word. Die kykNET-komediereeks, ‘Taktiek’, is nou Showmax beskikbaar om te stroom.

Deur Riëtte van der Wat

Stroom nou

‘Taktiek’, nou op Showmax, slaan kishou as eg Suid-Afrikaanse, lag uit jou maag-treffer
Kyk lokprent

Enigiemand wat al om die halfuur lede van die sekuriteitsmaatskappy by hul huis sien verbyry, sal verstaan hoe eg-Suid-Afrikaans Taktiek is. Behalwe dat Schusterton, die denkbeeldige dorp waar Taktiek afspeel, ook die veiligste dorp in Suid-Afrika is… 

Dié komediereeks het begin met Bennie Fourie wat ’n cop show wou maak. Saam met die res van die gedugte span wat Hotel (al vyf seisoene is op Showmax) geskryf het (Ryan Metcalfe, Stiaan Smith en Beer Adriaanse), het hy toe met Taktiek vorendag gekom. Taktiek is boonop ook deur die fantastiese Amerikaanse sitkom Brooklyn Nine-Nine (op beide Showmax en Netflix beskikbaar) geïnspireer. Maar in dié klomp se hande, is Taktiek gelukkig (en soos ’n mens verwag), nie ’n ongemaklike poging om ’n Afrikaanse-nabootsing van Brooklyn Nine-Nine te maak nie. 

Volgens Bennie is daar baie reëls en regulasies oor die uitbeelding van die polisie en daarom was ʼn sekuriteitsmaatskappy op ʼn baie dooierige dorp die volgende beste ding. Bennie en Beer is die mede-regisseurs en hulle het ʼn eiesoortige, slim, deadpan-aanslag wat baie goed werk. Alles is deurdink en daar is geen fieterjasies nie. Die storie – en natuurlik die karakters – is dadelik die belangrikste ding.

TAKTIEK
ʼn Bekende aangesig vir Suid-Afrikaners in die suburbs. Foto: Verskaf

Ons ken dié karakters

Bennie is Goose (die Afrikaanse weergawe van Brooklyn Nine-Nine se Jake Peralta): hy het goeie bedoelings, maar hy is net so effens te vol van homself. Dis duidelik hoe baie die akteur dit geniet het om dié ou se veiligheidsbaadjie oor sy skouers te gooi. Bennie het dit al tot ʼn kuns vervolmaak om die effens misguided ou met die goeie hart te vertolk.

Goose se beste vriend is Willy (Keeno-Lee Hector) en ook ʼn sekuriteitswag. Hy brand duidelik nog steeds ʼn kersie vir sy eks, Bronwyn (Melissa de Vries). Bronwyn werk by die plaaslike kroeg waar die span ná werk uithang. Keeno-Lee het duidelik baie pret met sy karakter gehad en Melissa skep in die enkele tonele waarin ʼn mens haar in die eerste twee episodes te siene kry, reeds ʼn volronde karakter in wie se oë daar ’n klomp vure brand. Bronwyn is sarkasties en op die man af.

As die eerste twee episodes enige aanduiding is, gaan Taktiek ʼn wegholsukses wees.

Riëtte van der Wat

En dan is daar die briljante Mandri Sutherland, wat die rol van Mignon vertolk. Sy is ʼn dertigjarige “tannie” wat haar nie laat aanjaag wanneer sy ʼn “noodgeval” aan haar kollegas op patrollie moet oordra nie. Mandri is ʼn aktrise en komediant wat tans met haar eenvroustuk Vrou ens. toer (doen jouself ʼn guns en gaan kyk na Mariëtte se ma op haar Instragram-profiel, but I digress…). Mignon is frumpy en goed-dood, doodgoed, maar moenie met haar sukkel nie, sy is nie bang vir ʼn tazer nie. Ons almal ken sulke vroue (veral as jy van Pretoria af kom).

TAKTIEK, Attie en Mignon
Dié tweeling laat jou skaterlag. Mandri Sutherland speel Mignon en Schalk Bezuidenhout vertolk haar tweelingbroer, Attie. Foto: Verskaf

En dan is daar Mignon se tweelingbroer Attie die IT ou (Schalk Bezuidenhout). Hy is lekker met sy vuilerige hare en nie naastenby so ordentlik soos sy sussie nie. Schalk het vir vyf seisoene Danny in Hotel gespeel en kry hier ʼn kans om ʼn heel ander tipe karakter met sy eiesoortige aanslag lewe te gee. 

Die fantastiese Marion Holm is Karen, eksvrou van die sekuriteitsmaatskappy se skelm baas (Jorrie, gespeel deur Deon Lotz). Sy verleen ʼn sekere gravitas, saam met James Borthwick as Venter, ʼn knorrige oorlogsveteraan wat onvanpaste grappies oor Attie se ma maak sonder om ʼn oog te knip.

Leché Joubert maak haar komedie-debuut as Lisa, Karen se mooi dogter. Weens omstandighede buite haar beheer beland sy by Taktiek en moet die beste van ʼn slegte saak maak. Teen die tweede episode is haar karakter se motivering duidelik. Sy en Bennie het goeie chemie en laat ʼn mens ook onwillekeurig dink aan Brooklyn Nine-Nine se Jake en Amy Santiago se “gaan hulle, gaan hulle nie?”-verhouding.

As die eerste twee episodes enige aanduiding is, gaan Taktiek ʼn wegholsukses wees. Defintief meer suksesvol as wanneer die sekuriteitswagte in dié reeks die skoolseuns probeer vastrek wat hul siele uittrek! (Die hele kantstorielyn oor dié klomp en hul streke is vrek snaaks en tong-in-die-kies, veral wanneer Mignon hulle die Loflaaities noem.)


Taktiek is vanaf 7 November 2024 op Showmax beskikbaar om te stroom. Hotel is ook nou op Showmax beskikbaar as jy lus het vir ’n lekker binge-sessie.


Hierdie resensie het oorspronklik op 2 Oktober 2023 verskyn met die reeks se première op kykNET. Die resensie is aangepas met inligting oor die reeks se nuwe stroombesonderhede vanaf 7 November 2024 op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies