Menu terloops
In Lysie-lysie [19 Sep 2023]

Wie’s wie in ‘Taktiek’, kykNET se nuwe lag uit jou maag uit-komedie


Van Afrikaans se snaaksste komediante en akteurs is eersdaags in ‘Taktiek’, ’n splinternuwe komediereeks op kykNET te sien. Ons vertel jou hier meer oor dié lawwe reeks se karakters.

Wie’s wie in ‘Taktiek’, kykNET se nuwe lag uit jou maag uit-komedie
Kyk lokprent

Bennie Fourie, Schalk Bezuidenhout, Mandri Sutherland en meer – kykNET se nuwe komedie, Taktiek, spog met van die grootste name in die lagbedryf.

Die storie draai om ’n sekuriteitsmaatskappy, Taktiek, in die veiligste dorp in die land. Die reeks is vervaardig deur Nagvlug Films, wat ook vir die Safta-bekroonde trefferkomedie Hotel verantwoordelik was. Die reeks is geskryf deur Fourie, Ryan Metcalfe, Beer Adriaanse en Stiaan Smith en maak op 2 Oktober vanjaar sy debuut op die kassie.

Ontmoet die karakters

1

Bennie Fourie as Goose

Goose, Taktiek, kykNET

Goose se familie het na Nieu-Seeland geëmigreer, maar hy het gebly om die land veiliger te maak sodat hulle kan terugkom. Hy is bang vir niks behalwe emosie nie.

“Dis een van die voordele daarvan om een van die skrywers te wees van ’n reeks waarin jy speel – jy kan ’n karakter skryf wat jy graag wil speel,” sê Bennie.

“Goose is hierdie ou wat ’n blinde selfvertroue in homself het en werklik glo dat hy die land gaan red sodat sy ouers kan terugkom. Hy het groot drome, maar is vasgevang in ’n klein dorpie; ’n geval van ‘in die land van die blindes, is eenoog koning’.”

2

Schalk Bezuidenhout as Attie

Attie, Taktiek, kykNET

Attie is verantwoordelik vir die IT by Taktiek, maar het drome om ’n sekuriteitswag te word.

“Eerstens, was die uitdaging van ’n nuwe karakter baie lekker,” sê Schalk.

“Ek was Danny in Hotel vir vyf seisoene, en ek sou selfs meer seisoene wou doen, maar afwisseling is belangrik en hou dinge interessant. Attie en Danny (sy karakter in Hotel) kan nie meer verskil nie, en ek moes van voor met karakterontwikkeling begin. Dis ook vir my belangrik om vir die kyker met elke karakter iets nuuts te gee wat geheel en al verskil van wat hulle al voorheen van my gesien het. Ek is ’n enigste kind en het gedink dis sou lekker wees om nie net ’n boetie of sussie te hê nie, maar deel van ’n tweeling te wees.”

3

Mandri Sutherland as Attie se tweelingsuster, Mignon

Mignon, Taktiek, kykNET

Mignon is ’n 50-jarige vasgevang in ’n 30-jarige se lyf. Die laaste ding wat sy moet doen, is kommunikasie, maar sy is die een wat al die oproepe by Taktiek hanteer…

“Snaaks genoeg is Mandri ook ’n enigste kind,” sê Schalk. “Ons het dit al twee geniet om die dinamika tussen boetie en sussie te ontdek.”

4

Keeno-Lee Hector as Willy Brown

Willy, Taktiek, kykNET

Willy is Goose se beste vriend en ook ’n sekuriteitswag.

“Die karakter is so goed geskryf, en elke toneel was ’n plesier,” sê Keeno-Lee.

“Bennie en Beer (Adriaanse, die mede-regisseur) het ook die veiligste kreatiewe atmosfeer geskep. Ons het die ruimte gehad om te speel, en baie van die tonele begin of eindig met skreeusnaakse, onvoorbereide dialoog. Maar die verhouding tussen Willy en Goose was vir my die mees bevredigende – almal het so ’n vriend nodig!”

5

James Borthwick as Venter

Venter, Taktiek, kykNET

Venter is ’n knorrige oorlogsveteraan wat al lankal moes aftree, maar as sekuriteitswag werk om die pot aan die kook te hou.

“Die feit dat selfs ouer mense soos ek darem ’n ou werkie kan kry, is vir my die hoogtepunt,” sê James, ’n veteraanakteur en Safta-wenner vir sy rol as Ferdie in Hotel.

6

Deon Lotz as Jorrie en Marion Holm as Karen

Karen, Taktiek, kykNET

Jorrie is die skelm sakeman wat tjoekie toe gestuur word, en Karen is Jorrie se eksvrou met ’n onbetaamlike liefde vir geld.

“Wat ek die meeste van Karen geniet, is dat sy so reguit sê wat sy wil en nie vir ’n oomblik dink dat sy dalk, net dalk, verkeerd kan wees nie,” sê Marion.

7

Leché Joubert as Lisa 

Lisa, Taktiek, kykNET

Lisa is Jorrie en Karen se dogter, en in ’n sameloop van omstandighede, word sy die baas van Taktiek.

“Lisa is ’n warrelwind van emosie en is nie bang om dit te wys nie. Dit was so lekker om deur haar net te let go. Hierdie is my eerste komedie, en sy was die perfekte karakter,” sê Leché.

“Op die oog af lyk sy soos jou tipiese neus-in-die-lug stadsmeisie. Maar sy het ’n kinderlikheid aan haar wat nooit kans gekry het om uit te kom nie. Sy is besig om haar eie identiteit te skep en dit was ’n opwindende proses om daardie identiteit saam met die karakter te vind.”

8

Melissa de Vries as Bronwyn

Bronwyn, Taktiek, kykNET

Bronwyn werk by die plaaslike kroeg. Sy en Willy Brown was ’n paartjie, maar dinge was ingewikkeld en toe werk dit nie uit nie. Maar tog kruis hulle paadjies steeds gereeld en lyk dit asof daar dalk nog ’n vlam mag wees.

Melissa sê dit was baie lekker om haar karakter te speel.

“Bronnie is bad-ass. Ek love haar sarkasme, en sy sê soms goed wat ek as Melissa nooit vir mense sal kan sê nie.”

En nog!

Ander spelers wat in gasrolle te sien is, sluit in Ludwig Binge as Arend, Lisa se skatryk verloofde wat haar verlaat omdat hy nie kans sien vir haar familie se skandes nie.

Donnalee Roberts, Leandie du Randt, Devonecia Swartz, Antoinette Kellermann en André Weideman verskyn ook.


Taktiek begin op Maandag 2 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.

Hotel is ook nou op Showmax beskikbaar as jy lus het vir ’n lekker binge-sessie.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Redakteurskeuse vir Februarie 2025

Wat om te kyk: Die popkultuur-fenomeen ‘White Lotus’ keer terug vir ’n derde seisoen, ‘Suits’ se spin-off, ‘Suits L.A.’, maak sy debuut, en Kate Hudson is in haar element in die nuwe Mindy Kaling-komedie, ‘Running Point’ – hierdie stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Jou telenovela-gids vir Februarie 2025: Ontvoerings en opskuddings in ‘My naam is Farah’

Tahir neem sake in eie hande en Farah sal enigiets doen om haar ma te red. Dít en nog meer wag op ‘My naam is Farah’-kykers in Februarie. Hier is ons handige kykgids.

Meer

‘Suidooster’: Kyk uit vir dié 5 storielyn-kinkels in Februarie

Dié ‘Suidooster’ kom in Februarie nie saggies teen die hange van die berg af nie… Hier is vyf storielyne wat ‘Suidooster’-kykers in die maand van die liefde hul naels behoorlik gaan laat kou.

Meer

Jou kykgids vir ‘Kokkedoor Vuur & Vlam’ se tweede seisoen

In die tweede seisoen van die kykNET-kosreeks 'Kokkedoor Vuur & Vlam' is die bekroonde sjef Bertus Basson en braaighoeroe Kobus Botha weer op soek na die perfekte kombinasie van ’n onthoubraaier en kinkelbraaier. Hier is waarna kykers oor die loop van die tweede seisoen se 13 episodes kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies