Baie sal vir Gerald Steyn onthou as Pine van die gewilde kykNET-sepie Getroud met Rugby, of dalk vir sy rol as die vurige en skerp speurder Nick Tanner in die bekroonde M-Net reeks, Reyka. Maar meeste ken hom as die sjarmante dr. Uys Wagner van Binnelanders wat altyd besig is op iemand verlief te raak… Net om met ’n gebroke hart te eindig.
Ja-nee, kyk, Uys se hart is al ’n paar keer gebreek, maar dit het hom nog glad nie pessimisties gemaak nie. Hy mag dalk ’n spiertier wees en macho oorkom, maar sy hartjie is klein en hy staan altyd gereed om sy vriende en medemens te help. En dis juis danksy sy omgee-persoonlikheid dat hy homself in ’n nuwe penarie bevind.
Toe dit lyk asof Nicolette (vertolk deur Kate Roothman) se sterwende ouma die familie-strandhuis op Buffelsbaai vir haar ouer broer wil gee, moes sy gou plan maak om vir ouma te wys dat sy ook ’n man en kinders in haar toekoms sien wat graag Kersfees by die strand wil hou. Wie anders to the rescue as…. Uys!
Al dryf dié twee mekaar soms teen die mure uit, verander hierdie plannetjie dalk nog in ’n regte egte romanse…

‘Spesiale karakter’
As ’n mens met Gerald gesels is dit nogal moeilik om die karakter en akteur die skei. Nes sy karakters op TV het hy ’n spontane en pret energie. ’n Mens kraai sommer van die lag vir die stories wat hy vertel en nes die humor van dr. Wagner en speurder Tanner, het Gerald ook daardie iets wat jou sommer onmiddellik gemaklik en ontspanne laat voel.
“In hierdie stadium weet ek nie of dit ’n kwessie is van life immitating art nie, en of die skrywers my eie lewe as inspirasie vir Uys se storielyne gebruik nie. Maar Uys is ’n baie spesiale karakter vir my. Ek dink dit is juis omdat ons so baie in gemeen het. Ons albei kan ’n bietjie stout wees en albei ons ma’s voel seker dit is tyd om te settle. Familie en die mense in ons lewens is baie belangrik vir ons en dit is al wat saak maak.”
Nes sy karakter ontspan Gerald om ’n braaivuur, as hy kamp in die wildtuin met sy vriende, of met ’n paddleboard in die water. “Vir my persoonlik was dit nog altyd grounding om vriende en familie te hê wat glad nie in die bedryf is nie. Hulle kyk nie regtig sepies nie en hulle sien my nie as ’n bekende nie. Hulle het ook heeltemal ’n ander uitkyk op die lewe en dit is soms wat ek nodig het,” vertel hy.
Die pad tot by Pine
Hy mag dalk ’n ongevalle dokter en speurder op TV speel, maar in die werklike lewe is hy eintlik ’n prokureur. “Ja, ek weet dit is moeilik om te glo! Ek het my LLB en dit was juis in my kantoor by die law firm waar ek besluit het ek wil ’n akteur word. Ek het in my kantoor gesit en na ’n pak dokumente gekyk en besef ek kan nie dit vir die res van my lewe doen nie,” vertel hy.
“Ek was van kleintyd mal oor acting. Ek het drie broers en ons het altyd gespeel en gemaak asof ons in verskillende tonele act. Ek het net daar besluit ek gaan regte los en het vir ’n acting-kursus by die Universiteit van Johannesburg ingeskryf.”
Dit is juis tydens hierdie kursus dat hy vir oudisies begin gaan het. Ná ’n paar advertensierolle het iemand hom raakgesien en gevra dat hy vir Getroud met Rugby oudisie.
“Dit is toe dat ek die rol van Pine losgeslaan het en dit was my eerste groot acting rol. Van daar af het dit regtig nog altyd net vir my uitgewerk dat iemand my deur ’n ander projek of klas raaksien en aanmoedig om vir iets te probeer,” vertel hy.
‘Vertrou jou gevoel’

Selfs ná baie sukses en jare in die bedryf, verklap Gerald dat hy nou eers gemaklik voor die kamera voel. “Dit is nie altyd so maklik soos wat dit lyk nie. Selfs as akteurs kan ’n mens maar soms hard op jouself wees en in jou werk twyfel,” vertel hy.
“Omdat ek nie acting geswot het nie, het ek in die begin net gegaan met wat natuurlik voel. Ek het glad nie daaroor gedink nie. Hoe meer jy leer, hoe meer perfek wil jy wees. Ek was op ’n tyd obsessief daaroor en dan kan jy maklik dinge oordink. Op ’n dag het my asem heeltemal opgeraak by Binnelanders en ek het selfs ’n sportsielkundige gaan sien. Dit het soos ’n tipe performance anxiety gevoel. Maar ek het nou geleer dat ’n mens in acting, soos met baie ander dinge in die lewe, die belangrike goed moet leer en dan net laat gaan. Vertrou jou gevoel en jou aanvoeling vir die werk. Dít sal jou lei.”
Groot dromer
Wanneer hy nie op die kassie of grootskerm verskyn nie, sing hy ook graag, maar musiek kom nie so natuurlik soos acting vir hom nie. “Ek back myself eerder as akteur as sanger, maar dit is vir my baie lekker om te sing. Maar, soos my ma sê, ek kan soms te impulsief wees en dit is hoekom ek nou ’n musiekvideo het. Dit was ’n emmerskoplysie-item vir my en ek is trots dat ek dit gedoen het.”
Hoewel sy ma-hulle al Wes-Kaap toe getrek het en nou naby die see bly, het Gerald nog geen planne om Randburg, sy geboorteplek, te verlaat nie. Maar oor die toekoms is hy opgewonde, want, kom ’n mens vinnig agter, hy droom groot. “ ’n Mens weet nooit wat vir jou wag nie. Ek is altyd oop vir ’n avontuur.”
Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai.