Menu terloops
In Onderhoude [21 Aug 2024]

‘Suidooster’ se Zoë: Aktrise Lauren Joseph oor die ‘reddende genade’ in haar lewe


Waarheen neem die lewe – en liefde – dié keer vir ‘Suidooster’ se Zoë? Die aktrise Lauren Joseph gesels oor haar karakter se nuutste storielyn, vorentoe kyk en rou ná haar pa se dood, en hoe beide sy én Zoë oor die jare gegroei het.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk nou 'Suidooster'

‘Suidooster’ se Zoë: Aktrise Lauren Joseph oor die ‘reddende genade’ in haar lewe

As daar een Suidooster-karakter is wat oor die jare ’n merkwaardige transformasie ondergaan het, het is dit beslis die prinses van die October-empire, Zoë. Sy stoot gereeld kykers se bloeddruk op, maar as Zoë, vertolk deur Lauren Joseph, op die skerm verskyn, kan ’n mens nie sommer wegkyk nie. 

Kykers het vir Zoë leer ken as haar oom se blinkoog-gunsteling toe die sakeman Ian October (Abduraghmaan Adams) se golden girl van die skepe af gekom het. Ná haar tyd op die skepe het Zoë besluit om haar huis in Ruiterbosch te maak en as ’n fiksheidsinstrukteur by die gym, by Oos-Wes, en selfs by Ian se klub, gewerk voordat sy by die familiebesigheid betrokke geraak het. Nou is sy op die raad van JPD en bekend as iemand wat wikkel in die eiendomsmark. 

Maar hoewel Zoë ’n gedugte sakevrou is, maak sy nie altyd die beste besluite buite die raadsaal nie. Die drama vind gewoonlik vir Zoë, gewoonlik danksy haar slinkse familie en eksman, maar dis ook haar liefdeslewe wat Ruiterbosch – en kykers – se tonge laat klap. Zoë is onlangs van haar skurk van ’n eksman, Tim (Marco Spaumer), geskei, maar sy blyk nie een te wees wat hou van single wees nie… (Kykers moet liefs hul bloeddrukpille drink vir die drama wat wag…)

Glad nie so maklik nie

Tog, sê Lauren, moet mense nie te gou oordeel fel nie. Haar karakter is al deur baie oor die jare en het op ’n baie organiese manier ver verby ander gegroei.

“Die oorgang na waar sy nou is, was baie natuurlik, want sy het probeer en uit haar foute geleer. Sy het al soveel ervaar, maar is ’n free spirit, Sy is uiteindelik op ’n plek waar sy iets doen waarvoor sy regtig lief is. Sy hou van ’n uitdaging en is lief vir die opwinding – en daarvan het sy meer as genoeg,” vertel Lauren.  

“Mense dink altyd Zoë kry alles maklik, maar hulle ken nie haar agtergrond nie en hulle weet nie hoe hard sy moes werk om te kom waar sy vandag is nie. Sy moes wegstap van haar familie en lewe vir ’n nuwe begin en het die beste daarvan gemaak.” 

Let go and let God… Dit was regtig my reddende genade in terme van persoonlike groei.

Lauren Joseph

Zoë se evolusie

As Lauren terugdink aan die Zoë wat dag een by Suidooster begin het en die Zoë wat vandag op die skerm verskyn, is sy veral trots op hoe gemaklik Zoë vandag in haar eie vel is – én hoe gemaklik sy in Zoë se skoene voel. 

 “Aanvanklik was ek baie angstig en op my senuwees. Ek het toegelaat dat my angs oorvat. As ek een fout op stel gemaak het, het ek huis toe gegaan en gehuil. Ek was baie hard op myself, maar nou is ek baie meer gemaklik op stel en ek vat nie meer produksie se notas so persoonlik soos in die begin nie. Ons almal werk saam om ’n goeie program vir kykers te maak, en as ek my karakter kan verbeter dan doen ek dit. Ek het oor die jare baie aan my geestesgesondheid gewerk en ek glo dít het vir my en Zoë baie gehelp om te groei.”

Die verskil tussen Zoë en Lauren 

Waar Zoë verkies om van haar probleme weg te hardloop, verkies Lauren dit om met haarself en haar gevoelens te sit en daaraan te werk. 

“Soms soek ek ook ’n afleiding, maar aan die einde van die dag gaan ek huis toe en dan werk ek daaraan. Ek beweeg nie sommer aan na die volgende ding as ek weet dat ek nog nie gereed is nie. Ek doen nie net sommer dinge nie, ek dink daaroor. Maar Zoë dink nie, sy spring net. Ek dink dit is een van die grootste verskille tussen ons.” 

Lauren Joseph as Zoë in Suidooster
Lauren Joseph as Zoë in Suidooster. Foto: Skermgreep

As daar een ding is wat Lauren wens Zoë van haar as mens kon leer, is dit om meer oordeelkundig op te tree. 

“Ek bid elke dag vir goeie oordeel en vertrou ’n bietjie meer my gut as my kop,” skerts sy.

Op haar beurt wens Lauren weer dat sy ’n bietjie meer geld soos Zoë kon hê.

Lauren laat haar nie onderkry nie

Hoewel beide Lauren en Zoë baie uitdagings oor die jare ervaar het, laat sy as Lauren nie toe dat die lewe haar onderkry nie. 

“As kind het my ma ons altyd aangemoedig om in voeling met ons innerlike kind te wees.  Dit is iets wat ek nooit wou verloor nie. Die feit dat ek altyd positief en bubbly is, het baie te doen met die feit dat ek in voeling met my innerlike kind is. Ek wil haar altyd trots maak, maar ek glo ook dat ’n mens nie jou probleme op jou skouers moet dra nie. Ek neem al my probleme na die Here en ek dra hulle nie, want ek weet hy het ’n plan,” vertel Lauren. 

Ek was nog altyd ’n onafhanklike persoon, maar ek het eers ná sy dood besef hoeveel ek op my pa gesteun het vir help. Daar was nie iets wat hy nie vir my ma en sy meisiekinders sou doen nie. Hy was alles wat ek in ’n man sou wou hê en om hom te verloor was verwoestend.

Lauren Joseph

“Ek is ook iemand wat in my persoonlike groei belê. Elke jaar is daar ’n spesifieke tema waarop ek fokus. Verlede jaar was dit selfliefde, hierdie jaar is dit rou en om myself toe te laat om te voel. Ek wou weer nader beweeg aan die Here en in my persoonlike verhoudings wou ek hierdie jaar daarop fokus om my tyd te spandeer met die mense wat regtig saak maak. Ek wil nie toelaat dat dinge so swaar op my hart lê nie, waar ek voel ek het beheer oor die voertuig verloor nie, want ek was in die eerste plek nie eers in beheer nie. Let go and let God… Dit was regtig my reddende genade in terme van persoonlike groei.”

Tyd om te rou

Lauren wou veral stil raak om persoonlik te rou en te voel na die dood van haar pa in 2022.

“Ons het ’n lang pad met my pa gestap ná sy kankerdiagnose en kon behoorlik groet en as ’n familie afskeid neem. Maar al het ek vir hom belowe dat ek okei gaan wees, was dit ’n groot leuen. Maar ek dink dit was belangrik vir hom om te hoor, sodat hy vrede kon hê.  Ek was nog altyd ’n onafhanklike persoon, maar ek het eers ná sy dood besef hoeveel ek op my pa gesteun het vir help. Daar was nie iets wat hy nie vir my ma en sy meisiekinders sou doen nie. Hy was alles wat ek in ’n man sou wou hê en om hom te verloor was verwoestend,” vertel sy. 

“Natuurlik het ons as familie saam gerou en is daar vir mekaar, maar ek het eers onlangs besef dat ek nooit die tyd gevat het om alleen my gevoelens te verwerk nie.  My pa se dood het ons laat besef hoe belangrik ondersteuning is en hoe belangrik dit is om mekaar te kies. Dit is ’n rollercoaster van emosies. Ek moes op my eie ook tyd neem om selfsugtig te rou en my onafhanklikheid sonder my pa te vind. Hy was die gom in ons familie.” 

Lauren kyk vorentoe, Zoë lewe in verlede 

Lauren het vanjaar tyd spandeer om deur haar gevoelens te werk en sy wens dat Zoë, ná al haar trauma dieselfde sou doen. Maar in plaas van ’n tydjie enkellopend bly, blyk dit Zoë is weer op Wade se spoor! 

Suidooster, Lauren Joseph, Zoë, Wade, Angie
Is dit die einde van Suidooster se #Wangie…? Foto: Skermgreep

“Toe ek die script (vir dié storielyn) gekry het, was ek nogal geskok. Ek het regtig gedink dat Zoë en Wade se paaie nooit weer romanties sou kruis nie. Wade en Angie (Char Carrie) is ’n geliefde paartjie en ek is ook mal oor hulle. Ek was bang dat Zoë nou weer die vark in die verhaal gaan wees, want daar is baie mense wat reeds nie van haar hou nie, maar ons is hier vir die drama en vermaak. En ongelukkig is dit soms mense se realiteit,” vertel Lauren. 

Al wat ek gaan sê is… Daar is omtrent 70% van mense wat Angie en Wade se liefde ondersteun en dalk so 30% wat graag weer vir Zoë en Wade saam wil sien. Sommige mense gaan bly wees oor hoe dinge uitdraai en ander gaan hartseer wees. Of dit nou die minderheid of meerderheid is, sal kykers maar moet wag en sien.

Lauren Joseph

“Ek het gehoop dat Zoë ná al die drama met Tim enkellopend sou wees. Sy was geestelik en emosioneel mishandel en hierdie meisie moet tyd vat om aan haarself te gaan werk. Dit is so maklik vir mense om geluk in iemand anders te wil vind en ek wou hê sy moes tyd vat om eers weer liefde en geluk in haarself te vind.

Hoe gaan dinge eindig?

Lauren wou nie verder uitbrei oor hoe dinge tussen Zoë en Wade gaan uitdraai nie, maar nes haar eie lewe, sê sy, gaan dit beslis ’n interessante jaar vir hierdie twee wees. 

“Al wat ek gaan sê is… Daar is omtrent 70% van mense wat Angie en Wade se liefde ondersteun en dalk so 30% wat graag weer vir Zoë en Wade saam wil sien. Sommige mense gaan bly wees oor hoe dinge uitdraai en ander gaan hartseer wees. Of dit nou die minderheid of meerderheid is, sal kykers maar moet wag en sien,” skerts sy. 

“Dit is altyd lekker om weer ’n storielyn te doen met iemand wat jy goed ken en saam met wie jy al deur baie op die skerm is. Maar dit was ook moeilik omdat Zoë soveel oor die jare gegroei het en beide karakters soveel anders is as toe hulle destyds verlief was. Ek kon nie teruggaan na ou gewoontes nie en moes die interaksie tussen ons ’n bietjie aanpas.”

Maar nes haar karakter staan Lauren altyd gereed om deur die ongemak en nuwe ervarings te groei. 


Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies