Menu terloops
In Onderhoude [8 Okt 2024]

Cintaine Schutte oor ‘Wyfie’, Facebook-tannies en hoe onverwags liefde kan wees


Dat haar karakter in ‘Wyfie’ ’n hele paar jaar ouer as haar liefdesbelangstelling in die reeks, Shay (Beáta Bena Green), is, traak haar min, vertel die aktrise Cintaine Schutte. Is dit immers nie hoe onverwags die liefde kan wees, wat dit so besonders maak nie?

Deur Rozanne Els

Stroom 'Wyfie'

Cintaine Schutte oor ‘Wyfie’, Facebook-tannies en hoe onverwags liefde kan wees
Kyk lokprent

Die een oomblik het sy nog ge-nip dat sy nie werk het nie, en die volgende was sy besig om haarself in Wyfie-wêreld te verdiep, vertel Cintaine Schutte. Cintaine, wat vroeër vanjaar ’n Naledi-teaterprys vir haar ongelooflike spel in Tien Duisend Ton ingepalm het, en ewe bekend op die teaterverhoog as op ’n skerm is met rolle in Dinge van ’n Kind en Stiekyt, het met die aanvang van Wyfie se tweede seisoen as ene Maggie by die rolverdeling aangesluit. En ja, vertel sy, sy het reeds ’n “Facebook-tannie” gehad wat haar oor die vingers getik het oor haar karakter se verhouding met Shay (Beáta Bena Green).

“Dít gaan gebeur, en dis wat ek wil hê. Mense moet gesprekke hê oor hierdie goed, al baklei hulle binne hulself daaroor. As storievertellers is die grootste plig wat ons het om nie ons karakters te veroordeel nie; wanneer iemand iets van hulle te sê het, moet jy ook opstaan vir hulle. Of jy nou ’n booswig of ’n engel speel, jy moet kan regverdig hoekom hulle doen wat hulle doen. En hier gaan dit oor twee mense wat verlief raak op, en lief raak vir, mekaar.”

Cintaine Schutte, Wyfie
Sy is baie bly die rol het oor haar pad gekom, sê Cintaine Schutte oor haar Wyfie-karakter, Maggie. Foto: Verskaf

Paaie wat kruis

Maggie is ’n professor, en die nuwe departementshoof van politieke wetenskap by Eike. Boonop is sy vriendinne met Ragel (Therese Bam) wat in dieselfde departement werk én natuurlik ook Shay se ma. “Sy ontmoet heel toevallig vir Shay en soos wat die storie verloop, loop hulle al meer in mekaar vas en hulle begin met mekaar kontak maak, minwetend dat Ragel eintlik Shay se ma is. Dít is waar die intrige begin,” meen Cintaine, want Shay se verhouding met haar ma is reeds redelik power. “En dan bo-op dít knoop sy hierdie verhouding met een van Ragel se kollegas, en iemand ouer as sy, aan.”  

Wanneer Maggie en Shay mekaar ontmoet, het Maggie pas uit Duitsland teruggekeer waar sy vir 12 jaar in ’n verhouding met ’n man, Ruan, was. “Maggie het haarself belowe dat sy ’n nuwe hoofstuk gaan begin, nuwe wortels gaan skiet, gefokus gaan wees, ’n lewe bou en miskien enkellopend vir ’n ruk wees, want sy was vir 12 jaar in ’n vaste verhouding,” vertel Cintaine oor haar karakter se agtergrond.

“Maar soos die lewe maar is, het Shay haar voete onder haar uitgeslaan, en nou moet hulle saam die uitdagings en kritiek van die samelewing navigeer. Sy’s ’n intelligente vrou, sy weet wat mense gaan dink, maar ek dink hierdie keer is sy ’n bietjie selfsugtig in die sin dat sy nie meer omgee oor wat ander mense van haar dink of verwag nie.”

‘Release and relax’

Haar benadering tot die rol was omsigtig. “Ek het besluit dat ek nie wil hê dat dit moet gaan oor ’n intergenerasie-verhouding, of ’n gay verhouding, of dat Maggie amper 20 jaar ouer as Shay is nie. Ek wou hê dit moes draai om hoe sy verlief raak op Shay én hoe onverwags dit (die liefde) is,” verduidelik sy. “Dit gaan interessant wees om te sien wat die gehoor daarvan maak.”

Sy is dalk glad nie soos haar karakter nie, maar Cintaine se raakpunt met Maggie is die sagtheid wat Shay in haar ontlok. “Dít is iets wat ek as Cintaine ook het, ’n sagtheid. Dis ook my goue reël in die lewe om alles uit ’n ontspanne plek te doen, want dan kan jy enigiets regkry. En dít is wat Shay in Maggie ontlok het. Om al daai mure af te breek, sodat Maggie net kan wees.” 

Sy is baie bly die rol het oor haar pad gekom, sê sy later. “Aanvanklik het ek gedink dat my karakter net ’n klein storieboog sou hê, net in en uit die reeks sou wees, maar toe was dit vir my so cool dat hulle Maggie se rol groter geskryf het. 

“Ek het in daardie stadium al ’n bietjie Wyfie gekyk, en dit het na ’n lekker projek gelyk, maar ek wou myself ook uitdaag. Marcel Spaumer (hoofskrywer) en sy span het toe al ’n idee gehad van wat Maggie se storielyn sou wees, maar nie te ver in die toekoms in nie, en dít was ook ’n nuwe ervaring. Gewoonlik, as jy in ’n reeks speel, kry jy al die episodes se tekste voordat jy begin skiet, maar hier moes ek myself heeltemal oorgee aan ’n nuwe proses, want hulle het geskryf soos wat hulle geskiet het, blok vir blok. 

“Ek dink ek moes net relax en release in dié proses in,” sê sy oor hoe sy by al die nuwigheid aangepas het. “Dit is lekker om chronologies te skiet, maar wat ook gehelp het, is dat wanneer ons die tekste gekry het, het ek en Beáta dadelik met mekaar gepraat en ons storielyn uitgekarteer.”

Jissie, die Wyfie-stel is ’n goed-geoliede masjien en die skietproses is baie samewerkend. Jy kon op stel voel hoe baie almal oor die storie omgee. En natuurlik die aktrises wat die vier wyfies speel – hulle is fantasties.

Cintaine Schutte

Maar selfs binne dié werkswyse, moes sy as aktrise aanpas en nog meer “relax en release, want dinge kan ook op die vloer verander, want jy werk met drie verskillende regisseurs, elkeen met hul eie styl. So jy moet jou huiswerk doen en jou idees voorlê en vloer toe bring, maar jy moet ook oop wees en kan speel met wat die regisseur wil hê.” 

Cintaine Schutte, Wyfie
“Hulle skram nie weg van enigiets wat taboe is of moeilik is om oor te praat of te kyk nie. Dís vir my opwindend,” sê Cintaine oor Wyfie. Foto: Verskaf

Spansport

Meeste van haar tonele is teenoor Beáta en hulle het gou uitgevind dat hulle ’n soortgelyke werksmetodiek deel in terme van hoe hulle tonele en karakters uiteensit. “Dit was vir my baie lekker om met haar te werk. As sy af-dae gehad het, het ons gou ’n koffie gaan kry en gesels oor wat volgende in ons storielyn was en hoe ons dit wou benader. 

Oor die stel in die breë, deel Cintaine net lof. “Jissie, die Wyfie-stel is ’n goed-geoliede masjien en die skietproses is baie samewerkend. Jy kon op stel voel hoe baie almal oor die storie omgee. En natuurlik die aktrises wat die vier wyfies speel – hulle is fantasties.”

‘Wyfie’ se impak

Oor die impak wat Wyfie het in terme van hoe ons stories in Afrikaans vertel, deel Cintaine dat dit vir haar besonders lekker is dat daar nie gesensor word nie. “Hulle skram nie weg van enigiets wat taboe is of moeilik is om oor te praat of te kyk nie. Dís vir my opwindend,” sê sy.

Dis ook my goue reël in die lewe om alles uit ’n ontspanne plek te doen, want dan kan jy enigiets regkry.

Cintaine Schutte

“In die tyd wat ek Wyfie geskiet het, het ek ook vir die derdejaars by die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement klas gegee en dit was baie interessant om te hoor dat my studente Wyfie fuifkyk. En hoekom? Want hulle vind aanklank daarby! En dan is daar van my vriende wat 37 is en sommige van hulle trek by drie kinders en Sondag is hul heilige Wyfie-tyd. Mans moenie pla nie, kinders moet op die tablet speel, en dan binge hulle ’n paar episodes. Ek het ook vriende wat in hul vyftigs is wat nie verstaan hoekom hulle dit kyk nie, maar hulle kan nie ophou nie!” vertel sy laggend.

“Ek dink wat Marcel en sy span reggekry het – om die storie relevant en lewendig te hou – verdien nogal ’n pluimpie. Ek is baie bly ek was deel daarvan.”


Binge al 45 episodes van Wyfie S1 op Showmax, met nuwe episodes van S2 elke Dinsdag tot 7 Januarie 2025.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies