Menu terloops
In Onderhoude [3 Jul 2024]

Mienke Ehlers oor ‘Wyfie’: ‘Hygend, stout… en eerlik’


Die aktrise Mienke Ehlers, wat naam gemaak het in die rol van Dalena in ‘Dinge van ’n Kind’, vertel haar hoofrol in Showmax se Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, is iets waaroor sy nog altyd “gedroom en voor gewens het”.

Deur Amanda Tremeer-Young

Stroom 'Wyfie' nou

Mienke Ehlers oor ‘Wyfie’: ‘Hygend, stout… en eerlik’
Kyk lokprent

In Wyfie, speel Mienke Ehlers Mia, een van vier uiteenlopende eerstejaar-kamermaats in die Pantera-koshuis aan die fiktiewe Eike-universiteit. As Mia vertolk Ehlers, wat voorheen rolle as Lydia in Magda Louw en Dalena in Dinge van ’n Kind gehad het, haar eerste hoofrol, en daarmee saam is sy ook een van dié reeks se blinkste sterre met Huisgenoot wat haar “vuurwarm deurbraak” loof. 

Met die eerste seisoen van dié Afrikaanse universiteitsdrama wat volgende week ten einde loop voordat die tweede seisoen op 6 Augustus begin, het Amanda Tremeer met dié aktrise gesels.

Hoe beskou jy Wyfie se impak op die plaaslike TV-landskap?

“Dit is ’n reeks wat regtig voor sy tyd is, die tipe projek waaroor ek nog altyd gedroom en voor gewens het. Om Afrikaans se appelkar onderstebo te gooi en nie skaam te wees om dinge te sê en te wys presies soos wat dit is nie.

“Daar was nog nie iets wat so min skaam is soos Wyfie nie. Dit sê ’n ding soos dit is; dit wys ’n ding soos dit is. Dis hygend, dis stout, dis gevaarlik, dis so opwindend, maar die belangrikste van alles – dit is eerlik. Ek dink nie daar was al so iets in ons land (op plaaslike televisie) nie, en ek hoop dit gaan ongelooflik bevrydend wees vir mense om dit te kyk.” 

Vertel vir ons meer oor jou karakter, Mia? Vind jy aanklank by haar?

“Mia Meyer is ’n universiteitstudent. Sy is braaf; sy is roekeloos; sy maak my soms bang. Sy is iemand wat die lug uit ’n vertrek suig as sy daar inloop. Ek voel soms, in vergelyking met haar, te lig in die broek.  

Mienke Ehlers
Mienke Ehlers as Mia in Wyfie. Foto: Verskaf

“Mense wil na aan haar wees, maar dit is baie moeilik om haar te vertrou, want sy vertrou net haarself. Sy is ’n eiland en almal wil op haar eiland kom, maar daar is ’n klomp haaie wat om daai eiland swem, so dit is baie moeilik om deur te kom… Maar as jy naby kom, gaan sy baie lojaal en baie liefdevol teenoor jou optree. 

“My proses in toneelspel was nog altyd om te begin by hoe ver weg ek van ’n karakter is, eerder as om te begin by hoe naby ek aan haar is. Dís net om myself en my hart te beskerm. As ’n mens te veel by ’n karakter aanklank vind, kan jy baie maklik jouself in haar emosies verloor. Ek is nie ’n groot aanhanger van method acting nie, so ek het begin by wat anders tussen ons is. 

“Tot dusver was dit regtig ’n groot avontuur om deur Mia my universiteitslewe te kon herleef; sy het my laat verlang na jonk en impulsief wees.” 

Word jou eie universiteitservaring op Wyfie gereflekteer?

“Ek het die afgelope tyd baie gedink aan my universiteitsjare. Ek het op Stellenbosch drama studeer vir drie jaar en ek is daarna Afda(-rolprentskool) toe vir my honneursgraad in toneelspel.

“Ek was vir ’n jaar in Erica-vrouekoshuis op Stellenbosch. Ek was mal oor die koshuis en om ’n Matie te wees. Ek was baie meer trots as wat Mia is. Sy is nogal ’n sluiper wat nie regtig enigiets voel vir instellings of reëls of groot, trotse projekte om van deel te wees nie. Ek is nou weer baie stout daarvoor! Ek het, byvoorbeeld, netbal vir Maties gespeel. Ek was mal oor skakels en mense leer ken; ek is ’n sosiale vlinder.

“Ek het nou die dag iemand hoor sê dat ’n student nie ’n mens is nie, eerder ’n toestand. Dít is vir my so snaaks, want daar is so baie van my universiteitsjare wat opduik wat ’n mens rêrig eerder nie wil onthou nie, maar dit is ook so ’n vrye seisoen en dit was die mooiste ding om weer daai dele van my lewe te kan ondersoek.” 

Dis altyd ongelooflik om ’n vriendskap as ’n karakter te ondersoek en dan terselfdertyd dit ook as jouself te doen. So ek is baie lief vir die karakters, maar ek is baie meer lief vir die akteurs. Ek ervaar dit as ons maak regtig die spasie oop en positief vir mekaar.

Mienke Ehlers

Hoe was jou tyd op stel saam met die ander hoofaktrises: Beáta Bena Green, Celeste Loots and Kirsten Raath? 

“Die vreemde ding is dat ons mekaar al voor Wyfie geken het. Ek en Celeste ken mekaar van laerskool, maar het kontak op hoërskool verloor. Ek en Beáta het saam geswot. En ek is al lankal ’n aanhanger van Kristen se werk.

“Ek het nou die dag vir die meisies gesê ek dink een van my gunsteling-emosies in die lewe is om te sien hoe vroue mekaar toelaat om ’n spasie te vul wat jy weet die ander een se spasie is. En dit is absoluut duidelik by ons vier. Ons is groot persoonlikhede, elkeen enig in sy soort, maar ons laat mekaar regtig toe om die spasies te vul. Ons speel spansport op stel, ons gooi die bal, ons vang die bal, ons help verdedig. 

“Dis altyd ongelooflik om ’n vriendskap as ’n karakter te ondersoek en dan terselfdertyd dit ook as jouself te doen. So ek is baie lief vir die karakters, maar ek is baie meer lief vir die akteurs. Ek ervaar dit as ons maak regtig die spasie oop en positief vir mekaar. 

“As jy jonk is en nuwe mense ontmoet, vertrou jy hulle met jou hele hart. Ek het dit gemis, en daarom het ek ’n bietjie daarvan by Mia gesteel, want dit is ‘n ongelooflike ervaring om te hê: waar jy voel jy hoort in die groep en jy ervaar liefde wat net oorweldigend is.”

Waarom wou jy ’n akteur word?

“Ek het nog altyd geweet ek wil ’n akteur word. Ek het in ’n huis grootgeword waar my ouers vir my en my sussie rêrig enige gesprek by die grootmenstafel oopgemaak het. En ek het baie vroeg begin redeneer en gepraat oor wêreldkwessies en argumente gehad en ons het sommer debat by ons huisvergaderings op Sondae gehad.

“So ek dink die feit dat my ouers vir my die wêreld baie klein gemaak het deur vir my te hoor en te sien, het rêrig vir my in myself laat glo wat toneelspel aanbetref. Want wesenlik is toneelspel vir my jy wat jou emosionele intelligensie heeldag beoefen en jy probeer net scenarios met emosies uitbeeld. Ek is toegelaat om dit in my persoonlike lewe te doen en dit was iets wat ek geweet het ek vir ewig wou doen. 

“My pad daarheen was ’n bietije langer. Ek het alles behalwe toneelspel vir die eerste vyf jaar van my loopbaan gedoen. Soos elke goeie aktrise was ek ’n kelnerin, ’n persoonlike afrigter, kosstilis… Ek het lank agter die skerms in die kostuumdepartement en die kunsdepartement gewerk. So ek was redelik georiënteerd met ’n filmstel voordat ek as akteur opgedaag het en ek dink dít het my baie geleer oor film-etiket en dat jy net ’n spanspeler in die proses is. Ek is baie dankbaar vir daardie ervaring.

“Ek het my eerste groot rol drie jaar terug op ’n kykNET-reeks (in Dinge van ’n Kind) gekry, so ek is nog nat agter die ore, nog baie om te leer, maar regtig ongelooflik dankbaar om hier te wees.”

Internasionale erkenning

Wyfie is by die Global Production-toekennings, aangebied deur Screen International, in die kategorie vir uitstaande gebruik van stelle benoem. Dit het meegeding teen Troll en Ragnarok, twee Netflix-produksies wat in Noorweë geskiet is.


Die tweede aflewering van Wyfie, wat uit 45 episodes bestaan, sal vanaf 6 Augustus 2024 op Showmax beskikbaar wees om te stroom.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om kortfilms en dokkies die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies