Wyfie volg vier universiteitsvriendinne wat in die Pantera-koshuis by die denkbeeldige Eike Universiteit woon. Een van hulle is Shay, ʼn dramastudent, wat deur Beáta Bena Green vertol word. Die akteur Evan Hengst speel Hanco, Amanda (Celeste Loots) se broer. Dié karakter knoop in die eerste seisoen van Wyfie ʼn seksuele verhouding met Mia (Mienke Ehlers) aan.
Beáta Bena Green: ‘Ongemak deel van menslike ervaring’
Beáta het gesels oor haar aanslag tot intimiteit op skerm en die noodsaaklikheid van grense op stel:
Vertel ons van die ervaring om op Wyfie te werk; spesifiek oor die feit dat jou karakter heelparty intieme tonele het. Is dit maar moeiliker as wat mense besef om hierdie tonele te skiet?
“Jy kan jou indink dat dit baie sensitief en selfs omstrede kan wees om enige vorm van intimiteit te vertolk; maar ek is so dankbaar oor my ervaring op die Wyfie-stel. Wyfie is die veiligste stel waarop ek al, van die begin van my loopbaan ses jaar gelede, gewerk het.
“Die omgewing is so ondersteunend en nooi mens uit om kreatief te wees. Die intieme tonele is weldeurdag, gemotiveerd en word versigtig aangepas om die grense van elke speler in ag te neem. Ons het die opsie om enige tyd ‘nee’ te sê en ons word genooi om die tonele te workshop saam met ons mede-spelers, die regisseurs en die intimiteitskoördineerders.
“Soos met enige ander toneel, verg intieme tonele huiswerk en ’n gesonde hoeveelheid voorbereiding.
“Wyfie se stelle word met baie respek bestuur en die gemak van nie net die rolverdeling nie, maar van almal op stel wat daaraan blootgestel word, word in ag geneem.
“Ons het gespesialiseerde intimiteits-kontrakte wat aangepas is volgens elke speler se behoeftes en grense. Hierdie kontrakte word gereeld hersien en dit ondersteun ons sterk professionele verhouding met die intimiteitskoördineerders, wat seker maak dat almal wat betrokke is veilig, gemaklik en bemagtig voel.”
Hoe berei jy voor vir intieme tonele en hoe beïnvloed dit jou persoonlik om daardie tipe tonele te doen? Vertel ook van die rol wat die intimiteitskoördineerder speel in die proses.
“Soos met enige toneel doen ek baie voorbereiding. Dit sluit byvoorbeeld teks-analise in. ʼn Groot deel van my voorbereiding vir intieme tonele sluit in om my gedagtes oor die relevansie van die intimiteit tot die storielyn en my grense, met die intimiteitskoördineerder en regisseur te bespreek. Ek het streng grense oor wat ek bereid is om te doen en ek het nog altyd net respek ervaar in dié verband.
Wyfie is die veiligste stel waarop ek al, van die begin van my loopbaan ses jaar gelede, gewerk het.
Beáta Bena Green
“Die regisseur en intimiteitskoördineerder, Èmil Haarhoff, sal deur dieselfde proses werk met al die betrokke akteurs. ʼn Deel van sy rol is om die mees realistiese verteenwoordiging van intimiteit te gee, terwyl almal wat betrokke is, veilig bly. Hul rol is onmisbaar. Hy reik so ʼn paar dae voor ʼn intieme toneel na die akteurs uit en praat daardeur. Hy berei ons voor op die dag van die shoot met opwarming en deur die choreografie deur te praat en hy begelei ons deur ’n toneel en maak die hele tyd seker die spelers bly gemaklik.
“Hy doen ook afwarmingsoefeninge sodat die spelers hulle kan losmaak van die karakters en dan check hy so paar dae later in om seker te maak almal is nog okei.”
’n Intimiteitkoördineerder is dus onmisbaar op stel?
“Absoluut. Ek wens hulle was heelwat vroeër meer prominent in die bedryf. Dit sou baie akteurs en lede van die tegniese span baie trauma gespaar het.
“Daar is verskeie vorme van skerm-intimiteit, soos om vel te wys, te soen, drukkies te gee en selfs gesimuleerde mishandeling en verkragting weer te gee. En dan is daar ook episodes met dwelmmisbruik en kwessies soos geestesgesondheid waarvoor almal ondersteuning nodig het.”
…Dis nie noodwendig dat die uitbeelding van intimiteit ’n belangrike deel van die narratief is nie, maar eerder dat die uitbeelding van eerlike en soms lelike waarhede, ʼn belangrike deel is van die narratief.
Beáta Bena Green
Wyfie verskuif die grense wanneer dit kom by hoe seks in Afrikaanse televisie uitgebeeld word. Hoekom dink jy is die uitbeelding van intimiteit ’n belangrike deel van die Wyfie-narratief?
“Wyfie se styl is upfront en eerlik. Dit is nie skaam op enige vlak nie. Dit ontgin onderwerpe wat mense ongemaklik maak, met die doel om kykers te laat erken dat ongemaklike dinge deel is van die menslike ervaring. Dit wys huishoudelike geweld, dwelmmisbruik en prostitusieop ’n rou manier.
“En dis nie noodwendig dat die uitbeelding van intimiteit ’n belangrike deel van die narratief is nie, maar eerder dat die uitbeelding van eerlike en soms lelike waarhede, ʼn belangrike deel is van die narratief.”
Evan Hengst: ‘ ʼn Dans tussen akteurs’
Evan vertel oor hoe hy intieme tonele aanpak:
Wyfie is skroomloos in die manier waarop seks en seksualiteit uitgebeeld word. Waarom dink jy dit is belangrik?
“Ek dink intimiteit op die skerm is nie meer iets waarvoor ons moet wegskram nie. Mense is geneig om net op die ‘seks’ te fokus, maar mis uit op die bedoeling daaragter. Dit kan gebruik word om ’n kant van die menslike ervaring ten toon te stel oor die intieme verbindings wat ons begrip van onsself en ander verdiep.”
Is dit moeilik of kompleks om intieme tonele vir die kamera uit te beeld, of is dit maar net ‘deel van die werk’, soos mense soms aanneem?
“Dis altyd op een of ander manier ’n uitdaging. Ons is almal mense, en sekere dae voel ons goed oor onsself en ons liggame, en party dae nie. Maar jy vertrou in die proses en die span om jou om jou deur te dra.
“Een ding wat altyd ’n uitdaging is, is mense se opinies oor intieme tonele. Daar is soveel beplanning en repetisie wat in ’n scene ingaan, en omdat dit nie iets is wat wyd bespreek word nie, kan dit dikwels lei tot gevoelens van skaamte en objektivering.
“Ek het so baie oor die jare geleer van al die verskillende lae wat jy na ʼn vertolking kan bring dat ek dit geniet. Dis ’n dans tussen twee kunstenaars.”
Watter rol speel Èmil Haarhof, die intimiteitskoördineerder op stel, om die proses te vergemaklik?
“Èmil was fantasties om mee te werk. Sy entoesiasme en begrip van die storie het dit maklik gemaak om te bespreek wat die karakters se belange is.
Daar is soveel beplanning en repetisie wat in ’n scene ingaan, en omdat dit nie iets is wat wyd bespreek word nie, kan dit dikwels lei tot gevoelens van skaamte en objektivering.
Evan Hengst
“Die eerste stap is om vertroue en veiligheid tussen twee akteurs te vestig deur verskeie oefeninge te doen wat deur die intimiteitskoördineerder gelei word. Dan gaan jy deur die basiese blocking van die scene. Daarna kan jy kleiner details begin inverf, soos om natuurlike elemente of mannerisms met natuurelemente in te bring. Byvoorbeeld, hoe sou dit lyk as ʼn sagter, meer gereserveerde karakter ’n stroom beliggaam en ’n ander karakter, met ʼn wilde hart, die oseaan beliggaam? Hoe sou ’n intieme oomblik tussen hulle lyk?”
Waarom is dit noodsaaklik dat iemand soos Èmil op stel moet wees?
“Intimiteitskoördineerders is noodsaaklik vir enige storie wat intimiteit behels. Hulle rol is nie net om akteurs te help nie, maar ook die crew sodat almal veilig, bewus en gemaklik op stel kan voel. Veral op iets soos Wyfie, wat ʼn langtermynprojek is, is dit belangrik om ’n derde party te hê wat spesialiseer in daardie veld. Dit vat dadelik die druk van almal af en dra by tot ’n positiewe werkservaring.
“Gelukkig het Safe Sets, die intimiteitskoördinerings-maatskappy, oor die laaste paar jaar ʼn uiters veilige en respekvolle werkkultuur op stelle gekweek.”