Die intieme tonele wat hulle op televisie en in flieks sien, is steeds baie mense se grootste (en eerste) leerskool as dit by seks kom, sê die bekroonde regisseur en vervaardiger Sara Blecher, een van die land se mees vooraanstaande vroue-regisseurs.
Sy doen boonop sedert 2019 baanbrekerswerk in Suid-Afrika, en internasionaal, as intimiteitskoördineerder in die televisie- en rolprentbedryf. In 2020 het Sara Safe Sets Intimacy Coordinators op die been gebring om intieme tonele in die bedryf te koördineer, opleiding te doen en ʼn veilige ruimte vir almal op stel te help skep wanneer dit by die uitbeelding van intieme tonele op kamera kom. Safe Sets se intimiteitskoördineerders werk wêreldwyd op televisie-, fliek- en teaterprojekte en het kantore in Johannesburg en Londen.
Buiten vir Sara se werk as regisseur, wat flieks soos Dis ek, Anna en Otelo Burning insluit, het Sara al as intimiteitskoördineerder op projekte vir stromingsnetwerke soos Netflix, Showmax en HBO gewerk en sy het onder meer ook die intimiteitskoördinering vir die fliek Die Dekonstruksie van Retta Blom gedoen, wat by vanjaar se Silwerskermfees sal debuteer.
Sy en haar span doen ook wêreldwyd opleiding en sertifisering van intimiteitskoördineerders.
‘Wyfie‘ Een van Safe Sets se intimiteitskoördineerders is Èmil Haarhoff, wat betrokke is by die die grensverskuiwende Showmax-universiteitsdrama Wyfie. Dié reeks beeld ʼn diversiteit van intieme ervarings realisties uit en akteurs soos Beáte Bena Green, wat die rol van Shay vertolk, sê dis juis danksy die intimiteitskoördinering op stel wat dit die veiligste stel en werksomgewing is wat sy in haar loopbaan van die afgelope ses jaar ervaar. Die tweede seisoen van Wyfie begin op 6 Augustus op Showmax. |
Egte intimiteit op die skerm
“Vir my is die mees opwindende aspek van intieme tonele op die skerm die feit dat mense sodoende aan intimiteit blootgestel word. En as jy nooit régte, egte, stories gaan vertel oor wat in die slaapkamer gebeur nie, wat bly oor?
Tonele waarin intimiteit met egtheid uitgebeeld word om belangrike stories te vertel, skep ʼn veiliger ruimte vir almal én ’n platform vir kreatiwiteit. Intieme tonele moet seks vermenslik en wys dit kan beautiful wees.
Sara Blecher
“Pornografie is dikwels is die enigste ruimte waarbinne mense seks op die skerm sien. Dit is meermale geweldadig en vroue word dikwels as prostitute uitgebeeld. Dit is geweldig gevaarlik om as samelewing toe te laat dat jongmense glo pornografie ís seks, eerder as om hulle bloot te stel aan realistiese, dalk selfs ongemaklike, seksuele ontmoetings.
“In ’n land waar seksuele geweld en die objektivering van vroue so ’n kommerwekkende probleem is, is pornografie presies die teenoorgestelde van wat intimiteit op die skerm behoort uit te beeld.
“Die ander manier waarop seks uitgebeeld word, is die geïdealiseerde prentjie van perfeksie, waar die geliefdes die sonsondergang binnestap. Maar dis ook nie die realiteit nie. Tonele waarin intimiteit met egtheid uitgebeeld word om belangrike stories te vertel, skep ʼn veiliger ruimte vir almal én ’n platform vir kreatiwiteit. Intieme tonele moet seks vermenslik en wys dit kan beautiful wees.”
Eintlik ʼn ‘no brainer’
Intimiteitskoördinering is volgens Sara die nuutste beroep in die vermaaklikheidsbedryf, al is dit iets wat mense dink al lankal bestaan.
“Dis eintlik ʼn no brainer,” sê sy. “Maar die realiteit is dat akteurs en produksiespanne voorheen gedink het hulle moet maar net doen wat van hulle gevra word. Hulle het nie geweet hulle mág nee sê vir uitbeeldings van intimiteit op kamera wat hulle ongemaklik gemaak het nie,” sê Sara.
“En tog het veral aktrises van die ouer garde lankal reeds hul eie vorm van intimiteitskoördinering ontwikkel: ʼn stel grense wat kwessies soos toestemming hanteer het oor wat hulle bereid was om te doen en wat nie. Ook metodes om hul persoonlike intieme lewe van hul karakters se intieme lewe te skei, omdat dit só ʼn belangrike aspek is daarvan om sulke tonele goed te kan doen.
“Mense het maniere gevind om hulself te beskerm en daarom vind ons deesdae dat die ouer akteurs jonger spelers dikwels help om hul pad deur intieme tonele te vind. Daar het egter wêreldwyd ʼn groeiende behoefte ontstaan aan vaste protokol vir intimiteit op stel en van Nieu-Seeland tot in die Verenigde Koninkryk is daar begin om prosesse te ontwikkel om intieme tonele beter te maak en om akteurs en lede van die filmspan te beskerm.”
In Suid-Afrika, en wêreldwyd, kan intimiteitskoördineerders op stel alternatiewe bied vir hoe seks uitgebeeld word. Dit kan mooi wees. Maar ook real… As intimiteitskoördineerders kan ons die ruimte help skep vir ʼn realistiese, meer positiewe uitbeelding van iets wat so privaat is
Sara Blecher
Baanbrekerswerk
Suid-Afrikaanse intimiteitskoördineerders is aan die voorpunt van ontwikkelings in dié veld, sê Sara.
“Ons moet multikulturaliteit in ag neem; ʼn diversiteit van stories vertel en ons werk in ʼn samelewing waarin daar soveel seksuele geweld en objektivering van vroue is, dat ons slim te werk moet gaan met intimiteit in ons produksies.
“Jy moet aanneem dat amper almal waarmee jy op stel werk al met die een of ander trauma te doen gehad het en dit is nie noodwendig elders ter wêreld die geval nie. Ons werk hier met geweldige kompleksiteit.”
“In Suid-Afrika, en wêreldwyd, kan intimiteitskoördineerders op stel alternatiewe bied vir hoe seks uitgebeeld word. Dit kan mooi wees. Maar ook real.
“Ons help ook om daardie ruimte te ontsluit waarbinne seks ʼn plek van genot word. Dit is byvoorbeeld raar om op-skerm-uitbeeldings te sien van vroue se begeertes en behoeftes. Maar wanneer jy werk met ʼn draaiboek wat deur vroue geskryf is en waarvan die regie deur vroue gedoen is, wil die akteurs dikwels weet waarom hulle nie meer sulke werk doen nie. Waarom is dít nie wat altyd op die skerm uitgebeeld word nie?”
“As intimiteitskoördineerders kan ons dus die ruimte help skep vir ʼn realistiese, meer positiewe uitbeelding van iets wat so privaat is,” sê Sara.
Intimiteitskoördineerders doen dít deur onder meer tonele met intimiteit, naaktheid en gesimuleerde seks vir film en televisie te choreografeer en te blok; met die kostuumafdelings te werk om kledingstukke te kies waarin akteurs veilig en gemaklik voel wanneer hulle intieme tonele skiet; deur komplekse tonele te fasiliteer deur praktiese leiding te bied; deur gesprekke met alle betrokkenes te voer en om grense vas te stel van wat toelaatbaar is vir ʼn akteur of nie.
Hulle dien ook as bemiddelaars en spreekbuise vir die akteurs en tegniese spanne en help om probleme of moeilike vrae op stel uit te pluis.
Soos om uit ʼn vliegtuig te spring
Sara meen initimiteitskoördinering is juis so ʼn interessante veld, omdat dit baie ooreenkomste met waaghals-koördinering (stunt coordination) toon.
“Dit maak gevaarlike tonele veiliger en laat iets wat nié eg is nie, eg lyk,” verduidelik sy. “Jy moet die akteurs laat veilig voel om deur hul spel komplekse stories uit te beeld.”
As regisseur, sal nie eers Sara weer sonder ʼn intimiteitskoördineerder enige intieme tonele aanpak nie, sê sy.
“Ek is as regisseur byvoorbeeld nie super-geïnteresseerd in waaghals-toertjies nie, maar ek stel waaghals-koördineerders aan om my te help om seker te maak sulke tonele werk die beste.
“Een van ons verantwoordelikhede as intimiteitskoördineerders, is opvoeding dat seks op skerm nie regte seks is nie. Dit is soos om te kyk hoe iemand op skerm in ʼn vuur spring. Dit word gechoreografeer om te lyk soos seks, maar niemand behoort in die proses seer te kry nie.
“Intimiteitskoördinering werk anders in elke situasie. In sommige gevalle weet die regisseur presies wat hy of sy wil doen, maar dikwels het die regisseur iemand anders nodig om daardie veilige ruimte te hou (to hold the space). Ander weet intieme tonele is nie hul sterkpunt nie en dit is waar ons inkom,” sê sy.
“Die realiteit is dat ʼn regisseur vinnig van die een toneel na die volgende moet aanbeweeg. Jy ís dalk besorg oor jou akteurs, maar jy het gewoon nie die kapasiteit om regtig intens dáár te wees vir hulle na ʼn intieme toneel nie. Dan het jy ʼn derde party nodig om jou akteurs te help.”
Sy vertel: “Ek het al akteurs gehad wat na ʼn intieme toneel letterlik nie kon beweeg nie. Wat, ná ʼn traumatiese toneel, na ʼn plek toe gegaan het waarvandaan hulle moet terugkom. Ons noem dit ‘de-roling’. Dit móét aandag kry na ʼn intieme toneel, want die akteur moet letterlik sy of haar liggaam terugneem van die karakter af, sodat dit ʼn gespeelde ervaring word en nie iets wat deur jou lyf geëien word as iets wat met jou persoonlik gebeur het nie.”
Belangrik vir almal Sara sê daar is ʼn wanpersepsie dat intieme tonele op kamera makliker is vir mans as vir vroue. “Dikwels is daar geen begrip vir die impak op manlike akteurs se persoonlike lewe nie. Of vir die feit dat ʼn gewelddadige seksuele toneel vir hulle traumaties is nie. Daar word so half van hulle verwag om dit maar net te doen en aan te gaan. Maar mans geniet ook nie hierdie tonele nie – niemand kan nie. Dit maak jou baie kwesbaar as akteur. “Die behoefte aan intimiteitskoördinering op stel is soms amper groter vir mans as vir vroue. Daar word nie van vroue verwag om mal te wees oor al hierdie tonele nie, maar mense vergeet mans stel hul liggame net soveel bloot soos hul vroulike kollegas,” voeg sy by. “Daar is so ʼn diversiteit van stories en mense en seksuele ervarings, dat daar ʼn behoefte daaraan is om die hele spektrum te verteenwoordig, ook deur middel van diegene wat ons beroep beoefen.” |
Die ‘crew’ kan ook kies
Lede van die tegniese spanne bly nie onaangeraak bly deur intieme tonele nie en hier speel intimiteitskoördinering ook ʼn belangrike rol.
“Ons word dikwels aangestel om in die eerste plek werkswinkels oor seksuele teistering aan te bied; om met almal op stel te gesels oor wat aanvaarbaar is as dit by seksuele inhoud kom, en wat nie. Ook om te praat oor die feit dat dit nie regte seks is nie.
“Maar onthou dat iemand soos die regisseur van fotografie/ kinematograaf niks buite die lens sien nie. Hy moet vir drie uur lank sien hoe ʼn verkragtingstoneel realisties voor hom afspeel deur die oog van die lens. Dis nie net die twee minute wat jy uiteindelik op die skerm sien nie en dit kan dus baie traumaties wees.”
“Die effek op die lede van die tegniese span is enorm en daarom gee ons enigiemand op stel altyd die opsie om nié daar te wees as ons ʼn intieme toneel skiet nie. Mense word ten volle ingelig oor wat wanneer geskiet word. Niemand kan gedwing word om dan op stel te wees nie. Mense kan stilweg in hul spanne met iemand anders uitruil – daar word nie ʼn ophef van gemaak nie. Dit is egter moeiliker as jou rol op stel onvervangbaar is.”
Meer intieme tonele
Daar is die afgelope paar jaar toenemend druk van stromingskanale om meer naaktheid te wys op skerm en daar is dus veel meer intieme tonele as tevore. Sara is egter bekommerd daaroor dat heelparty van dié tonele daar is om kykers te prikkel, eerder as om regtig sterk stories te vertel.
Hoewel sy nie as intimiteitskoördinering die mag het om te sê “nee” vir die tipe projekte wat uitsaaiers vervaardig nie, kan Sara steeds verseker dat almal op stel veilig voel.
Die intimiteitskoördinering waarvoor ek lief is, is dié tonele wat bydra tot die storievertelling. En daar ís sulke projekte in Afrikaans, maar ook in die res van die Suid-Afrikaanse bedryf.
Sara Blecher
“Dis nie die tipe intimiteitskoördinering wat ek geniet nie, maar dit bly nodig. Sonder ʼn koördineerder op só ʼn stel, los jy daai akteurs en tegniese spanne op ʼn baie kwesbare plek, veral in ʼn konserwatiewe samelewing.
“Mense gaan huis toe na huishoudelike geweld, of moet aan geliefdes verduidelik wat hulle gedoen het. Wanneer ek wel op sulke projekte werk, is dit my verantwoordelikheid om mense te beskerm en seker te maak daar is ten volle instemming en dat almal ten volle ingelig word.”
Sy meen die stromingskanale se groter aanvraag na hierdie inhoud het daartoe aanleiding gegee dat tradisionele uitsaaiers onder die druk swig om seks vir seks se onthalwe te wys op televisie.
“Hulle moet natuurlik ouderdomsbeperkings op daai programme plaas, maar op die ou einde kan enigiemand dit tog maar kyk. Daar is dikwels baie naaktheid en dus baie hoë kykerstalle. Dit maak dit nog meer belangrik om terug te stoot en te sê daar behoort nie bloot seks op televisie te wees om te prikkel nie. Dit móét belangrike stories vertel,” benadruk sy.
“Die intimiteitskoördinering waarvoor ek lief is, is dié tonele wat bydra tot die storievertelling. En daar ís sulke projekte in Afrikaans, maar ook in die res van die Suid-Afrikaanse bedryf.”
Maak die wêreld beter
Intimiteitskoördineerders kan nie onaangeraak bly deur hul werk nie, sê Sara.
“Die impak op ons menslikheid is enorm en daarom is ons besig om prosesse vir selfversorging te ontwikkel. Op stel kom praat mense dikwels met ons oor hard core goed wat in hul persoonlike lewens gebeur het. Maar al is ons opgelei in geestelike gesondheidsnoodhulp, is ons nie sielkundiges nie. Jy bestee dikwels die hele dag om mense emosioneel vas te hou, so die werk kan emosioneel dreinerend wees.”
Maar vir Sara, wat ook die stigter en voormalige voorsitter van die vooraanstaande organisasie vir die ervarings en kwellings van vroue op stel, Sisters Working in Film (SWIFT), was, is die dryfkrag om bewusmaking te skep deel van haar DNS, hoe moeilik dit ook al mag wees.
“Dis vir my belangrik want ek het dogters. Ek het kinders. En ek wil vir hulle ʼn beter wêreld nalaat en dinge so bietjie beter maak. Dit is my verantwoordelikheid om te probeer, al weet ek dis nie altyd moontlik nie. Dit is wat my laat méns voel.”
Besoek Safe Sets by www.ssintimacycoordinators.com